ONS LIGGAAM, ONS SIEL EN ONS GEES – DEEL 3

ONS LIGGAAM ONS SIEL EN ONS GEES – Deel 3

Skrywer:  Sakkie Parsons

In my vorige twee gedagtes uit die Woord het ek met jou gedeel oor ons liggame, of dan, ons tentwoning, soos die Woord dit stel.

Daarna het ek vir jou gewys dat die mens ‘n siel het wat na God se beeld geskape is en daarom soos ons Here onsterflik is en dat elke mens wat ooit gebore is en toe haar/sy liggaam wat tot niet gegaan het verlaat het, op hierdie oomblik in een van twee plekke is.

Dié wat in die een plek is, leef vir ewig en dié wat in die ander plek is, sterf vir ewig die verskriklikste dood, en tog sterf hulle nie. Hulle lê vir ewig op die verskriklikste sterfbed en wens om te sterf, maar hulle kan nie omdat hulle, soos die God wat hulle geskape het, onsterflik is.

Nou wil ek met jou deel oor jou en my gees.

Ek het in ‘n vorige skrywe genoem dat daar mense is wat reken dat jou siel en gees dieselfde is.
Ek wil net hier noem dat ek werklik kan verstaan dat daar mense is wat so redeneer, want as ek die Woord lees is daar ‘n fyn lyn tussen siel en gees wat raakgesien moet word. Daar is baie grys areas.

Dus deel ek met jou hoe ek dit verstaan en wil tog regtig nie in ‘n redenasie of so iets betrokke raak nie. Ek het in elk geval nie die tyd of energie om op redenasies te spandeer nie.

Ek wys net weer vir jou hoekom ek uit die Woord verstaan dat daar ‘n verskil tussen siel en gees is:

HEB 4:12  “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”

Ek sien dit so, en onthou ook dat ek nie probeer slim wees en sê dat ek al die antwoorde het nie.  Ek het dit verseker nie. Ek deel slegs met jou wat ek met die lig uit die Woord tot my beskikking het.

God het die eerste mens, Adam en alle mense daarna, so geskep. God skep ‘n mens met ‘n liggaam wat Hy van die stof van die aarde geformeer het.
Dan plaas Hy ‘n siel, wat na Sy beeld geskape is, in daardie liggaam en hieroor het ek reeds met jou gedeel.

Dan, blaas Hy die asem van die lewe, in daardie mens.

In Adam, die eerste mens, lees ons dat God  “die asem van die lewe in hom geblaas het,” nadat Hy Adam geskep het:

GEN 2:7  “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”

Die mens se gees soos ek dit verstaan, is daardie deel van ons Here self, wat Hy in die mens, en nét die mens geplaas het wat ons die vermoë gee om die verskil te ken tussen goed en kwaad en tussen reg en verkeerd – maar nie net gee ons gees ons die vermoë om te onderskei tussen goed en kwaad en reg en verkeerd nie, die gees wat in ons is, gee ons ook die bevoegdhede van ons Here, om kwaad na goed, en verkeerd na reg, in ons lewens te verander.

Lees wat sê die Woord oor ons gees wat hierdie aspek van ons lewe aanbetref:

1 KOR 2:11 “Niemand sal ooit die diepste gedagtes van 'n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees.  Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God.”

JOB 32:8  “Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak.”

Luister: Adam en Eva was die eerste mense van wie ek weet wat ‘n volmaakte verhouding met ons Here gehad het en toe die rug op ons Here gedraai het en hel toe gestap het.

Nêrens in die Woord lees ek dat Adam ‘n terugkeer tot ons Here gemaak het nie. Inteendeel, al die getuienis in die Woord tot my beskikking, vertel my dat hy net verder van ons Here af beweeg het.

Die laaste woorde van kennis wat ek het van Adam en Eva, is nie woorde van berou nie. Dit was woorde van selfverontskuldiging of van, soos hulle in Engels sê: “Passing the buck” en, om dit so te stel, nog ‘n verdere verwydering van ons Here af:

GEN 3:12  “En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet.”

Geen berou nie, net verontskuldigende beskuldiging:

GEN 3:13  “Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”

Geen berou nie, net verontskuldigende beskuldiging.

Toe word die verwydering so groot, dat ons lees:

GEN 3:23  “Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is.
GEN 3:24  So het Hy dan die mens weggedrywe …”

Sien jy dit? Adam en Eva het al hoe verder van ons Here beweeg deur die keuses wat hulle in hulle gees gemaak het, totdat ons hierdie, wat ek ‘n baie sterk uitspraak uit die Woord sal noem, lees:

GEN 3:24  “So het Hy dan die mens weggedrywe …”

Sjoe!

Dit is darem rof as ons Here jou “wegdrywe.”

Die eerste waar ek weer iets van Adam in die Ou Testament lees, is waar hy gebruik word as ‘n voorbeeld van iemand wat teen ons Here is:

HOS 6:7  “Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel.”

As Adam in sy verhouding met ons Here deur satan hel toe gesleep kon word omdat hy nie op sy hoede vir satan was nie, watter kans het jy en ek as ons nie op ons hoede is nie?

Daarom laat ek jou nou met die volgende uit die Woord – om altyd in gedagte te hou sodat jy nie soos so baie mense blasé raak in jou uitkyk na die evangelie van Christus, net omdat jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie. Ons Here sal jou en my nooit van Sy kant af laat gaan nie, maar met ons eie wil, kan ons soos Adam, Judas en so baie ander, satan hel toe volg, ten spyte van die verhouding wat ons nou met ons Here het – as ons nié waak en volhard tot die einde toe nie.

Jesus sê:

MAT 26:41 “Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. 'n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie."

Verder lees ons:

MAT 24:37-44
37 “Wanneer Ek, die Seun van die Mens, verskyn, sal dit gaan soos in die tyd van Noag.
38 Destyds, voor die groot vloedwater gekom het, het die mense soos gewoonlik voortgegaan om fees te vier en oor en weer te trou, selfs nog totdat Noag in die ark ingegaan het.
39 Hulle het eers besef wat aan die gang was toe die vloedwater kom en hulle almal verswelg het.  Net so sal die koms van die Seun van die Mens wees.
40 Twee persone sal saam op die land werk.  Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word.
41 Twee vroue sal saam by die meul koring maal.  Die een sal saamgeneem en die ander een sal agtergelaat word.
42 Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here sal kom nie.
43 Julle besef tog goed, as ‘n huiseienaar vooraf weet hoe laat in die nag die dief gaan kom, sal hy op sy hoede bly en nie toelaat dat daar in sy huis ingebreek word nie.
44 Daarom moet julle ook voorbereid wees, want die Seun van die Mens kom op ‘n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.

As ons voorbereid moet wees vir wanneer Hy ons kom haal, óf deur die dood óf wanneer Hy dit in die wegraping doen, meen dit tog ook dat ons dalk nié voorbereid kan wees as Hy ons op watter wyse ook al kom haal nie. Lees weer:

MAT 24:44 “Daarom moet julle ook voorbereid wees, want die Seun van die Mens kom op ‘n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”

Want jy sien, net dié wat volhard tot die einde toe, ten spyte wat om hulle gebeur, al is daardie einde die dag dat hulle siele hulle liggaam verlaat voor die wegraping plaasvind – hulle sal gered word:

MAT 10:22  “Julle sal deur almal gehaat word omdat julle Mý mense is.  Maar elkeen wat sal volhou tot die einde toe, sal gered word.”

Groete,
Sakkie