SAAMWEES – DIE VET JARE VOOR DIE MAER JARE

SAAMWEES – DIE VET JARE VOOR DIE MAER JARE.

Sakkie Parsons

GEN 41:35-36
35 En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre. 
36 So sal dan die voedsel ‘n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood te gronde gaan nie.

Hierdie een groot lewensles wat ons Here die afgelope tyd weer so duidelik onder my aandag gebring het wil ek graag met jou deel wat my baie diep raak, omdat ek ‘n pad met my vrou gestap het en ek net weer tot die besef gekom het van hoe ontsettend kosbaar is elke oomblik saam met diegene vir wie jy lief is. Om hierdie rede wil ek net weer graag hierdie groot waarheid wat ons Here op my hart gelê het, met jou deel:

Maak die meeste van saamwees met jou geliefdes.

Omrede ek, soos ek reeds genoem het, ‘n pad gestap het saam met my lewensmaat onthou ek soms al die baie goeie tye van die verlede wat ek maar net as vanselfsprekend aanvaar het. 

Kom ons maak ons skure vol goue oomblikke en lieflike herinneringe saam met ons lewensmaats, kinders en geliefdes.

1 PET 4:8 Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê, al tap dit julle energie.  Sulke liefde maak baie sondes toe.

1 JOH 4:7 Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want ware liefde is van God afkomstig.  Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik.

SPR 17:9 Iemand wat stilbly oor onreg teenoor hom, bevorder liefde tussen mense. Om gedurig daaroor te praat, dryf vriende uitmekaar.

1 JOH 4:12 Niemand het God nog ooit gesien nie;  as ons egter aanhou om mekaar werklik lief te hê, leef God in ons optrede en het Sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom.

Weet jy ons maak darem ontsaglike baie foute in ons lewe, soos om die geleenthede saam met ons geliefdes soms nie ten volle te waardeer nie en dit is maar goed dat ons Here ons nie aan almal herinner nie.  Want dan sal ons een groot self verwysende wese gewees het.

Hoe wonderlik heerlik om selfs ook in die maer jare in ons lewens te weet:

PSM 145:8 Genadig en barmhartig is die HERE, stadig om kwaad te word, en ryk in liefde.

Hy gee sonder voorbehoud of verwyt..

JAK 1:5 Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie.  Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie.

My groot gedagte egter deesdae as ek mense by mekaar hoor, wat lief vir mekaar is, is: “Dank God en waardeer en geniet elke kosbare oomblik saam.”

Want dit maak nie saak wat jy doen nie.  Een of ander tyd gaan daardie saamwees, wat hierdie lewe aanbetref,  tot ‘n einde kom, omdat of die een of die ander hierdie lewe vir die Ewige Lewe gaan verruil, en as jy nóú die beste van die tyd en geleentheid maak wat ons Here jou gee, gaan jy te heerlik skure vol lieflike herinneringe hê wanneer die maer jare kom, soos wat hulle verseker gaan kom, as jy die een is wat agterbly en die maer jare moet trotseer.

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af met hierdie heerlike gedeelte uit ons Here se kosbare Woord, as my wens vir jou en jou lewensmaat en/of jou geliefdes vir wie jy lief is:

FIL 1:9-10
9 Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ‘n al beter begrip en ‘n fyn aanvoeling ontwikkel.
10 Dit sal julle in staat stel om dié dinge te onderskei wat regtig saak maak.  Dit sal julle ook help om skoon en onberispelik te lewe tot op die dag wanneer Christus terugkom.

Groete,
Sakkie