OOR BYGELOWE

OOR BYGELOWE

Sakkie Parsons

Iemand vra my oor ‘bygelowe’ en ek het die persoon se vraag so ‘n bietjie verkort.

“Ek wil tog graag hoor wat jou mening is aangaande die spring van ‘n linker-oog, die van ‘n regter-oog en dan natuurlik ook die jeuk van ‘n linker- of regter-hand en/of voet.

Ek wil ook net so terloops noem dat ons hoor mos maar van praatjies oor wanneer dit ‘good’ of ‘bad luck’ is. Ek wil net self sê ek nooit rêrig geglo het in die goed nie tot ek dit self ondervind het. Wanneer my linker-voet jeuk, dan weet ek teen die tyd dat ons iewers heen op pad is, ons sal êrens heen ry.

My linker-hand in sommige gevalle, nie in alle gevalle nie, beteken dan dat ek geld gaan kry.. Wel soos ek sê; nie altyd nie, maar in meeste gevalle werk dit dan nou so uit.“

Hier is dan soos wat ek na hierdie soort ding kyk:

Hierdie tipe drek, staan in die volksmond bekend as ”bygelowe.”

Wat my aanbetref, behoort dit nie in die ware Christen se lewe eens te bestaan nie.  Want in ‘n Christen se lewe, is dit letterlik presies net dit –

Dit is ‘n geloof wat hy/sy by sy geloof in Christus voeg.

Of dan soos ons met reg sê, dit is ‘n “bygeloof, ‘n geloof wat bygekom het, by sy/haar geloof in Christus.

Die Engelse woord vir die woord “bygeloof,” is “superstition.”

Gaan jy na ‘n Engelse woordeboek en kyk wat is die Afrikaans vir “superstition,” lees jy:

superstition,\: bygeloof, bygelowigheid, waangeloof.“

Ek wil nou die een en ander in die persoon se skrywe, oor hierdie“bygelowe/waangelowe” met jou deel.

Ek sou nooit, toe my kinders nog in die huis gewees het, soms vir hulle byvoorbeeld, gesê het, dat ek iets aan hulle gaan gee en dit dan aan hulle gegee het en ander kere gesê het, dat ek dit aan hulle gaan gee en dit dan nie gedoen het nie.

Met ander woorde by hierdie vieslike optrede van my teenoor hulle, dat hulle na iets uitsien wat hulle nie gaan kry nie, nog lieg ook.

Die persoon skryf byvoorbeeld en ek lig dit waarna jy spesiaal moet oplet vir jou met”()” uit.

“Wanneer my linker voet jeuk dan weet ek teen die tyd dat ons iewers heen op pad is, ons sal êrens heen ry.

My linker hand (in sommige gevalle, nie in alle gevalle nie), beteken dan dat ek geld gaan kry. (Wel soos ek se; nie altyd nie)  maar in (meeste gevalle werk dit dan nou so uit).“

Om darem te dink, of te wil beweer, dat ons Here jou ‘n teken sal gee van byvoorbeeld geld wat jy gaan kry en dit dan gee en dan weer by ‘n ander geleentheid Hy weer vir jou dieselfde teken sal gee en dan so vieslik sal wees om te lieg en dit nie aan jou te gee nie, is vir my godslastering.

Ek, sondige mens sal dit nie eens met my kinders doen nie en Jesus sê by geleentheid:

Mat 7:9-11 

9   Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee;

10  en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee?

11  As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

Bygelowe/waangelowe wat mense met my deel, laat my altyd onthou hoe slu satan kan wees en dan onthou ek gewoonlik gevalle waarvan ek gehoor of self persoonlik van weet, soos die volgende geval wat ek beleef het en ek ken die mense van wie ek hier praat baie goed.

Jare gelede was daar ‘n man en sy vrou wat graag ‘n kombi wou gehad het.

Die vrou was baie opgewonde oor die gedagte en elke aand as sy by die huis gekom het, het sy haar man vertel, dat ons Here vandag vir haar net die kombi gewys het wat hulle moes koop.

Sy het later haar man sommer meer as een keer op ‘n dag geskakel, want ons Here het nou net die kombi gewys wat hulle moes koop.

Met groot respek en met die tong in die kies.

Dit het later gelyk, of ons Here nie Sy “mind” kon opmaak, van watter kombi hulle nou moes koop nie.

Sy was so behep met die gedagte van ‘n kombi koop, dat sy sonder dat sy dit self besef het, net waar sy gery het, vir kombi’s wat te koop is, gesoek het en as sy een gesien het, gedink het, dat dit ons Here is wat die kombi’s vir haar uitwys.

Dit is maar ook hoe dit met bygelowe/waangelowe werk.

Byvoorbeeld.

Ek het gehoor van die bygeloof, dat as my hand jeuk, gaan ek geld kry.

Eendag toe jeuk my hand en ek ontvang wraggies geld.

Nou glo ek dit is hoe dit werk en omdat satan my aanpor om dit te glo en ek na hom luister, vergeet ek van al die baie, baie kere in die verlede, dat ek ook geld gekry het en my hand toe nie gejeuk het nie.

Onthou kind van God –

As satan sien dat jy ontvanklik vir hierdie soort gemors is, sal hy daarmee met jou woer-woer speel en hy sal probeer woer-woer daarmee met jou speel tot in die hel.

Ek, kind van God,  het die Heilige Gees inwonend in my.

Ek het nie allerlei foefies van satan nodig om my leiding of wat ook al te gee nie.

As ek iets moet weet, of doen ens, sal my God se Gees wat in my is, sorg dat ek weet, of doen ens, wanneer ek moet weet, of doen ens, wat ek moet weet, of doen ens.

Ek moet net sorg, dat ek my geestelike oë en ore ingestel hou op ons Here.

JHN 14:26  maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Jesus se volgelinge luister net na een stem.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

Laat ek en jy wanneer iemand met ons oor “bygelowe/waangelowe” praat, ons die

volgend raad uit die Woord in ons harte sal oproep.

KOL 2:8-10 

8 Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.

9  Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;

10  en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag;

Dan nog net die volgende:

Die persoon noem ook van:

“Ek wil ook net so terloops noem dat ons hoor mos maar van praatjies oor wanneer dit good of bad luck is.”

Vir my, kind van ons Here, is daar nie so iets soos “good or bad luck,” of enige ander soort “luck” nie.

Ek weet, dat uiteindelik, al verstaan ek nie altyd alles wat met my gebeur nie, alles vir my ten goede meewerk en dit is nooit “luck” van watter aard ook al nie.

Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

So, onthou kind van God –

As jy met enige bygeloof/waangeloof begin mors – Met ander woorde as jy enige ander geloof/bygeloof/waangeloof by jou geloof in Christus voeg, is dit waarin jy glo nie meer suiwer die ware evangelie van Christus nie – en die Woord sê van daardie soort geloof:

Gal 1:8  Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!

Gal 1:9  Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.