‘N PAASFEES SKRYWE OOR JESUS, ONS VERLOSSER EN SALIGMAKER

‘N PAASFEES SKRYWE OOR JESUS, ONS VERLOSSER EN SALIGMAKER

Sakkie Parsons

Ek het by geleentheid ‘n ‘gedagte uit die Woord’ geskryf oor ‘n klompie profesieë uit die Ou Testament oor Jesus, wat in die Nuwe Testament in vervulling gegaan het, wat ek met groot Jesusliefde aan jou sal stuur as jy dit wil lees.

Vandag wil ek graag met jou deel oor ‘n klompie teksgedeeltes uit die Ou Testament wat, wat Paasfees aanbetref, in die Nuwe Testament  in vervulling gegaan het, wat jy weer kan oordink, veral wanneer dit naby Paasfees tyd is.

Sommer vir die interessantheid –

Daar is oor die 300 profesieë in die Ou Testament oor die lewe en sterwe en opstanding uit die dood van Jesus Christus, waarvan die oudste in ongeveer 4,000 jaar voor Jesus se geboorte van Hom geprofeteer was en ek deel dit met jou:

GEN 3:15  En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

Ek deel nou graag met jou ‘n klompie gedeeltes uit die Ou Testament, wat in die Nuwe Testament rondom ons Christene se Paasfees in vervulling gegaan het, terwyl jy, as jy dit lees, weer sal onthou dat hierdie profesieë wat in vervulling gegaan het, honderde, selfs duisende jare voor dat hulle in vervulling gegaan het, geprofeteer was deur mense wie honderde jare uit mekaar gelewe het.

Ek wil dan begin met Jesus se intog in Jerusalem.  Volgens wat ek uit die Woord verstaan, die Maandag, 4 dae voor Sy kruisiging:

Hoekom ek dit noem is, sodat jy ook net weer kan sien, hoe maklik massa histerie opgewerk kan word en hoe gevaarlik dit kan wees.

Hierdie skare van wie jy nou hier gaan lees, is ook grootliks dieselfde skare wat 4 dae later sal skreeu:

“Kruisig, kruisig Hom!”

Ons lees hierdie profesie in:

SAG 9:9  Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.

Hierdie profesie wat in vervulling gegaan het, kan jy in al 4 die Evangelies lees naamlik in:

MAT 21 vanaf vers 1

MRK 11 vanaf vers 1

LUK 19 vanaf vers 29

JHN 12 vanaf vers 12

Ek kwoteer vir jou  laasgenoemde:

JHN 12:12-16

12  Die volgende dag het ‘n groot menigte feesgangers, toe hulle hoor dat Jesus na Jerusalem kom,

13  palmtakke geneem en uitgegaan Hom tegemoet en geroep: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel.

14  En Jesus het ‘n jong esel gevind en daarop gaan sit, soos geskrywe is:

15  Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom en Hy sit op die vul van ‘n esel.

16  Dit het sy dissipels egter eers nie verstaan nie; maar nadat Jesus verheerlik is, toe het dit hulle bygeval dat hierdie dinge van Hom geskrywe was en dat hulle dit aan Hom gedoen het.

In die volgende 4 dae na hierdie gebeurtenis waar die skare Hom so vereer, toegejuig en om dit so te stel, opgehemel het, gaan daar geweldig baie gebeur en hou maar hierdie skare in gedagte want soos ek genoem het, die meeste van hulle gaan weer as ‘n skare bymekaar kom voor hierdie week verby is.

In hierdie, vir my, seker die mees belangrikste week in die mens se geskiedenis, waar daar so baie gebeur het, sou daar net ‘n paar dae na hierdie verheerliking van Jesus, die grootste onreg van alle tye, op een van die wreedste wyses moontlik, teenoor Jesus gepleeg word en het daar ook in daardie verband profesieë oor Jesus in vervulling gegaan, wat honderde jare, ja ook meer as duisend jaar voordat dit plaasgevind het reeds geprofeteer was, en het Jesus natuurlik in Sy Alwetendheid dit reeds tot in die fynste besonderhede reeds voor die begin van tyd af geweet.

Hier volg nou profesieë uit die Ou Testament wat oor Jesus se kruisiging in die Nuwe Testament in vervulling gegaan het – en ek kwoteer elke keer net een voorbeeld, want daar is soms meer oor dieselfde gebeurtenis:

PSM 22:17  Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.

PSM 22:18  Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, (na Sy naakte vasgespykerde liggaam) hulle sien met welgevalle op my neer!

Toe gaan daardie profesie in vervulling:

LUK 23:32  En daar is nog twee ander, kwaaddoeners, weggelei om saam met Hom tereggestel te word.

LUK 23:33  En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter— en een aan die linkerkant.

Profesie uit die Ou Testament:

PSM 22:8  Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê:

PSM 22:9 Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom!

Toe gaan die profesie in vervulling in die Nuwe Testament:

MAT 27:41-42

41  En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê:

42  Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo.

43  Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God.

Profesie uit die Ou Testament:

PSM 22:19  Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.

Toe gaan die profesie in vervulling in die Nuwe Testament:

MRK 15:24  En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp oor wat elkeen moes kry.

Profesie uit die Ou Testament:

JES 53:9  En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.

Toe gaan die profesie in vervulling in die Nuwe Testament:

MAT 27:57-60

57  En toe dit aand geword het, het daar ‘n ryk man van Arimathéa gekom met die naam van Josef, wat self ook ‘n dissipel van Jesus was.

58  Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra. Toe beveel Pilatus dat die liggaam afgegee moes word.

59  En Josef het die liggaam geneem en dit met skoon linne toegedraai

60  en dit in sy nuwe graf gelê wat hy in die rots uitgekap het; en nadat hy ‘n groot steen teen die opening van die graf gerol het, het hy weggegaan.

Hierdie afgryslike onreg teen ‘n heeltemal onskuldige Jesus, het plaasgevind, sodat daar by God versoening kon plaasvind vir die mens, ja vir jou en my afskuwelike sonde.

Lees net hoe vat Jesaja honderde jare voor hierdie gebeurtenis die gebeure van daardie week se Donderdag nag en Vrydag saam, en sit hy dit dan in sy profesie volledig uiteen:

JES 53:1-9

1  Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?

2  Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.

3  Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.

4  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.

5  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

6  Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

7  Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.

8  Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote—wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.

9  En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.

 Wanneer Paasfees aanbreek, onthou ons Christene, soos die Jode se paaslam, dat ook ons Paaslam vir ons geslag was:

1KOR 5:7  Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.

1KOR 5:8  Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.

Destyds, dit is nou al amper 2,000 jaar gelede, het Paulus met waarheid gesê:

FIL 4:5  Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.

Kan jy dink hoe naby HY nou daaraan is om ons te kom haal?

As ek nou so vinnig dink, kan ek nie dink aan een ding wat Jesus geprofeteer het, wat aan die gebeur sal wees of reeds gebeur het, voor Hy gaan kom om ons te kom haal nie, wat nou in hierdie tyd wat ons lewe nie gebeur het, of aan die gebeur is nie.

Is jy gereed vir Sy koms?

Onthou, net dié wie gereed sal wees, sal saam met Hom weggaan voor die hel letterlik hier op aarde gaan losbars.

Of is jy dalk net lippetaal en voorgee gereed, soos die 5 dwase maagde wat Jesus ons van vertel.

Jy kan die hele verhaal in MAT 25:1 gaan lees.

Ek deel net met jou die volgende:

Hulle was almal, al 10 van hulle, maagde.  Met ander woorde, om dit so te stel, skoon en rein en het mooi lewens gelewe.  Jy kon as jy na hulle gekyk het geen verskil tussen hulle gesien het nie – maar 5, ten spyte van hulle mooi uiterlike wat die mense kon sien en hulle rein lewens wat hulle geleef het, het die hemel nie ingegaan nie.  Met ander woorde, hulle is hel toe:

MAT 25:10  En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.

Ek wil jou wat nou tot hier gelees het vra:

Is jy gereed?

Het jy al vir Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?

As jy onseker is of jy het, dan het jy dit nog nie werklik gedoen nie.

As jy hierdie belangrike stap al geneem het, sal jy dit weet. 

‘n Mens het nie twyfel oor wat vir jou werklik belangrike besluite is, wat jy al geneem het nie.

Byvoorbeeld, ek sal nooit wonder of ek en my vrou getrou het nie.

Jesus gaan kom.

Al die honderde profesieë wat oor Hom gemaak was, tot by Sy Hemelvaart, het in vervulling gegaan.

Wat dink jy is die kans, dat die volgende profesie oor hom nie in vervulling sal gaan nie en hierdie profesie was nie eens deur ‘n mens geprofeteer nie, maar – en nie deur een nie, maar twee hemelse wesens:

HAN 1:6-11

6 Die wat bymekaargekom het, vra Hom (dit is vir Jesus) toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?

7  En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;

8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

9  En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.

10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle,

11  wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? (Hier volg die profesie deur engele) Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemelsal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

As jy nog nie vir Jesus werklik aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie, kan jy nou net hier waar jy sit en lees, as jy dit in alle opregtheid wil doen, dit nou doen.

Want jy sien, Jesus sê nou weer vir jou en jy hoor Sy stem in jou hart sê:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand (vandag is dit Jy) my stem hoor en (met eerlike opregtheid) die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe (Sy Heilige Gees sal in jou kom woon) en saam met hom maaltyd hou, (‘n heerlike intieme verhouding met jou hê) en hy met My. (En jy sal ook ervaar dat jy ook ‘n werklik intieme liefdesverhouding met Jesus het, wat ook net meer sal groei en groei)

As jy dit gedoen het, soek jy nou as ‘n saak van groot dringendheid ‘n gemeente wat die hele Bybel as die kosbare Woord van ons Here aanvaar.

Dan woon jy ‘n diens van hulle  by en doen moeite om met die herder van die gemeente ‘n afspraak te maak vir verdere leiding.

As jy ‘n probleem het om so ‘n gemeente te vind, kan jy my kontak en ek probeer help.

Mag die volgende uit die Woord ook van vandag af ook in jou hart gestalte kry:

PSM 73:28  Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.

Groete,

Sakkie