ONS HERE HET DIE MENS HEELTEMAL ANDERS GESKAPE AS DIE DIERE

ONS HERE HET DIE MENS HEELTEMAL ANDERS GESKAPE AS DIE DIERE

Sakkie Parsons

Iemand het my weer gevra of daar diere in die Hemel gaan wees. Ek deel dan nou ook met jou my antwoord.

Hier is dan hoe ek dit sien:

Eerstens, en na my mening die belangrikste, is dat ons Here die mens heeltemal anders geskape het as die diere.  Lees gou hier:

Gen 1:25  “En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.”

Het jy gesien? Die diere was geskape “ volgens hulle soort.”

Toe het ons Here die mens geskape:

Gen 1:26  “En God het gesê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, na Ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Gen 1:27  En God het die mens geskape na Sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”

Sien jy die verskil?

Ons Here het die mens geskape volgens Sy beeld.  Ons is nie soos die diere, volgens ons soort, geskape nie.  Ons is na die Beeld van ons Here geskape:

Gen 1:26  “En God het gesê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, na Ons gelykenis, …”

Ons Here het die diere een manier gemaak, maar met ons, Sy hoogste skepping, wat na Sy Beeld geskape is, het Hy anders te werk gegaan:

Gen 2:7  “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”

Vir hierdie mens wat, “’n lewende siel”geword het, het ons Here Sy Seun gestuur.  Sodat hy, die mens wat na God se Beeldgeskape is, nie verlore hoef te gaan nie.

Hoe, vra iemand, weet jy dit was net vir die mens? 

My antwoord: Daar staan dit duidelik geskryf:

JHN 1:12  “Maar almal wat Hom aangeneem het,aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo;”

Sien jy wat daar nie geskryf staan nie? Daar staan nie:

“Maar alles wat hom aangeneem het nie.”

Of:

Maar almal en alles wat Hom aangeneem het nie. Daar staan:

JHN 1:12  “Maar almal wat Hom aangeneem het, …”

Wat ‘n dier natuurlik nie kan doen nie.

Onthou jy ook:

JHN 1:12  “… aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, …”

Ek het, terwille van hierdie skrywe probeer om byvoorbeeld ‘n vark, of sê nou maar ‘n padda, as ‘n kind van God te sien, maar, soos my rekenaar soms, vries my brein net eenvoudig by die gedagte, maar volgens die teksgedeelte nou onder bespreking is dit nog nie die einde  nie. Onthou wat jy ook in ons teks gelees het:

JHN 1:12  “… aan hulle wat in Sy Naam glo; “

Kan jy sien dat ‘n, sê nou maar, ‘n rot of ‘n spinnekop “in Sy Naam glo?”

Toe ek soortgelyke voorbeelde eendag vir iemand noem, toe sê die persoon vir my dat sy eintlik met diere, honde bedoel het. Dit het my toe laat dink aan die man wat eendag gesê het:

“Hy weet dat daar honde in die Hemel sal wees, maar verseker nie katte nie.”

Ek dink hy was allergies vir kathare.

Nou moet iemand tog nie vir my sê dat ons Here diere anders sal behandel as dit by die Hemel kom as vir die mens Sy hoogste skepping, wat na Sy beeld geskape is nie.

Dit is na my mening geheel en al absurd om te dink dat ons Here  voorkeurbehandeling aan diere sal gee, bo ons wat na Sy Beeld geskape is en vir wie Hy Sy Seun geoffer het om ons in die Hemel te kry.

Onthou ook dat ek nie die reg het om te besluit watter diere in die Hemel sal wees, en watter nie. So, as daar diere in die Hemel gaan wees, moet ek dan natuurlik ook verstaan:

“What is good for the goose is good for the gander.”

Verder, persoonlik, as ek lees van strate van goud is dit nou nie juis soos ek wil hê die strate moet wees nie want ek het nou nie ‘n besondere liefde vir goud nie.  Ek sou eerder wou dat die strate wandelpaaie met ‘n lekker sagte, digte grasbedekking waarop ek kaalvoet kan loop, moet wees.

My dogter sal beslis nie dink dit is Hemel as dit wemel van spinnekoppe nie maar ek weet van ‘n wetenskaplike wat haarself seker nie ‘n hemel sonder spinnekoppe kan indink nie.

Jy sien –

Ons wil almal probeer om die Hemel te maak soos óns daarvan hou. Ek luister oor die een wat sus en die ander wat so sê oor die diere wat in die Hemel gaan wees en watter diere nie daar gaan wees nie. Dan kyk ek na hul voorbeelde oor wat ek in elk geval grootliks as beeldspraak beskou en ek onthou dat daar maar net één manier is om in die Hemel te kom en dit verkondig ek:

JHN 14:6  “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Mat 7:13  “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. “

JHN 10:7  “Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape.”

Skape is natuurlik soos met baie diere, op baie plekke in die Bybel, ook hier beeldspraak.

Groete

Sakkie

E-pos:            bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:   www.sakkieparsons.co.za

Sel:                083 457 6669

Judas 1:24-25Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,

     aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.