ONS SAL DIE DOOD OORLEWE
Sakkie Parsons
Die groot gedagte wat my elke keer tref as ek hierdie gedeelte lees, is dit –
Ons gaan die dood oorlewe.
LUK 16:22-26 “Die arm man is dood en is deur die engele geneem na die ereplek langs Abraham. Die ryk man is ook dood en is begrawe. 23In die doderyk het hy verskriklike pyn gely. Toe hy opkyk, sien hy in die verte vir Abraham met Lasarus by hom. 24‘Vader Abraham!’ het hy uitgeroep, ‘kry my tog jammer en help my! Stuur asseblief vir Lasarus dat hy net sy vingerpunt in die water steek en my tong daarmee kom natmaak, want ek ly verskriklike pyn in hierdie vlamme!’
25“Maar Abraham antwoord: ‘My kind, jy moet onthou dat jy in jou lewe al die voorregte gehad het en Lasarus die moeilikhede. Hier is hy nou gelukkig en jy ly pyn. 26Maar dit is nie al nie. Daar is ook so ’n geweldige afgrond tussen ons en julle dat niemand wat hiervandaan na julle toe wil gaan dit sal regkry nie, en van julle af sal ook niemand ooit hiernatoe kan kom nie.’
Ek sal die dood verseker ingaan maar ek sal verseker die dood ook, om dit so te stel, uitgaan.
Elke mens wat lewe, kan van een ding heeltemal seker wees, ons sal die dood oorlewe.
Jy gaan jou oë eendag vir die laaste keer aan hierdie kant van die graf toemaak, of iemand gaan dit vir jou doen – en jy gaan jou oë aan die anderkant van die graf, (dit maak nie saak hoe jy begrawe is en of jy hoegenaamd begrawe is nie), oopmaak.
Wanneer jy jou oë aan die anderkant van die graf oopmaak, gaan dit, óf in die hel wees, of dit gaan in die Hemel wees.
Hoekom beland mense dan in die hel nog voor hulle geoordeel is?
Ek sien dit so:
As iemand op heterdaad betrap word dat hy of sy die wet oortree, word die persoon in hegtenis geneem en in die gevangenis gesit totdat sy saak voorkom en dan word hy gevonnis.
Omdat God alles van my weet, weet Hy ook asof ek op heterdaad betrap is, as ek hier uittree of ek my bekeer het of nie. Dan gaan ek na die hel/tronk en wag vir my vonnis.
Die oomblik as ek hier op aarde my asem vir die laaste keer uitblaas, is my toekoms onherroeplik vir ewig bepaal en ek en ek alleen is die een wat daardie toekoms bepaal het.
Ek stel dit altyd so:
Ons liefdevolle Here wil hê dat alle mense moet Hemel toe gaan, daarom het Hy toegelaat dat Sy Seun vermoor word. Tog gaan die meeste mense hel toe.
Besluite wat ek hier op aarde neem, bepaal waar ek die ewigheid gaan deurbring.
Ek kan nie vir my ‘n plek in die Hemel koop of verdien nie maar ek kan en gaan ‘n besluit hier op aarde neem, wat gaan bepaal waar ek die ewigheid gaan deurbring.
Ek besluit hier op aarde, dat ek Jesus Christus gaan aanneem as my Verlosser en Saligmaker, óf ek besluit hier op aarde, dat ek dit nié gaan doen nie en deur die besluit wat ek neem en uitvoer bepaal ek waar ek die ewigheid gaan deurbring.
Ek en ek alleen besluit hier op aarde of ek Jesus enduit gaan volg of ek besluit ek gaan Hom nie meer volg nie – maar die besluit wat ek neem, omdat ek nie ‘n marionet is nie, bepaal ook waar ek die ewigheid gaan deurbring.
JHN1:12-13 Maar almal wat Hom aangeneem en in Hom geglo het, aan hulle het Hy die reg gegee om kinders van God te wees. 13Om ’n kind van God te word, is ’n nuwe geboorte wat God aan ’n mens gee. Daarom verskil dit van die natuurlike geboorte wat kom deur ’n menslike vader en ’n menslike besluit.
JHN3:18-19 “’n Mens wat op Hom vertrou, word nie veroordeel nie, maar ’n mens wat nie hierdie vertroue het nie is reeds veroordeel omdat dit die enigste Seun van God is in wie hy nie wou glo nie. 19Die oordeel kom hierop neer: die Lig het na die wêreld toe gekom, maar die mense het die donker meer liefgehad as die lig, want wat hulle gedoen het, was sleg.
As jy, om dit so te stel, dit wat ek nou met jou deel, afsny tot op die been, werk dit so:
My plek is in die Hemel deur Jesus op Golgota gereserveer maar deur besluite wat ek hier op aarde neem, bepaal ekself, of ek my plek gaan inneem of nie.
By verreweg die belangrikste besluit wat ek ooit in my lewe geneem het, was toe ek besluit het om Jesus Christus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker, want daardeur het ek bepaal waar ek die Hiernamaals gaan deurbring!
Ons moet ook onthou, om nie te besluit nie, is in werklikheid klaar ‘n besluit.
Dit is Jesus wat hier praat:
MAT12:30 “As iemand nie by My staan nie, is hy teen My. En as iemand My nie help om die mense bymekaar te maak wat aan My behoort nie, is hy besig om hulle uitmekaar te jaag.
Ek moet nou tog nie dink dat ek maar kan sê, dat ek neem Jesus aan, net sodat ek die hel kan vryspring nie.
Glo vir my, daar is baie mense vandag, wat die Here dien, nie omdat hulle vir God lief is nie, maar omdat hulle baie bang is vir die hel en tog net asseblief nie in die hel wil beland nie.
Daar is selfs mense wat die Here dien, net sodat hulle in die Hemel kan beland, want hulle verstaan dit is so ‘n lekker plek.
Met groot respek gesê maar ek moet dit sterk stel, sodat jy die dwaasheid van sommige mense kan sien vir wat dit is.
God is nie ‘n idioot nie.
God is almagtig en Hy kan in jou en my hart sien en Hy sê:
MAT 7:21 “Dit is ook nie almal wat My ‘Here, Here, noem wat in God se nuwe ryk sal ingaan nie, maar dit is iemand wat doen wat my Vader in die hemel wil hê, wat daar sal ingaan.
As iemand vir my vra.
Wat is God se wil? Met ander woorde; Wat is God se, kom ons noem dit Sy ‘hoof wil’, waaruit alles vloei wat God van ons verwag?
JHN3:16 “God het die mense so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het. Iemand wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie maar hy sal die ewige lewe hê.
Eers wanneer ek Jesus wérklik aangeneem het, kan God se wil werklik in my gestalte kry. Eers dán kan ek God werklik in opregtheid liefhê en Hom in opregtheid aanbid.
Dit is Jesus wat hier praat:
JHN 4:23-26 Daar kom ’n tyd wanneer mense wat God werklik aanbid deur die Heilige Gees gelei sal word en hulle sal God met ’n eerlike hart aanbid. Daardie tyd het nou aangebreek. Die Vader wil hê dat mense wat Hom aanbid, so moet bid. 24God is Gees, en ’n mens wat Hom wil aanbid, moet gelei word deur die Heilige Gees en met ’n eerlike hart bid.”
25Die vrou sê toe: “Ek weet dat die Redder sal kom, die Een wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles leer.”
26“Dit is Ek!” sê Jesus: “Ek wat nou hier met jou praat, Ek is die Redder!”
Hoe wonderlik! God het hierdie wonderlike waarheid aan jou en my geopenbaar!
In ekstase juig ek saam met Paulus as ek daaraan dink, dat God my ook uitgekies het om hierdie waarheid te mag weet en dat ek deel daarvan kan wees.
ROM 11:33-36 Gee God die eer!
33Hoe wonderlik is God nie! Wie kan sy groot goedheid verstaan, of sy kennis en wysheid? Wie kan God se besluite verduidelik of die dinge verstaan wat God doen? 34In die Skrif staan dit so: “Sal ’n mens ooit die Here se gedagtes kan verstaan? Sal ’n mens ooit vir Hom kan raad gee? 35Kan ’n mens vir Hom iets gee sodat Hy dan by jou in die skuld is en dit weer vir jou moet teruggee?” 36Dit is God wat alles gemaak het, dit is Hy wat alles in die lewe hou, en alles moet Hom eer. Laat ons Hom dan eer tot in die ewigheid. Mag dit so wees.
Groete
Sakkie