MY VREDE GEE EK AAN JULLE

MY VREDE GEE EK AAN JULLE

Sakkie Parsons

Ek het ‘n gedagte uit die Woord geskryf met die Naam “Kom ons leef wat ons glo,” wat ek ook aan jou sal stuur as jy dit wil lees.
Eintlik, na aanleiding van my gesprek met Frances, soos wat ek hom/haar sal noem om die persoon anoniem te hou, behoort jy daardie gedagte uit die Woord eers te gelees het om die gesprek tussen ons in volle perspektief te sien.

het die gedagte uit die Woord gelees en toe aan my geskryf wat ek graag met jou deel:

“’n Mens kan nie leef wat jy glo as die lewe die een vuishou na die ander nou al vir 59 jaar lank uitdeel nie – dit is ‘n mite.”

Ek antwoord toe vir Frances as volg:

Goeiedag Frances,
Weet jy ek dink soms moet ‘n mens maar net ‘n kopskuif maak.

Ek moes al in my lewe, uit ‘n menslike oogpunt gesien, ‘n paar baie groot tragedies trotseer en ek dra nog aan sommige van hulle,  maar ek het iets wat baie miljoenêrs en andere nie het nie –
Ek het in my hart die vrede en vreugde van ons Here en dit maak die lewe ‘n fees.
Ek is nie ryk nie.
Ek is ‘n pensionaris wat fisies blind is en het ‘n vrou gehad wat vir baie jare verlam in ‘n Tehuis gelê het na haar beroerte en moes al met baie ander geweldige probleme worstel maar Jesus het gesê:

JOH 16:33 “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Omdat ek dit met my hele hart glo en myne gemaak het, het ek ook my Jesus se wonderlike vrede wat Hy vir almal wat Hom aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker, gee. 
Ons moet dit wat Hy aste ware na ons uithou net by Hom neem en dit ons eie maak:

JOH 14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”

Toe antwoord Frances my as volg:

“Hallo Sakkie
Jy het iets wat ek ook nie het nie.
Ek glo met my hele hart in die God van die Bybel, maar ek het geen vreugde in my hart nie . Ek en jy glo albei dat Jesus Christus vir ons redding bewerkstellig het , vir my is dit ‘n onbetwisbare feit , maar ek ervaar nie die vrede en vreugde waarvan jy en die Bybel getuig nie
Ek smag nie na baie geld nie , net na dit waarvan jy praat – Hoekom het party mense dit en ander nie ?? Ek worstel al baie jare hiermee en wonder ek soms of dit nie maar net ‘n storie, ‘n mite is nie
Groete”

My antwoord aan Frances:

Frances, net om vir jou te wys hoe absoluut leuenagtig die “dat dit ‘n mite is” pyle is wat satan op jou gedagtes afskiet en wat jy met die skild van die geloof in die Naam van Jesus Christus moet afweer en uitblus:

EFE 6:16  Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof.  Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.

Kom ek wys jou net wat ‘n leuenagtige bose stelling “dat dit ‘n mite is, of “kan wees” dit nou werklik is:

Die satan wil jou nou laat wonder of hierdie Jesus Christus in wie jy getuig dat jy glo, eintlik ‘n mite verkondig. 
Met ander woorde satan wil jou nou laat glo en sê dat Jesus Christus ‘n leuenaar is. 
Met ander woorde, satan wil nou dat jy teen God laster. 
Want Jesus Christus is volgens die Woord ook God.

Daar staan dit en jyself het gelees wat Jesus Christus self van Homself vir jou en my sê:

JOH 16:33 “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld reeds oorwin.”

JOH 14:27 Ek laat vir julle vrede na;  my vrede deel Ek met julle.  Ek gee nie soos die wêreld gee nie.  Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie.

Kom ek praat nou vir ‘n oomblik soos ‘n dwaas wat heeltemal sonder gesonde verstand is en ek sê vergeet vir ‘n oomblik wat Jesus Christus – wie volgens die Woord God is wat mens geword het alles oor Sy vrede wat Hy ons gee – gesê het.
Kom ons bepaal ons nou net by gewone mense uit die Woord se optrede, omdat jy en ek gewone mense is en kom ons kyk hoe het daardie gewone mense opgetree omdat hulle vol was van hierdie vrede van Jesus Christus.  Hierdie vrede waaroor satan wil hê dat jy moet wonder of dit nie ‘n mite is nie en onthou ek kon ook nog ander mense as voorbeelde vir jou voorgehou het.

HAN 7:57-60  

57 Toe het hulle hulle ore toegedruk en hom doodgeskreeu.  Soos een man het hulle op hom (dit is Stefanus) afgestorm.

7:58  Hulle het hom uit die stad gesleep en hom met klippe doodgegooi.  Die amptelike getuies het hulle klere uitgetrek en by die voete van ‘n jongman met die naam Saulus neergesit.
59 Terwyl hulle besig was om Stefanus te stenig, het hy (met die vrede van Jesus Christus in sy hart) gebid:  “Here Jesus, ontvang my gees”
60 Hy het op sy knieë neergesak en hard uitgeroep (terwyl die klippe teen sy lyf en kop klap):  “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie!”  Met hierdie woorde het hy gesterf.

Dit was waartoe Stéfanus in staat gewees het, omdat hy vol was van die vrede wat satan nou in jou hart as ‘n mite wil uitmaak.

Ek deel met jou nog een voorbeeld, naamlik my groot held Paulus.
Onthou jy wie het die mense se klere opgepas terwyl hulle Stéfanus stenig.
Ons lees:

HAN 7:58  Hulle het hom uit die stad gesleep en hom met klippe doodgegooi.  Die amptelike getuies het hulle klere uitgetrek en by die voete van ‘n jongman met die naam Saulus neergesit.

Hierdie Saulus van Tarsus was ‘n Fariseër wat besig was om groot opgang in sy tyd te maak.
Hy skryf by geleentheid oor hierdie tyd in sy lewe:

GAL 1:13  Julle het mos gehoor hoe ek my vroeër, toe ek nog die Joodse godsdiens aangehang het, gedra het, dat ek God se kerk fanaties vervolg en verwoesting gesaai het.
GAL 1:14  In die uitlewing van die Joodse goedsdiens het ek in my ouderdomsgroep bo baie van my volksgenote uitgestaan.  Ek het alles in my vermoë gedoen om die tradisies van my voorgeslagte te hou.

‘n Mens sou Saulus van Tarsus, vanweë al die moorde wat hy gehelp pleeg het, selfs in die kategorie van ‘n massamoordenaar kon plaas.  Maar Saulus van Tarsus ontmoet Jesus Christus en neem Hom aan as sy Verlosser en Saligmaker en maak die vrede waarvan Jesus Christus praat, sy eie en dan lees ons van Paulus van Christus omdat hy Jesus Christus se vrede in sy lewe het, die volgende – wat jy (soos ook Stéfanus) net met daardie goddelike vrede kan verduur, omdat daardie goddelike vrede gróter as daardie omstandighede is.
Destyds het mense geloop en spog oor watter goeie Christene hulle is en wat hulle alles moes opgee en verduur.
Dit doen jy natuurlik ook net as jy jou ore aan satan uitleen.
Paulus begin deur te sê, dat hy nou ook vir ‘n oomblik soos daardie mense, soos ‘n dwaas, gaan praat en dan begin hy wat mense destyds as voortreflikhede in ‘n mens se lewe sou beskou, in sy eie lewe noem:

2KOR 11:22  Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die saad  van Abraham? Ek ook.

Wat nou volg, kan jy net verduur en blymoedig mee saamlewe as jy die vrede waarvan Jesus Christus praat in jou lewe het en onthou as jy dit lees – voor hierdie lewe was hy ‘n gesiene burger na wie mense met respek opgekyk het:

2KOR 11:23-29
23 Is hulle diensknegte van Christus, ek nog meer – nou praat ek regtig asof ek heeltemal van my verstand af is!  Wat harde werk betref, uitermate;  wat tronke betref, uitermate;  wat katshoue betref, in die oortreffende trap;  in doodsgevare was ek dikwels.
24  Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry;
25  drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi.  Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ‘n dag en ‘n nag op die oop see oorleef.
26  Ek was dikwels op reis;  in gevare van riviere, van rowers, van my volksgenote;  van heidene;  gevare in die stad en in verlate gebiede;  gevare op see en gevare onder vals medegelowiges.
27  Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors;  van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees.
28  Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes.
29  Watter medegelowige is swak, en ek voel nie saam swak nie?  Wie word tot struikeling gebring, en ek raak nie uitermate ontsteld nie?

Terwyl hy hierdie soort behandeling aan en af moes verduur tot waar hy uiteindelik in die tronk in Rome sit en wag vir die laksman om hom te kom haal, kon hy, omdat hy Jesus Christus se vrede sy eie gemaak het, ook by geleentheid skryf:

2KOR 4:8  Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie;  ons is verward, maar nie wanhopig nie; 
2KOR 4:9  ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie;  platgeslaan, maar nie vernietig nie.

Dit is daardie vrede van Jesus Christus wat Stéfanus gehad het terwyl hulle hom gestenig het en waaroor Paulus geskryf het en wat ek ook verkondig.

Ek sluit dan af met onder andere die twee gedeeltes wat ek ook hierdie gesprek mee begin het, soos wat die Ou Vertaling dit stel:

JOH 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
JOH 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”

Neem dit en maak dit jou eie.
Ek sê nie jou omstandighede gaan dan noodwendig verander nie, maar jy gaan ‘n baie, baie gelukkiger mens wees ten spyte van jou omstandighede, wat daardie omstandighede dan ook al mag wees:
Dan sal jy ook ervaar dit wat die Woord sê:

FIL 4:6  Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles.  Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.
FIL 4:7 As julle so bid, sal julle God se vrede beleef.  Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink.  Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas.

Die Ou Vertaling stel dit so:

FIL 4:7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Groete,
Sakkie