ONS SAL NET SOOS JESUS WEES (GROEI KINDERS IN DIE HEMEL?)

ONS SAL NET SOOS JESUS WEES.

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra die volgende:

“Groei kinders in die hemel?”

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk:

Die Woord gee ons nie ‘n direkte antwoord op hierdie vraag nie.  Daarom moet ek  antwoord dat ek nie klinkklare bewyse het van hoe ons gaan verander as ons aan die anderkant van die graf arriveer nie.

Dit gesê, wil ek tog met jou ‘n gedeelte uit die Woord deel wat, so lyk dit vir my, die sluier rondom hierdie vraag lig maar voordat ek daarby kom, net die volgende:

Daar is by my absoluut geen twyfel nie dat alle kinders wat nog nie die toerekenbaarheid stadium in hulle lewens bereik het nie en gesterf het, by ons Here in die Hemel is.

Die toerekenbaarheid ouderdom, soos ek dit verstaan, is sodra ‘n kind daardie stadium in sy/haar lewe bereik het, dat die persoon ‘n keuse vir of teen ons Here kan maak en onthou, om nié te kies nie, is om téén ons Here te kies.  Want, wie nie vir Jesus is nie, is teen Hom.  In die verband lees ek:

Mat 12:30  Wie nie aan my kant is nie, is teen My.  En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.

Om terug te kom na wat ek gesê het; dat alle kinders wat nog nie toerekenbaar is nie en sterf, dat hulle in die Hemel is.

Jesus sê in die verband byvoorbeeld:

Mat 18:1-4 

1 In daardie tyd het die dissipels na Jesus toe gekom met die vraag:  “Wie van ons sal die belangrikste wees in God se koninkryk?”

2  Jesus roep toe ‘n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan.

3  Toe sê Hy:  “As julle nie wegdraai van julle sondige lewe en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie. 

4  Daarom is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste in God se koninkryk.

Is dit nie wonderlik nie?

Toe hulle wou weet wie die grootste is, toe wys Jesus hulle ‘n klein kindjie.

Op ‘n ander plek, stel Jesus volgens die Woord dit nog sterker:

Ons lees, en ek weet ek neem nou so effe ‘n afdraaipaadjie van die onderwerp onder bespreking af maar verdra my asseblief.

Mrk 10:13  En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf.

Mrk 10:14  Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.

Jy kan verseker weet, dat as Jesus sê:

MRK 10:14  … want aan sulkes behoort die koninkryk van God.

Wel dan, om dit so te stel, van die oomblik af dat ons Here daardie kind se siel in haar/sy moeder geplaas het:

MRK 10:14  … want aan sulkes (daardie kind) behoort die koninkryk van God.

Êrens, soms bewustelik en soms onbewustelik, in ‘n kind se lewe in haar/sy grootword jare, kom daar ‘n tyd, dat sy/hy toerekenbaar word en daar kies daardie kind, om dit so te stel.

‘Ek hou my aandele wat ek in die koningryk van God het of ek draai my rug op God.’

Dan – en dit is ‘n klein persentasie van die wie hulle rug op ons Here gedraai het – later in daardie mens se lewe is daar (en hoe wonderlik) mense wie, soos die verlore seun, weer terug draai en in ope arms deur hulle Vader ontvang word.

Terug by ons onderwerp onder bespreking:.

“Groei kinders in die hemel?”

In wat ek nou gaan sê, moet jy asseblief in gedagte hou – dit is net my opinie.

My groot held Paulus sê by geleentheid nadat hy ‘n stelling gemaak het:

1KOR 7:40  Ek is egter van opinie … En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is..

So in hierdie geval sê ek ook maar:

Ek is van opinie..  En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.

Ons lees in die Woord:

1JHN 3:2  Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie.  Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn.  Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.

As ons wat nog in hierdie lewe is wanneer Jesus gaan verskyn, “net soos Hy sal wees” is dit vir my net logies dat iemand wat Jesus aan die anderkant van die graf ontmoet, ook net soos Hy sal wees en dit geld na my mening vir babas reg deur tot by die oudste persoon wat as kind van ons Here aan die anderkant van die graf vir Jesus ontmoet.

Dus – Nee, ek glo nie babas groei aan die anderkant van die graf nie – hulle is net soos Jesus.  Net so word bejaarde mense ook nie geleidelik jonger nie.  Hulle is net soos Jesus – volmaak, perfek, regverdig, triomfeerlik.

Wat en hoe dit plaasvind weet ek nie maar die verandering gaan plaasvind.

Dit geld na my mening vir alle kinders van ons Here.  Ook hulle wat byvoorbeeld wreed vermink, verbrand, deur wilde diere opgevreet of soos ek wat blind is, ‘n gebrek het.

Prys die Here!

Ons sal soos Hy wees!

Dit is hoe ek die Woord na aanleiding van 1Johannes 3:2 verstaan.

Hoe heerlik om daardie ou koortjie te kan sing:

When we all get to Heaven,

What a day of rejoicing that will be.

When we all see Jesus,

We’ll sing and shout the victory.

Want my vriend/vriendin – Ons sal nie meer babas, oumense, vermink, gestremd, of wat ook al wees nie!

Ons sal volmaak net soos Jesus wees!

Kyk hoe word die woord ‘volmaak’ in Engels beskryf:

Excellence;

Faultlessness;

Rightness;

Precision;

Flawlessness;

Aptness;

Victory;

Completion

Triumphant

Uiteindelik en hoe heerlik, is dit al wat saak maak.

Wat gaan gebeur en hoé dit gaan gebeur weet ek natuurlik nie – maar dit gaan ‘n heerlike wonderlike verrassende gebeurtenis wees.                 

Groete

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.