ONS IS OPPAD NA ONS LAND VAN RUS – DIE HEMELSE KANAÄN

ONS IS OPPAD NA ONS LAND VAN RUS – DIE HEMELSE KANAÄN

Sakkie Parsons

Die Blye Boodskap

Iemand skryf aan my as volg:
“Kan u my asb verduidelik wat die “rus” is waarvan daar geskryf word in Hebreërs 4 vers 1 tot 11?“

Kom ons lees eers gou die gedeelte:

HEB 4:1-11
’n Blye vooruitsig vir hulle wat luister

1 God se belofte dat ons sy rus kan binnegaan, staan nog steeds. Daarom moet ons oppas dat dit nie dalk blyk dat een van julle langs die pad agtergebly het nie.
2 Want hierdie blye boodskap van ’n plek van rus het ons ook ontvang, net soos hulle. Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie.
3 Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan.Ten opsigte van hulle wat nie geglo het nie, het God egter gesê:
“Daarom het Ek in my toorn met ’n eed soos volg verklaar:
‘Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.’”
Dit is ten spyte van die feit dat God se rusplek alreeds gereed staan van die skepping van die wêreld af.
4 Ons weet dit is so, want die Skrif sê êrens van die sewende dag: “En God het op die sewende dag gerus van alles wat Hy gemaak het.”
5 In die ander gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.”
6 God se plek van rus is dus beskikbaar, maar dié wat destyds die goeie tyding ontvang het, kon as gevolg van hulle ongeloof nie daar ingaan nie.
7 Gevolglik het God weer ’n dag bepaal om sy rus binne te kan gaan. Daardie dag is vandag. God het dit aansienlik later deur Dawid aangekondig, naamlik:
“Vandag wanneer julle sy stem hoor, moet julle nie julle harte verhard nie.”
8 Hierdie nuwe rusplek was nie die land Kanaän waarheen Josua die Israeliete gelei het nie. Anders sou God nie later van ’n ander plek van rus gepraat het nie.
9 Daar wag dus nog ’n heel spesiale rus vir God se volk.
10 Want almal wat in hierdie rus van God ingaan, sal self rus van hulle moeitevolle arbeid, soos God ook van sy eie skeppingswerk gerus het.
11 Kom ons span dan alles in om daardie rus binne te gaan sodat nie-mand van ons dalk hulle slegte voorbeeld van ongehoorsaamheid volg en ook omkom nie. Voor God en sy woord lê ons oop en bloot

Ek wil dan begin om eers daarop te wys, dat ons nie weet wie die boek aan die Hebreërs geskryf het nie.
Ekself, as ek na die wyse van skryf kyk, dink dat dit my groot held Paulus was maar dit is net hoe ek dink, ek het geen klinkklare bewys daarvoor nie.  So, ek verwys dan in hierdie skrywe net na “die skrywer aan die Hebreërs.”

Eintlik begin die skrywer aan die Hebreërs al in hoofstuk 3 oor hierdie onderwerp te praat
Ons lees:

HEB 3:9-11
9-10 Dáár het julle voorvaders my geduld beproef ten spyte daarvan dat hulle vir 40 jaar my magtige dade aanskou het.  Daarom het Ek vir daardie geslag kwaad geword en gesê: ‘Hulle harte dwaal altyd van My af weg. Hulle wou nie doen wat Ek van hulle verwag nie.’
11 Daarom het Ek in my toorn onder eed verklaar:  ‘Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.’”

Die skrywer aan die Hebreërs verwys hier terug na destyds, toe die Israeliete nie die land Kanaän van rus wat ons Here vir hulle gegee het, in ongehoorsaamheid wou intrek nie en ons Here toe ‘n hele geslag oor ‘n tydperk laat uitsterf het voordat hulle uiteindelik kon ophou rondtrek en in Sy land van rus vir hulle, kon intrek.

Ek kwoteer hier net ‘n paar gedeeltes , wat vir my nou relevant vir hierdie gedagte uit die woord is:

NUM 14:2-4 
2 En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het!
3  En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie?
4  En hulle sê vir mekaar: Laat ons ‘n hoof aanstel en na Egipte teruggaan.

As ‘n mens hierdie gedeelte lees, voel jy om uit te roep:
Wat ‘n geweldige belediging teen ons Here wat hulle met soveel wonders nou tot by hulle land van rus gebring het!

Daarom het ons Here ook baie kwaad vir hulle geword.
Ons lees:

NUM 14:11  Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?

Dan sê ons Here:

NUM 14:20-25 
20 Toe sê die HERE: Ek vergewe, volgens jou woord.
21  Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word,
22  al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie,
23  hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie.
24  Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.
25  Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte—draai môre weg en trek tog die woestyn in, op pad na die Skelfsee.

Toe trek hulle in die woestyn rond totdat daardie hele geslag Israeliete wat gemurmureer het uitgesterf het:

NUM 14:26-29 
26 Daarna het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê:
27  Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly murmureer.
28  Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen.
29  Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldis, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.

Toe het ons Here daardie hele volk vir 40 jaar in die woestyn laat ronddwaal totdat al die mense van 20 jaar en ouer gesterf het maar jy kan hierdie boeiende geskiedenis self gaan lees.

Die eerste rus waarvan die skrywer aan die Hebreërs praat, was die rus wat Israel gehad het na hul baie jare se rondtrek in die woestyn toe hulle in die beloofde land Kanaän ingetrek het en die tweede rus waarvan hy praat is die rus wat elkeen in die Hemel sal ingaan wie Jesus Christus aanneem as Verlosser en Saligmaker en Hom deur hierdie aardse lewe in hierdie lewe, in hierdie sondige wêreld / woestyn sal volg tot uiteindelik deur die  doods-Jordaan die hemel se Kanaän in.

Ons wie Jesus aangeneem het, is wat hierdie wêreld aanbetref bywoners wat as pelgrims oppad is na ons land van rus, die Hemelse Kanaän en dit is ‘n enorm groot tragedie, dat  daar in hierdie wêreldwoestyn geweldig baie geestelike lyke lê en nog meer gaan lê voor Jesus ons kom haal, omdat hulle hierdie evangelie gehoor het en die Hemelse Kanaän aste ware as hulle nou kyk, alreeds kon sien maar nie in die geloof daarheen wou stap nie – maar jy hoef nie een van daardie lyke te wees nie.

In die eerste drie hoofstukke van die boek Hebreërs vertel die skrywer ons onder andere, dat Jesus hoër as die engele is en dat Hy ons Hoëpriester is.
Dan kom hy hier in hoofstuk 4 en wys ons, dat net deur Jesus kan ons vandag God se rus ingaan.  Eintlik vertel hy ons, dat Jesus self, om dit so te stel God se rus vir ons is en dat ons, wie Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker aste ware met groot respek gesê, al klaar een voet in die Hemelse Kanaän het.

EFE 2:18-20
18 want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.
19 heiliges en huisgenote van God,
20  gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,

So, wat die skrywer aan die Hebreërs hier onder leiding van die Heilige Gees skryf en wat ons dwarsdeur die Woord sien, is, dat daar maar net één manier is om ‘n liefdesverhouding met ons Here te hê en so daar dan ook net één manier is om deur die Hemels se poort die Hemel in te stap – en dít is om Jesus Christus aan te neem as Verlosser en Saligmaker en Hom deur hierdie lewe te volg, soos die Israeliete die wolk in die woestyn moes volg.

Hoe doen ons dit?

HAN 2:37-39 
37 Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”
38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.
39 Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

Want jy sien, daar is gewoon net geen ander wyse om in die Hemelse Kanaän in te kom nie:

HAN 4:12 “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”

So, wat, volgens Jesus, is  een eenvoudige manier wat jy en ek kan weet dat ons ‘n wáre liefdesverhouding met Jesus het en so oppad na God se rus vir ons in die Hemelse Kanaän oppad is?

JOH 14:15  “As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam.
JOH 14:16  En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees;

JOH 14: 21 “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.”

Ek moet myself gereeld afvra:
Het ek werklik vir Jesus lief? – en dan die kriteria van JOH 14:15-16 en JOH 14:21 byvoorbeeld as maatstaf gebruik om te sien waar ek staan in my liefdesverhouding met ons Here.

Ten slotte wil ek jou dan nou hierdie vraag vra:

Wil jy seker maak dat jy vir ewig in die hiernamaals in die Hemelse Kanaän in God se rus gaan lewe en nie vir ewig ‘n verskriklike dood in die hel sterf en tog nooit sterf nie?

Wel die enigste manier om dit te doen is om in jou eie woorde, of in die voorbeeld
wat ek nou met jou gaan deel vir Jesus iets soos die volgende in werklike opregtheid te sê:

“Jesus, ek hoor die klop aan die deur van my hart.
Ek besef nou, dat sonder U in my lewe is ek, ‘n sondige mens, verlore.
Jesus ek neem U aan as my Verlosser en Saligmaker en ek vertrou nou my lewe aan U toe.”

Nou soek jy, as ‘n saak van groot dringendheid, ‘n gemeente wat die hele Bybel as die Heilige Woord van ons Here aanvaar.
Besoek die gemeente op ‘n dag dat daar ‘n erediens aan ons Here is en maak na die diens ‘n afspraak met die herder van daardie gemeente vir verdere leiding.

Iemand vra:
“Hoe kan ek verseker weet, dat ek nou ‘n kind van ons Here is, as ek regtig in opregtheid alles ter harte geneem het en daarvolgens gehandel het, wat jy geskryf het?”
Dit is heerlik eenvoudig –
God Sê dit en het dit in Sy Woord vir ons laat skryf en God lieg nie.

NUM 23:19  God is nie ‘n mens dat Hy sal lieg nie.  Hy is nie ‘n mens wat ‘ekskuus’ sal sê nie.  Het Hy al ooit iets gesê wat Hy nie gedoen het nie?  Het Hy iets belowe wat Hy nie nagekom het nie?

Daar is ‘n gedeelte in die Woord, waar ons Here, wat nie kan lieg nie, alles, om dit so te stel, wat ek nou met jou gedeel het, pragtig saamvat:

JHN 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Dalk lees iemand hierdie gedagte uit die Woord, wat nog nie Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie.
Dan wil ek nou aan jou sê –
Jesus klop nou aan die deur van jou hart, daarom het jy tot hier gelees.

Nou is die Vraag aan jou:
Gaan jy oopmaak, of gaan jy die geklop ignoreer?

OPG 3:20   Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.
OPG 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon sit.

Groete,
Sakkie