OOR HEILIGMAKING

 

Iemand het my, my opinie oor 1PET 1:15-16 wat handel oor Heiligmaking gevra.

Ek deel graag met jou my antwoord aan die persoon, soos ek dit verstaan en sommige Skrifte herhaal ek uit die Nuwe Lewende Vertaling omdat dit so mooi verstaanbaar is.

Om mee te begin:
Vir my is dit net logies, dat as ons Here van my verwag om iets te doen of te bereik, dit verseker haalbaar en moontlik is.
Lees eers hier:

1PET 1:15  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
1PET 1:16  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

Hierdie saak, want ek wil dit nie ‘n probleem noem nie, verdiep as te ware nog meer as jy onthou dat daar geskryf staan:

Dit is Jesus wat hier praat:

MAT 5:48  Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Ek glo, dat heiligmaking begin en eindig by die liefde vir God en my medemens.
Laat ek verduidelik.
Paulus skryf:

KOL 3:10-14 
10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,
11  waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.
12  Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
13  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
14  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

Lees gou hier wat het Jesus oor die liefde gesê, die eerste keer toe Hy in die Woord daaroor gepraat het.
Gee veral aandag aan Sy woorde as Hy die onderwerp waaroor Hy praat afsluit:

MAT 5:43-48 
43 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.
44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;
45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.
46  Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie?
47  En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie?
48  Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Onthou jy wat Jesus oor die wet gesê het?

MAT 5:17  Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.

Jesus het die tugmeesterwet, wat ‘n streng tugmeester gewees het om die mens in lyn te hou, verander in die Liefdeswet.

GAL 3:24  Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

Lees gou hier, hoe het Jesus die tugmeester in liefde verander:

MAT 22:35-40 
35  En een van hulle, ‘n wetgeleerde, het ‘n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:
36  Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

As ek ons Here liefhet soos wat Jesus sê dat ek Hom moet liefhê, sal ek nie met opset dit doen wat Hom teleur sal stel nie. 
Ek sal voluit daaraan werk om juis die teenoorgestelde te doen.

As ek my naaste lief het soos myself, dit is wat Jesus van my verwag, sal ek vir my naaste soos vir myself, net die beste wil hê.
Natuurlik sal ek nog, omdat ek mens is faal – maar hier is vir my die kruks van die saak:

Nooit sal ek met opset iets teen ons Here verkeerd dink, sê of doen nie.

Iemand sal nou sê:
“Ek kan verseker op myself van toepassing maak dit wat jy nou geskryf het.”
“Nooit sal ek met opset iets teen ons Here verkeerd dink, sê of doen nie.”
Ek sê, jy doen goed maar onthou dat presies dieselfde verwag ons Here van my optrede teenoor my naaste.  Want daar staan dit geskryf:

MAT 22:39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

ROM 13:8  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.

Het jy al met iemand te doen gehad wat vol van die liefde van ons Here is?
Ek het al.  Ek het ook die voorreg om sulke mense te ken.
Soms, nie altyd nie, want ongelukkig is ek nie altyd so ingestel nie maar baie van die tyd as ek met hulle deel, want ek probeer om altyd so ingestel te wees en weet ek, ek is nou in die teenwoordigheid van iemand wat baie naby ons Here leef.  Iemand wat werklik na heiligmaking strewe.  Want, ek voel sommer by hulle die Liefde wat ons Here van praat.

Ten slotte wil ek jou nog iets wys.
Daar staan geskrywe:

1KOR 13:13  En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

Iemand redeneer dalk:
“Hoe is dit moontlik, dat by ons Here, my geloof in Hom aste ware minder tel as my liefde vir Hom?”
Iemand anders sal dalk byvoeg:
“Hoe is dit moontlik dat my hoop op ons Here minder by Hom tel as my liefde vir Hom?”
Want die antwoord is –
God is Liefde!!!

1JHN 4:7  Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.
1JHN 4:8  Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

So my vriend/vriendin:

1PET 1:15  Julle totale leefstyl moet nou heilig wees, soos God heilig is – Hy wat julle sy kinders noem.
1PET 1:16  Hy het immers self gesê: Wees heilig, want Ek is heilig.

MAT 5:48  “Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in sý liefde is. Hy het mos álle mense lief.”

Onthou my vriend/vriendin, vir ‘n kind van God, ‘n wáre Christen, is die liefde vir ons Here en my medemens nie onderhandelbaar nie.

MAT 5:43-48
43“Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy moet jou eie mense liefhê, maar jy hoef nie jou vyand lief te hê nie.’
44 Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg.
45 Só sal julle optree soos ware kinders van julle hemelse Vader. Hy laat immers sy son opgaan oor slegtes en goeies. En Hy laat sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen.
46 “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter beloning is daar dan vir julle? Selfs korrupte tollenaars doen presies dieselfde.
47 En as julle net julle eie mense groet, wat besonders doen julle dan? Doen die ongelowiges nie ook maar dieselfde nie?
48 “Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in sý liefde is. Hy het mos álle mense lief.”

MAT 22:37-40 
37Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

1JHN 4:12  Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.

Ek sluit af met die volgende gebed uit my hart uit en ek vra as jy die gedeelte wat ek nou gaan kwoteer, elke keer wat jy “julle” lees, asseblief “ons” ook sal lees.  Want, ek soos baie van ons, het nog harde werk voor wat hierdie saak aanbetref en daar staan geskryf:

HEB 12:14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

Hier is dan nou my gebed vir jou en my en almal wat hierdie skrywe lees:

1THS 5:23  En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

Groete,
Sakkie