OOR DIE VROU SE HOOFBEDEKKING

OOR DIE VROU SE HOOFBEDEKKING

Sakkie Parsons

Ek wil reg hier aan die begin van hierdie skrywe net weer noem dat ons Here op my hart gelê het, dat ek nooit iets moet skryf soos wat ek weet die mense dit wil hoor nie, maar altyd eerlik moet skryf soos ek glo.
So gebeur dit dan, dat ek dikwels kwaai die kop gewas word en soms, gelukkig nie baie nie, ook lelik beledig word.
Nou goed.
Iemand het my, my opinie gevra oor dit wat my groot held Paulus oor die hoofbedekking van die vrou sê.

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk.
Ek wil dan begin, deur dit baie duidelik te stel:

Ek is nie gered en gaan Hemel toe omdat ek hierdie of daardie nougeset doen nie.
Ek is gered en gaan Hemel toe omdat ek geantwoord het en die genade wat ons Here in Sy groot liefde my aangebied het, myne gemaak het.  Ja, ek is gered, want ek het Jesus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.

EFE 2:8  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
EFE 2:9  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

Ek wil begin deur te sê:  Ek het van af 1973 toe ek tot bekering gekom het, in my lewe ontdek en ervaar dat hoe nader ek lewe aan dit wat in die Woord geskryf is, hoe beter is my verhouding met ons Here en hoe meer en beter kon Hy my tot eer en verheerliking van Sy Naam gebruik.

Ek het ook ervaar, dat hoe meer die kerk, of dan sekere denominasies aan die wêreld toe gegee het onder die dekmantel van:
“Tye het verander.  Ons leef nie meer in daardie tyd nie.” –
Hoe swakker het hulle getuienis geword en soos wanneer jy ‘n misdaad pleeg, as jy eers eenkeer toegegee het aan die drang, in hierdie geval om mense te gemoet te kom ten spyte van wat in die Woord geskryf staan, word dit hoe later hoe kwater en kom jy naderhand op die plek soos ons ook by ‘n sekere denominasie gesien het.
Hulle het besluit om ondersoek in te stel, of saambly onder sekere omstandighede geoorloof is.
Nee, ek weet nie of hulle ondersoek al klaar is en wat hulle bevinding is, as daar een is nie.
Met ander woorde, so lyk dit vir my, hulle wonder of seks soms buite die huwelik, nie tog geoorloof is nie.
Ekself kyk so na die Woord –
Ons lees:

GAL 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,
GAL 4:5  om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

Vir my sê die Woord hier:  Toe die tyd presies reg was.  Toe alles presies reg in plek was, toe alles absoluut ideaal was wat die verkondiging van die Evangelie aanbetref, het God Sy Seun gestuur.

Ek deel met jou ‘n paar voorbeelde om te verduidelik wat ek bedoel.
Eers het Alexander (die grote) opgestaan en die hele wêreld soos dit toe bekend was verower en oral die Griekse alfabet gelos.  Die hele wêreld soos die mense die beskawing verstaan het, kon lees en skryf as hulle wou.
Na Alexander ontwikkel ‘n klein gehuggie tot ‘n magtige stad en die Romeine met hulle hoofstad Rome verower die hele beskaafde en nie so beskaafde wêreld en bou hulle uitstekende paaie maar nie net gee hulle vir die mense goeie paaie nie, hulle bring ook hulle kultuur en deel van hierdie kultuur is teregstelling deur kruisiging.
Nou het jy die Griekse alfabet.  Jy het die Roomse paaie en die kruisiging kultuur, saam met die Joodse kultuur met al sy gebruike en siedaar!
Ek verstaan wat ek lees, as ek lees.

GAL 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur ..

As ons Here iets uit die kultuur van destyds, toe die volheid van die tyd aangebreek het, gebruik en vir my in Sy Woord sê dat ek so moet lewe, wel dan sê ek:
“Prys die Here!”
Dan probeer ek na die beste van my vermoë om so te lewe.

So van kulture gepraat.
Nou het daar mos ‘n kultuur in die kerk ontstaan, of sal ek sê die kultuur het in baie denominasies in die kerk ontstaan om iets soos die volgende te verkondig:
“Tye het verander.  Destyds toe die volheid van die tyd aangebreek het, het hulle dinge so gedoen maar ons hoef dit nie meer vandag te doen nie, al staan dit in die Woord dat ons dit moet doen, want ons leef in ‘n ander tyd en tye het verander.”
In hierdie verband wil ek begin deur die volgende uit die Woord te kwoteer.

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome

ROM 15:4  Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
ROM 15:5  En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus,
ROM 15:6  sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.

Luister my vriendin, luister my vriend:

HEB 13:7  Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.
HEB 13:8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
HEB 13:9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; …

Hierdie Jesus wat nooit verander nie, wat gekom het toe die tyd in alle opsigte presies reg was.  Ja, toe al die kulture ook net reg was om ons alles te leer omtrent die Evangelie wat ons moet weet en wat ons moet doen.  Vanaf die teregstelling deur kruisiging-kultuur, tot by die kultuur waaroor Paulus met die Griekse alfabet geskryf het.

Onder andere skryf hierdie Paulus, aan wie ons Here die grootste gedeelte van Sy instruksies aan sy volgelinge toevertrou het die volgende:
Hy maak ‘n stelling wat baie vroue om dit sag te stel nie in glo nie en wat baie herders en denominasies wat dit eers verkondig het ook nie meer in glo nie, want:
“Ja, ek weet dit staan in die Woord maar tye het mos verander, ons leef mos nou in ander tye.”
Paulus begin (1Kor 11) waarvan baie mense bly sou gewees het, as ons Here tenminste nie hom die eerste gedeelte laat skryf het nie maar al het ons Here Paulus dit laat skryf, glo baie mense nie meer vandag dat dit op hulle van toepassing is nie.

1KOR 11:1  Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.

Dan, wat die mense van vandag aanbetref, wat mos “in tye leef waar dit nie meer van toepassing is nie,” laat hy hierdie bom bars:

1KOR 11:5  maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; …

Onthou nou, dat Paulus, die man aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het en wie ons Here 1KOR 11 as volg laat begin het:

1KOR 11:1  Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.

Dan laat hierdie Paulus ons baie duidelik verstaan hoe hy ‘n navolger van Christus is, teen die agtergrond van die kultuur van sy tyd wat in plek was, (toe die volheid van die tyd aangebreek het).
Wat jy nou gaan lees, moet jy lees terwyl jy onthou, dat van hierdie Christus wie se
navolger Paulus gewees het, die volgende in die Woord geskryf word.

HEB 13:8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
HEB 13:9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; …

Net ‘n bietjie verder, nadat Paulus, wat die hedendaagse mens aanbetref, die 1KOR
11:5 bom laat bars het, sê hy:
 
1KOR 11:10  Daarom moet die vrou ‘n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.

Sien jy?
Hoekom moet die vrou se hoof bedek wees?

1KOR 11:10  Daarom moet die vrou ‘n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.

Nou vra ek maar net vir almal maar veral vir hulle wat dit eers uitgelewe het maar in die tussentyd ‘n “tye het verander” openbaring gekry het.
Het die engele in die tussentyd van Jesus se kruisiging af verander?
Het Jesus in die tussentyd van na Sy hemelvaart verander?
Het iets in die Hemel vanaf, toe die volheid van die tyd aangebreek het verander?
Ek weet nie hoekom die Woord sê ‘ter wille van die engele’ nie maar die Woord sê vir my.

1KOR 11:10  Daarom moet die vrou ‘n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.

En vir my is dit goed genoeg, dat die Woord dit sê.  Want so ver my kennis strek, het nie my Jesus of dinge in die Hemel, wat die engele insluit verander nie.

Daar is twee teorieë wat ek van weet, waarom ‘n vrou se hoof ter wille van die engele bedek moet wees maar omdat daar geen getuienis in die Woord is wat vir my sê dat dit die rede is waarom ‘n vrou se hoof “terwille van die engele” onder sekere omstandighede bedek moet wees nie en omdat hierdie skrywe al klaar baie lank gaan wees, gaan ek dit nie eens noem nie.
Die kerk het na my mening oor die jare sy getuienis groot skade aangedoen met sy teologie van:
“Tye het verander, hulle het dinge so gedoen maar ons doen dinge nou anders, omdat die tye verander het.”
Watter verweer wat krag het, het die mense, wat hierdie of daardie uit die Woord haal, “omdat tye verander het,” as ek byvoorbeeld sou verkondig.
Daar staan geskrywe:

HEB 10:25  en laat ons, ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, …

Tye het verander.
Ons is vandag baie besiger as die mense destyds maar nou het ons internet, radio, TV en
selfone.
Ek betaal byvoorbeeld oor die foon geld in liefdadigheid organisasies se rekeninge en
ek was nog nooit naby hulle nie.
Ek bemoedig mense in Iran, China, Oostenryk en Amerika, om maar net ‘n paar lande
te noem omdat hulle so ver uitmekaar lê.
Ek preek meer as een keer ‘n week oor die hele wêreld. Ek gee raad en bid saam met mense in baie, baie lande.
Mense kry die Evangelie van Jesus van my en van baie, baie ander mense in hulle
kantore op ‘n daaglikse basis.
So, jy kan maar Sondag ‘n bietjie laat slaap en die dag rustig vat om gereed te wees
vir die besige week wat voorlê.  Jy gaan mos feitelik op ‘n daaglikse basis Evangelie
kry en wat meer is, jy gaan deur dit dan uit te stuur baie meer geleentheid kry om te
evangeliseer, as wat jy gaan kry deur Sondag in die kerk te sit.  So, jy hoef nie meer
vandag die onderlinge byeenkomste by te woon nie.  Want jy sien:
“Tye het verander, ons leef nou in ‘n ander tyd.”

Vir my lesers wil ek net dit baie duidelik stel.  Dit is beslis nie wat ek verkondig nie.
Hoe kyk ek uiteindelik na al hierdie dinge?

Hoe nader ek aan die Woord lewe, hoe beter is my verhouding met ons Here en hoe
duideliker hoor ek Sy stem.

So vrou, ek verkondig nie dat jy sal hel toe gaan omdat jy nie met ‘n hoofbedekking
in die erediens sit nie.
So man, ek verkondig nie dat jy sal hel toe gaan as jy met ‘n “Stetson” op
jou kop in die kerk sit, of agter die preekstoel staan nie.
In hierdie verband sê ek, soos my groot held Paulus van ons verhouding
en lewe saam met Jesus sê:

1KOR 3:11-15 
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12  En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Wat myself aanbetref:
As die Woord iets uit die kultuur, wat in plek was toe “die volheid van die tyd” aangebreek het, gebruik om my te wys, wat ons Here van my verwag –

MAT 16:24  Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.

Dan doen en verkondig ek dit, al verstaan ek nie altyd hoekom baie mense se kruise is wat dit is nie.
As die Woord iets uit die kultuur, wat in plek was toe die volheid van die tyd aangebreek het, gebruik om my te wys, wat ons Here van my verwag –

1KOR 11:7  Want ‘n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; …

Wel dan doen ek dit, al verstaan ek nie altyd die logika daaragter nie.  Veral nie as ek
soms na myself en my eie lewe kyk nie.

Soos ek van tevore gesê het, sê ek nou maar weer.
Die mense wie ons Here destyds gebruik het om die Nuwe Testament tot stand te bring, was die instrumente in ons Here se hand.  Of as jy wil, die penne waarmee Hy geskryf het.
Enige iemand wat beweer:
“Tye het verander.  Ons doen dinge nou nie meer soos hulle dit gedoen het, toe die volheid van die tyd aangebreek het nie.” plaas na my mening, ‘n limiet op die almag en alwetendheid van ons Here en dit vir my is, net nog ‘n manier waarop ons Here in hierdie’ tye wat verander het’ gelaster word.

Ten slotte nog net dit.
Gaan dink ‘n bietjie hieroor:
Hoekom hierdie snaakse fenomeen?
Hoekom is daar vroue wat geen probleem het om ‘n hoofbedekking na enige ander
plek te dra nie, behalwe asseblief tog, net nie na ‘n plek waar mense saam ons Here
aanbid nie.

Groete,
Sakkie