SAL EK UIT DIE HEMEL GEGOOI WORD AS EK DAAR IS?

SAL EK UIT DIE HEMEL GEGOOI WORD WANNEER EK DAAR IS?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra die volgende en ek gee ‘n verkorte weergawe van die persoon se vraag aan my:

“Ek wil weet wanneer ek Hemel toe gaan, kan ek uit die Hemel gegooi word? Dis nou nadat ek my lewe vir God gegee het. My liggaam is nou begrawe en ek leef in die hemel. Al hoekom ek vra – die duiwel was ‘n engel en is uit die Hemel gegooi.”

In die persoon se skrywe aan my kom dit hierop neer, as satan wat ‘n gerub was, in die Hemel kon gesondig het, hoekom sal die begeerte na sonde nie by my ook opkom nie?

Hier dan is hoe ek hierdie vraag se antwoord in my hart uit die Woord verstaan:

Eers moet ek besef wat of wie satan in die Hemel was, en dan moet ek natuurlik ook weet, om dit so te stel, wie en wat ek in die Hemel gaan wees.

Kom ons kyk gou wat sê die Woord oor satan en wie of wat hy in die Hemel was. Die gedeelte uit ESE 28:13-15, wat ek nou uit die Woord gaan kwoteer en op satan van toepassing maak, is eintlik oorspronklik op die koning van Tirus van toepassing. Ek is egter van mening, dat dieselfde soort simboliek hier van toepassing is as wat ons in  MAT 2:14-15 sien wat verwys na HOS 11:1. Veral as jy onthou dat die koning van Tirus byvoorbeeld nie in die Tuin van Eden kon gewees het nie. Ons lees in MAT 2:14-15 die volgende:

MAT 2:14Josef het toe opgestaan en nog daardie selfde nag met die Kindjie en sy ma na Egipte toe vertrek.

MAT 2:15 En hulle het daar gebly tot Herodes se dood.  So is wat die Here deur die profeet gesê het, vervul:  “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.””

Ons lees in HOS 11:1

HOS 11:1Ek het Israel liefgehad toe hy nog ‘n kind was.  Ek het my seun uit Egipte geroep.”

In HOS 11:1 lees ons van Israel, die balhorige, onvolmaakte kind en in MAT 2:15 lees ons van Jesus, die gehoorsame, volmaakte kind.

Terug by ons vraag oor of ek in die Hemel sal kan, of natuurlik wil, sondig. Wie en/of wat is satan?

Die satan – soos ek dit uit die Woord verstaan – was geskep as ‘n gerub. Die satan was om mee te begin, nie na die beeld van God geskape soos jy en ek nie. Gerubs is ook, soos ek dit uit die Woord verstaan, van die hoogste soort engele, of dan as jy wil, hoogste soort Hemelse wesens onder die engele in die Hemel, maar dit het toe na sy kop gegaan en toe word hy uit die Hemel gegooi.

Ek deel graag met jou in hierdie verband, die volgende voorbeeld uit die Woord, maar daar is ook nog meer. Onthou nou as jy dit lees, die koning van Tirus was nie in die tuin van Eden nie en verseker was hy ook nie ‘n gerub wat oor alles in die skepping aangestel was, om dit op te pas nie:

ESE 28:13-15 

13 “Jy was in Eden, die tuin van God. Jou klere was versier met kosbare stene:  robyn, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois,

en smarag.

Hulle was almal in goud geset. Jy het dit gekry die dag toe jy gemaak is.

14  Jy is aangestel as die gerub wat alles oppas. Ek het dit so bepaal. Jy was op die heilige berg van God. Tussen glinsterende edelstene het jy rondgestap.

15  Jy was onbesproke in alles wat jy gedoen het, vanaf die dag dat jy geskep is tot op die dag toe boosheid in jou gevind is.”

So, satan was die gerub wat onbesproke was en wat alles, soos ek dit verstaan, in die skepping moes oppas.

As hy alles moes oppas, bly daar mos niks oor wat hy nie opgepas het nie. Dit dan nou wat satan se mag en status was.

In Openbaring lees ons die belofte dat satan, die dood en die doderyk in die poel van vuur gewerp sal word:

OPB 20:10 Die satan wat hulle verlei het, is daarop in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die monster en die vals profeet ook reeds is.  Daar sal hulle dag en nag vir altyd gefolter word.

OPB 20:14 Die dood en die doderyk is toe in die vuurpoel gegooi.  Dit is die tweede dood – die poel van vuur.

OPB 20:15 En as dit geblyk het dat iemand se naam nie in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Ons lees ook die belofte:

OPB 21:3 Ek het toe ‘n kragtige stem van die troon af hoor sê:  “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan.  Hy sal by hulle bly, en hulle sal Sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God.  4 Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie.  Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie.  Die ou dinge het eenvoudig verbygegaan.”

Ons lees ook die belofte dat geen sonde in die Poorte van die HERE sal ingaan nie:

OPB 21:27 Niks wat besoedel is en niemand wat gruwelik en vals optree, sal ooit hulle voete in die stad sit nie, slegs dié wat opgeskryf is in die Boekrol van die Lewe, dit is die boekrol van die Lam.

OPB 22:14 Gelukkig is dié wat hulle klere skoon was sodat hulle aanspraak mag hê op die boom van die lewe, en mag ingaan deur die poorte van die stad.  15 Al die onreines bly buite – die towenaars, die onsedelikes, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en beoefen.

Alleenlik wanneer jy Jesus Christus aanneem as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker, word jy gered.

JOH 14:6 Daarop het Jesus gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die leweNiemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Nou, om dit so te stel – Wie of wat gaan ek en jy in die Hemel wees?

Ek kon nou baie voorbeelde gebruik het om te staaf wat ek sê, maar hierdie skrywe is al klaar lank, so ek volstaan met die volgende en onthou as jy dit lees, dat jy reeds na die beeld van God geskep is. Dit alleen gee jou in die Hemel ‘n voorsprong bo hemelse wesens, wat omtrent so groot is as wat die ooste verwyderd is van die weste.

ROM 8:16 Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.

ROM 8:17 En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook Sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in Sy heerlikheid.”

In ‘n ouer vertaling lees Romeine 8:17 as volg:

ROM 8:17 “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”

Kom ons lees net gou een gedeelte uit die Woord wat hierdie Jesus beskryf saam met wie jy en ek gesamentlik, of dan mede-erfgename gaan wees:

JOH 1:1 “Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God.

JOH 1:2 Hy was reeds in die begin by God.

JOH 1:3 Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.”

Net ingeval iemand dalk dink dat dit wat jy nou gelees het, nie van Jesus praat nie, deel ek met jou die volgende:

JOH 1:14 “En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid duidelik gesien, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.”

So, presies hoe jy en ek, om dit so te stel, gaan lyk, anders gestel – hoe ons statuur daar gaan uitsien, weet ek nie, maar ek weet dat satan nie ‘n mede-erfgenaam saam met Jesus was nie.  Die satan was in vergelyking met wat jy en ek gaan wees, maar net ‘n gerub wat oor alles aangestel was.

Dit, hoe groot ens dit ook al was, as jy dit wil vergelyk met wat jy en ek in die hemel gaan wees, beteken van waar ek staan en kyk, hy was niks.

Om dus te vra of dit moontlik is dat jy of ek in die Hemel kan sondig, is om uiteindelik te wonder of Jesus saam met wie ons mede-erfgename gaan wees, dalk in die Hemel kan sondig.

Sal jy in die Hemel wil sondig?

Het jy Jesus werklik aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?

Wel dan, ek weet nie presies hoe dit gaan werk nie maar ek weet:

FIL 3:21Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos Sy eie.  Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder Sy gesag bring.”

Om dan my antwoord op die vraag, of ek sal wil sondig in die Hemel, te antwoord.

So onmoontlik soos wat Jesus sal wil sondig in die Hemel, so onmoontlik sal ek wil sondig in die hemel.

ROM 8:29Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos Sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.”

Ander gedagtes uit die Woord wat ek geskryf het, wat handel oor dinge in en om die Hemel is die volgende en ek stuur dit graag op aanvraag aan jou.

* Die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

* Sal ons in die hemel mekaar herken

* Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel

* Oor die derde Hemel en ons loon.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.