OM TE VEROORDEEL OF TE BEOORDEEL – DEEL 1 VAN 3

OM TE VEROORDEEL OF TE BEOORDEEL – DEEL 1
Deel 1 van 3

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

“Die gedeelte wat sê: “Moenie oordeel nie,want in die mate wat jy oordeel, sal jy self geoordeel word” Wat presies behels dit? En as die Bybel vir gelowiges geskryf is, beteken dit ons mag nie diegene wat broers en susters in die geloof is, oordeel nie?”

Ek moet eers, kom ons noem dit ‘n misverstand, dadelik uit die weg ruim:

Alhoewel die Ou Testament oorspronklik deur ons Here vir die Israeliete daar gestel was en die Nuwe Testament daar aan die begin, oorspronklik aan die Christene geskryf was, is die Bybel in sy geheel vir elke mens op aarde bedoel wat dit wil lees en bestudeer.

So, die Woord, veral die Nuwe Testament is aan die Christene, maar vir alle mense geskryf.  Ja, veral ook aan hulle wat nog nie vir Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker nie, sodat hulle ook die geleentheid het om Jesus aan te neem as Verlosser en Saligmaker.
Want onthou vir wie almal het ons Here die enigste volmaakte offer wat in die heelal gevind kon word na die aarde gestuur:

JOH 3:16-18
16 "God het die mensdom (dit is elke mens op aarde) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen (dit is uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie) wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense (dit is alle mense) te veroordeel nie, maar sodat die mense (dit is alle mense, wat Hom aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker) deur Hom verlos kan word.

18 "Die persoon (dit is sy/hy wat Jesus aanneem as Verlosser en Saligmaker) wat aanhou glo in Hom, (tot die einde toe) word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, (tot die einde toe nie, of Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker nie) is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

Terug by die vraag wat aan my gestuur gewees het naamlik:
“Die gedeelte wat se: Moenie oordeel nie, want in die mate wat jy oordeel, sal jy self geoordeel word: Wat presies behels dit?”

Hierdie is verseker vir baie mense ‘n moeilike onderwerp.
Want aan die een kant leer Jesus my, om maar net een voorbeeld te noem, dat ek nie moet oordeel nie:

LUK 6:37 "Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word.

Aan die ander kant leer die Woord my baie duidelik, weereens om maar net ‘n paar voorbeelde te noem dat ek baie beslis mense, om dit so te stel, se leefwyse en optrede moet beoordeel:

1KOR 5:9  In my vorige brief het ek vir julle geskryf dat julle nie met mense moet assosieer wat ‘n onsedelike lewe lei nie.

JOH 7:24 “Moenie oordeel net op wat julle sien nie;  oordeel billik.”

SAG 7:9 Dit is wat die HERE die Almagtige sê:  “Oordeel regverdig en eerlik in regsake, wees liefdevol en simpatiek met mekaar.

Om iemand in liefde op hul verkeerde daad tereg te wys en om hom/haar oë oop te maak vir die waarheid, is om om te gee vir die persoon en bekommerd oor hom/haar redding te wees. 

2TIM 3:16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe.  Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl.

Om te beoordeel, let op ek sê nie “veroordeel” nie, is ‘n opset in die Christen se lewe wat volgens wat ek uit die Woord onder leiding van die Heilige Gees dit verstaan, eintlik om dit so te stel, uit meer as een faset bestaan.

Omdat, na my mening, sommige mense wat hulleself Christene noem, nie werklik die verhouding met ons Here het wat hulle behoort te hê nie, en omdat hulle nie werklik probeer om ‘n diepe verhouding met ons Here te hê nie, kan hulle ongelukkig nie altyd die verskil tussen veroordeel en beoordeel onderskei nie en daarom ook nie dit reg in hulle hantering van hulle medemens uitlewe nie.

Ja, omdat baie mense met ‘n verkeerde gesindheid, iets soos: ‘Ek is heiliger as jy’, rondloop en daarom die stem van die Heilige Gees nie hoor soos wat hulle dit behoort te hoor nie, is hulle altydeur besig om op ‘n negatiewe wyse te veroordeel en nie met Christusliefde te beoordeel nie.

As jy altyd streef om jou liefdesverhouding met ons Here meer en meer te laat verdiep, gaan jy al hoe duideliker die stem van die Heilige Gees in jou lewe hoor en gaan jy soos in hierdie geval ook met goddelike liefde besef, dat eintlik moet ek nooit my medemens veroordeel nie maar altyd my medemens liewer in liefde beoordeel.Want veroordeling bring wrywing en afstand maar beoordeling van my medemens, gee ons Here die geleentheid om deur my Sy beeld aan my medemens te wys.

In my volgende skrywe in hierdie reeks gaan ek poog om uit die Woord te wys hoe moeilik kan dit wees om te onderskei wat die Woord van ons in hierdie saak verwag as ons nie fyn ingestel is op die stem van die Heilige Gees nie.

Vir nou die volgende:
Ons Here verwag nie van my om nié ‘n opinie te hê oor iemand se leefwyse nie. Dit is vir die mens, vir my in elk geval, onmoontlik om nié ‘n opinie oor iemand wat ek ontmoet te vorm nie.
Wat ek nié behoort te doen nie, is om so met ‘n geestelike neus in die lug na iemand te kyk, terwyl my eie lewe ook maar vol dinge is waaraan ek nog werk.

Jesus sê by geleentheid vir mense wat so godsdienstig neus in die lug na mense om hulle gekyk het, nadat Jesus hulle beoordeel het natuurlik, die volgende en daarmee laat ek jou dan vir nou:

MAT 23:27  “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs (en almal wat hulle Christenskap so uitlewe!)  Want julle is soos grafte wat aan die buitekant spierwit gekalk is, maar aan die binnekant vol is van doodsbeendere en allerlei onreinheid.

MAT 23:28 So lyk julle ook van buite vir die mense baie vroom, maar van binne is julle vol skynheiligheid en minagting van die wet.

Groete,
Sakkie