PAS TOG OP DAT JY NIE GEESTELIK VERONGELUK NIE

PAS TOG OP DAT JY NIE GEESTELIK VERONGELUK NIE

Sakkie Parsons

Ek het met iemand ‘n gesprek gehad oor die volgende gedeelte uit God se Woord, en ek wil graag met jou ook deel wat in my hart opgekom het. Ek wil vra dat jy my tog duidelik verstaan. Ek praat nie hier van mense soos ek, wat dikwels struikel nie.

JAK 3:2  “Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.”

Ook nie van dié wat sogenaamd teruggeval het nie.

Ek praat van iemand wat sy of haar rug, willens en wetens, geheel en al op ons Here draai. Hier is die gedeelte uit God se Woord 

HEB 6:4-8 
4 “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.
7  Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God.
8  Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking—die einde daarvan is verbranding.”

Ek verduidelik hierdie gedeelte altyd so: Stel jou voor jy sit op ‘n stoel, op die rant van ‘n afgrond. Die stoel staan met sy rugkant na die afgrond toe en die agterpote van die stoel is so 10 sentimeter van die rant af.

Nou gaan sit jy op die stoel en jy leun agteroor, dat die voorste pote van die stoel net oplig en weer afgaan grond toe.

Jy kan nou probeer om die voorpote nog hoër te lig en so kan jy eksperimenteer om te kyk hoe vêr jy agteroor kan gaan en weer terugkom, maar daar is ‘n punt – die Engelse noem dit “The point of no return,” dan gaan jy agteroor val en jou nek breek.

Daar is mense wat speletjies met die satan speel en omdat hy ‘n god is, al is dit die god van die bose, is al wat gebeur dat hulle hul geestelike nekke breek.

Daar is mense wat verkondig, eenmaal gered, altyd gered en een van die gedeeltes wat hulle gebruik om hul punt te staaf is die volgende:

ROM 8:38  “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge
ROM 8:39  of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

In die gedeelte wat jy nou net gelees het, dek my groot held Paulus alles en almal buiten vir een en dit is jyself. Die naaste wat hy aan jou kom is “of enige ander skepsel .“

Alles wat hy hierbo noem, plus “enige ander skepsel” of dan mens, kan jou nie skei van God of Sy liefde nie, behalwe jy.

Jy sien, God het jou ‘n Wil gegee en God neem nie daardie Wil weg wanneer jy jou bekeer nie. Jy word nie na jou bekering ‘n marionet van God nie. Jy word Sy kind en as Sy kind, het jy ook Sy eienskappe en een van daardie eienskappe is dat jy jou eie Wil het. Daarom dan ook dat Jesus sê:

MAT 24:42-44 
42  “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
43  Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.
44  Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Soos ek Jesus geleer ken het, het en sal Hy nooit iets sê sommer net om iets te sê nie.  So – as Jesus sê dat ons moet waak, dan beter ons waak, of ons gaan ons geestelike nekke breek.

Vir my een van die beste voorbeelde van iemand wat sy rug op God gedraai het en God openlik tot skande gemaak het, was Judas. Kom ons kyk gou na Judas. Jesus het, jy kan maar sê, vir Judas met die hand uitgesoek:

MAT 10:1-4 
1 “En Hy het Sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.
2  En dit is die name van die twaalf apostels: die eerste Simon wat Petrus genoem word, en Andréas, sy broer; Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer;
3  Filippus en Bartholoméüs; Thomas en Matthéüs, die tollenaar; Jakobus, die seun van Alféüs, en Lebbéüs wat genoem word Thaddéüs;
4  Simon Kananítes en Judas Iskáriot, die een wat Hom verraai het.”

Judas was een van die uitverkorenes:

MAT 10:4  “Simon Kananítes en Judas Iskáriot, die een wat Hom verraai het.”

Judas kon onrein geeste uitdryf en Judas kon mense die hande oplê en elke siekte en elke kwaal sou genees het:

MAT 10:1  “En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.”

Judas het egter met die satan begin speletjies speel.

Ek dink aan die begin het hy seker net ‘n bietjie gesteel, maar dit het al hoe erger geword, totdat selfs wat vir die Here gedoen word, vir hom ‘n probleem was:

JHN 12:4-6 
4 “Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskáriot, die seun van Simon, wat Hom sou verraai:
5  Waarom is hierdie salf nie vir drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie?
6  En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ‘n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het.”

So het hy al hoe verder gegaan, totdat hy letterlik en figuurlik sy nek gebreek het:

MAT 26:14-16 
14 “Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters
15  en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg.
16  En van toe af het hy ‘n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.”

Hy het ook berou gekry en wou verskriklik graag terugkeer, maar jy sien, hy was “past the point of no return.”

So met die tong in die kies wil ek net sê dat dit baie lekker sou wees indien dit so gewerk het – eenmaal gered altyd gered. Dan hoef die arme herders van gemeentes nie so hard te gespook het om hul skapies op die regte pad te hou nie.  Dan kon hulle die mense net gou tot bekering gelei het en gelos het en al hul energie op die volgende siel spandeer het, maar nou is daar ek met my wil, en die satan met sy listigheid en slinksheid.

Mag dit vir jou ‘n wonderlike dag wees en moet tog nie speletjies met satan speel nie.

 

Nog meer antwoorde oor hierdie onderwerp wat ek met graagte op bestelling aan jou stuur is die volgende:
Kan ek as Christen my redding verloor?
Bly in alle omstandighede op julle hoede
Wie 'n oor het laat hom hoor
Is eenmaal gered altyd gered?

 

 

Groete,
Sakkie