AS ONS BEWEER DAT ONS NIE SONDE HET NIE MISLEI ONS ONSSELF

AS ONS BEWEER DAT ONS NIE SONDE HET NIE MISLEI ONS ONSSELF

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my wat min of meer so gaan:

“Meer as een prediker het nou al gepreek, dat Christene nie kan sondig nie.

Kan jy iets hieroor skryf?”

Lank terug het iemand my geleer:

“Moet nie doekies omdraai nie, noem die sonde by die naam.”

So ek wil begin deur te sê dat ‘n stelling wat wil voorgee, dat ‘n Christen nie kan, of soms sal sondig nie, gewoon net ‘n gruwelike leuen is – wat natuurlik baie voordele vir satan inhou.

Kom ons kyk wat sê die Woord/Byble oor hierdie onderwerp en dan begin ek sommer met wat die Heilige Gees my groot held Paulus laat skryf het:

Paulus, na my mening die grootste apostel van alle tye, as ek kyk hoeveel ons Here in Sy Woord oor hom laat skryf het en ek hou in gedagte, dat ons Here hom toe by verre ‘n baie groot  gedeelte van die Nuwe Testament laat skryf het.

Hy skryf – en ek gaan hom sommer nog ‘n paar keer kwoteer:

ROM 7:19-24

19  Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek.

20 As ek dan doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.

21 Ek ervaar dus die volgende lewenswet: As ek die goeie wil doen, is die kwaad byderhand.

22 Ek verheug my immers in my diepste wese in die wet van God.

23  Tog vind ek ’n ander wet in my binneste wat oorlog maak teen die wet van my gees en my ’n gevangene maak van die wet van die sonde wat nog in my is.

24 Arme ek! Wie sal my uit hierdie doodstoestand red?

25  Die antwoord hierop is: Jesus Christus ons Here, en daarvoor dank ek God!

Die saak staan dus so: Met my gees wil ek die wet van God gehoorsaam, maar as gevolg van my sondige natuur gehoorsaam ek die wet van die sonde.

Teen die agtergrond van wat jy nou gelees het, kom ek deel gou met jou een voorbeeld wat waarskynlik al in jou eie lewe gebeur het maar as jy dit lees, is ek seker, jy sal nog aan honderde ander voorbeelde kan dink, waar jy in die hitte van die oomblik nie soos ‘n ware Christen opgetree het nie en toe daarna geweet het, dat ‘n Christen nie so behoort op te tree, soos wat jy nou opgetree het nie.

Jy ry nog so lekker in jou motor en skielik swaai hier byvoorbeeld ‘n huurmotor voor jou in en as dit nie vir jou vinnige reaksie gewees het nie, was jy nou in ‘n groot ongeluk.

Onmiddellik is jou reaksie, jy kind van God, nog voor jy rasioneel kan dink:

“Jou …” met dalk nog ‘n vinger teken ook – maar dan net so vinnig hoor jy die Heilige Gees se stem in jou binneste en voel jy sleg en vra ons Here om verskoning.

As dit nie sonde was nie, hoekom voel jy dan skuldig en hoekom vra jy om verskoning?

Want die Heilige Gees van ons Here inwonend in jou oortuig jou dat dit in die oë van ons Here sonde is.

Dit is maar net ‘n voorbeeld van ‘n legio voorbeelde wat jyself in jou eie lewe sou kon gebruik het om te staaf wat ek tot hier geskryf het.

Ons lees verder in 1JOH 1:8-10 – en onthou, dat 1Johannes spesifiek aan Christene geskryf is:

As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.

9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.

10 As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, (hoe verskriklik!) maak ons Hom tot ’n leuenaar.

Dit beteken ook dat sy Woord nie in ons lewe plek gekry het nie.

‘n Ware Christen, ek sê wáre Christen, omdat daar baie, baie mense is wat hulleself Christene noem, wat eintlik net baie godsdienstig is – en jy kan vol godsdiens wees en terselfdertyd dolleeg van ons Here se Heilige Gees wees.

Kyk maar na die Fariseërs, die mees godsdienstige mense van Jesus se tyd en hulle was ook Sy grootste vyande.

‘n Ware Christen sal nie oor en oor dieselfde sonde willens en wetens pleeg nie.

Ongelukkig egter, word baie van ons keer op keer deur satan met dieselfde slapriem gevang, maar ons sorg dan dat ons baie gou uit daardie sonde-strik waarin ons weer getrap het kom –  en ons doen dit met groot berou maar moedswillig opsetlik met voorbedagte rade doen ons dit nooit meer nie.

Om maar net een voorbeeld te gebruik:

Dit is totaal onmoontlik, dat ek sal gaan sit en ‘n plan beraam en in werking stel om iets te steel.

Die ligste wat ek ‘n sogenaamde Christen kan beskryf wat opsetlik, willens en wetens sondig, is die volgende uit die Woord:

2PET 2:20-22

20   En as mense ontsnap het van die besmettings van die wêreld deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en hulle weer daarin vasgevang en daaraan verslaaf word, dan is hulle aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin.

21  Dit sou definitief vir hulle beter gewees het as hulle die pad van geregtigheid nie leer ken het nie, as dat hulle dit wel leer ken het en toe afgewyk het van die heilige voorskrif wat aan hulle oorgelewer is.

22  Van hulle is dié spreekwoorde waar:

“’n Hond gaan terug

na sy braaksel toe.”

en:

“’n Vark word gewas,

net om weer

in die modder te rol.”

Onthou nou –

Omdat ek ‘n feilbare mens is en satan ‘n god, die god van die bose is, mag hy my meer as een keer met dieselfde slapriem vang – maar ek weet dit dadelik en ek veg met alles wat ek in my het, om so gou as moontlik uit die riool waarin hy my laat beland het te kom, omdat die Heilige Gees wat ek, (Prys die Naam van die Here!) in my het my sal herinner en die hulp sal gee om daar uit te kom – en ek werk dan daaraan om volgende keer as hy met daardie selfde “trick” kom, meer bedag en gereed te wees om nie weer met dieselfde slapriem gevang te word nie.

Vervolgens deel ek met jou nog twee gedeeltes uit die Woord om te staaf wat ek verkondig en ook sommer om jou te wys hoe ons, wáre volgelinge van Jesus Christus uiteindelik na hierdie saak behoort te kyk:

ROM 6:1-2

1  Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word?

2  Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!

HEB 10:26-29

26 As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie.

27 Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer.

28 Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak.

29 Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade beledig het.

Dan lees ons net ‘n bietjie verder:

HEB 10:31  Hoe verskriklik is dit om in die hande van die lewende God te val.

So, wat is die oplossing vir my sondige mens en my sonde en is daar hoegenaamd ‘n antwoord op hierdie vraag?

Ja!

Prys die Naam van ons Here!

Ek moet my bekeer en Jesus Christus aanneem as my Verlosser en Saligmaker, sodat Sy wonderlike Heilige Gees in my binneste kan inwoon:

HAN 2:37-38

37  Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”

38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

39 Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

Dit beteken nie dat jy nou nie meer gaan sondig nie, want daar is die god van die bose en hy gaan jou letterlik toetakel met sy boosheid – maar dit beteken, dat jy, noudat jou hart verander het en jy nou Jesus se Heilige Gees inwonend in jou het en jy nou die sonde haat, – jy áltyd berou sal hê as jy gesondig het, en altyd vir ons Here opreg, om dit so te stel, om verskoning sal vra, dat jy teen Hom gesondig het.

ROM 7:24-25

24  Arme ek! Wie sal my uit hierdie doodstoestand red?

25  Die antwoord hierop is: Jesus Christus ons Here, en daarvoor dank ek God!

ROM 8:12  Daarom dan, my liewe broers en susters, is dit noodsaaklik dat ons die druk van ons sondige natuur sal weerstaan en nie daarvolgens sal lewe nie.

Dit is Jesus wat hier praat:

JOH 14:16-18 

16  En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees;

17  dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.

18 “Ek sal julle nie soos wesies in die steek laat nie; Ek kom terug na julle toe.

Hoe heerlik om dit uit te jubel en ek kwoteer ‘n ouer Vertaling:

HAN 2:39  Want die belofte kom julle toe (ook jy wat tot hier gelees het) en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.