‘N HEERLIKE HEMELSE DAGLOON

‘N HEERLIKE HEMELSE DAGLOON

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Wat is jou siening van die gedeelte in die Bybel waar Jesus sê die huis van die Here is soos die ryk eienaar met die wingerd wat werkers kry op verskillende tye.”

Hier moet ‘n mens eers net die gedeelte lees, voor jy heerlik daaroor kan gesels:

MAT 20 Die gelykenis van die werkers in die wingerd

1 “Die koningsheerskappy van God is soos die eienaar van ’n landgoed wat vroegdag uitgegaan het om loonarbeiders vir sy wingerd te huur.
2 Hy het met hulle op die gebruiklike daaglikse vergoeding ooreengekom en hulle toe gestuur om in sy wingerd te gaan werk.
3 “Teen nege-uur gaan hy toe weer uit en kry ander wat op die dorpsplein rondstaan en niks doen nie.
4 Hy huur hulle toe ook en sê vir hulle: ‘Ek sal julle aan die einde van die dag billik vergoed.’
5 Hulle het toe gegaan. Teen twaalfuur en weer teen drie-uur die middag het hy dieselfde oefening herhaal.
6 “Teen vyfuur die middag kry hy in die dorp nog ander wat rondstaan. Hy vra hulle toe: ‘Waarom staan julle die hele dag so rond en niksdoen?’
7 Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons wou huur nie.’ Hy sê vir hulle: ‘Gaan werk saam met die ander in my wingerd.’
8 “Teen die aand het hy aan sy voorman opdrag gegee om die werkers te roep en hulle loon aan hulle uit te betaal. ‘Begin by die laastes en eindig by die eerstes,’ het hy vir hom gesê.
9 Dié wat teen vyfuur die middag gehuur is, kom toe en kry ’n voldag se betaling.
10 Dié wat vroeër gehuur is, kom toe met die gedagte dat hulle meer sal kry, maar hulle kry toe ook maar die gewone dagloon.
11 “Toe hulle hulle betaling kry, het hulle teenoor die eienaar geprotesteer
12 en gesê: ‘Hierdie laatkommers het net ’n uur gewerk en jy behandel hulle dieselfde as ons wat die ganse dag in die warm son moes swoeg.’
13 “Hy reageer toe teenoor een van hulle: ‘My vriend, ek behandel jou nie onbillik nie. Het ek dan nie met jou vir die gewone dagloon afgespreek nie?
14 Neem dit en gaan. Ek het dit goedgevind om vir die een wat laaste begin het, dieselfde te gee as vir jou.
15 Is dit dan teen die wet om met my geld te maak soos ek goeddink? Of voel jy bitter omdat ek so gaaf is?’
16 “So sal baie wat nou so vernaam lyk, eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

Die heel eerste feit wat ek moet weet en duidelik reg moet verstaan as ek hierdie gedeelte lees, is dat Jesus se offer en versoeningsprys is vir élke mens wat ooit gelewe het en wat nog sal lewe, tot Sy laaste koms na hierdie aarde:

JOH 3:16-17 
16 “God het die mensdom (dit is elke mens) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen (dit is elke mens wat in Hom glo uit elke stam, taal, volk en nasie.  Lees Openbaring 5:9  -10) nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense (dit is enige mens) te veroordeel nie, maar sodat die mense (dit is alle mense) deur Hom verlos kan word.

Daardie ontsettende groot prys het Hy betaal vir Sy eerste volgelinge soos Petrus en Johannes wie jy kan vergelyk met die eerste werkers naamlik:

MAT 20:1-2
1 “Die koningsheerskappy van God is soos die eienaar van ’n landgoed wat vroegdag uitgegaan het om loonarbeiders vir sy wingerd te huur.
2 Hy het met hulle (dit is byvoorbeeld Sy 12 dissipels) op die gebruiklike daaglikse vergoeding ooreengekom en hulle toe gestuur om in sy wingerd te gaan werk.

Jesus se dissipels het ook baie hard van die begin af gewerk.  Soveel so, dat volgens oorlewering, almal ‘n wrede martelaarsdood gesterf het buiten Johannes – maar ook hy het dit tot sy dood nie maklik gehad nie.
Terwyl hulle egter vir ons Here gewerk het, het daar ook ander in die wingerd ingekom en gewerk, dink maar aan Stefanus en al die mense wat byvoorbeeld deur Saulus van Tarsus vervolg was en ja, ook my groot held Paulus van Christus, wat eers Saulus van Tarsus gewees het en om dit so te stel, les bes die moordenaar wat langs Jesus aan die kruis gehang het, wat net vir ‘n paar uur deur die getuienis van sy lewe gewys het, dat ons Here iemand terwyl hulle sterf in Sy wingerd kan intrek om vir Hom te werk, al is dit net deur jou voorbeeld.

Nog ‘n voorbeeld en dit uit my eie lewe:
Ek het in 1973 tot bekering gekom en ongeveer 3 maande later vir ons Here begin werk.
In daardie tyd was my pa met sy kriminele rekord in en uit die tronk, hoofsaaklik vanweë sy drank en gewelddadige leefwyse.
Toe ‘n hele paar jaar later kom hy tot bekering en toe vir net ‘n paar jaar het hy deur sy lewe uitgestaan as ‘n wonderlike voorbeeld van hoe ‘n Christen Jesus se beeld moet uitdra.
Toe het ons Here hom kom haal en ek het met ‘n heerlike gevoel in my hart by geleentheid vir ons Here gesê, hoe lekker dit nou vir my pa is.
Hy het net ‘n kort tydjie vir ons Here gelewe, toe het ek al lank vir ons Here gewerk en nou is hy by ons Here en ek moet nog steeds in die wingerd werk.
Ek het al gehoor dat iemand iets sal sê soos; en kom ons noem die persoon Jan:
“Kyk net hoe gaan dit met my, ek is net soos Piet ‘n kind van ons Here en ek werk baie harder as hy in die gemeente maar kyk hoe gaan dit met hom en kyk hoe sleg gaan dit met my.”
Eerstens, gaan dit nooit sleg met ‘n kind van ons Here nie.
Ek mag dalk nie hou van wat nou met my gebeur nie maar ek weet:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

As ek verkondig, dat dit met my, kind van God sleg gaan, verkondig ek eintlik, dat ek ‘n kind van God is en Hy kyk nie mooi na my nie.

Ek weet nie wanneer vyfuur volgens die gelykenis gaan aanbreek nie en ek weet ook nie wanneer vers 8 van hierdie gelykenis gaan aanbreek nie maar ek weet hierdie een ding wat hierdie gelykenis aanbetref:

As ons bly werk in die wingerd en  as ons, ons  oë op Jesus hou, gaan ons ‘n heerlike hemelse voldag se loon ontvang wat vir ewig gaan aanhou.

Dan wil ek jou aanmoedig, want ek was ook al in die verband gevra:
Moet nie ontmoedig of geestelik minderwaardig voel as jy dalk nie so uitstaan in die gemeente soos sommige ander broers of susters om jou nie. Gee jy net op jou manier vir ons Here die beste wat jy kan, veral jou lewe wat jy lewe. Iemand, ek dink dit was Augustines, het by geleentheid gesê:
“Oral waar jy gaan preek vir die mense en verkondig die evangelie en as dit dan nodig is, gebruik woorde ook.”

So, leef eerstens voluit vir Jesus en werk dan ook in Jesus se wingerd daar waar jy deur Hom geplaas is en jy en ek en al die ander werkers in Sy wingerd, sal ‘n heerlike hemelse dagloon ontvang, wat vir ewig wat jouself aanbetref, die gelukkigste mens in die heelal gaan maak.
Dan –
Dit is ook vir my baie insiggewend, dat ons Here die vorige hoofstuk, naamlik MAT 19 en hierdie getuienis met dieselfde woorde afsluit naamlik:

MAT 19:30  Maar baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

MAT 20:16  “So sal baie wat nou so vernaam lyk, eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af met die volgende twee gedeeltes uit ons Here se kosbare Woord.

Herinner jouself altyd watter groot prys jou Verlosser en Saligmaker vir jou betaal het en dat jy daarom baie kosbaar is:

FIL 2:6-11 
6 Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan die Goddelikheid wat Hom toekom nie,
7  maar Hy het dit prysgegee: Hy het ’n slaaf geword en aan mense gelyk geword. En toe Hy as mens geleef het,
8  het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe!
9  Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam.
10 Só sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig,
11 en elke tong sal bely: “Jesus Christus is Here!” En só sal God die Vader verheerlik word!

Dan leef jy jou lewe, of dan preek jy jou preek vir die mense met wie jy in aanraking kom, op die wyse hoe Sy Heilige Gees jou in jou hart lei Hoe Hy jou wil gebruik.

1PET 3:15 en 16 die eerste gedeelte:
15  Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer.
16 Doen dit egter taktvol en eerbiedig. Sorg dat julle gewete skoon bly.

Groete,
Sakkie