SAL GOD MY VERGEWE? DEEL 1

SAL GOD MY VERGEWE? DEEL 1

Sakkie Parsons

Die skrywe oor dit wat ek nou met jou gaan deel was op die ou einde ‘n bietjie lank en ek het dit goed gedink om dit toe in twee te deel.

Hier volg dan deel een.

Iemand het my gekontak en gevra, of ek nie iets sal skryf oor ons Here se vergifnis nie.  Want haar suster se seun wil nie kerk toe gaan nie, omdat hy sê, dat vir wat hy aan sy ma gedoen het, sal ons Here hom tog nooit vergewe nie.

Kort na hierdie mededeling aan my, soos ons Here maar altyd in Sy groot liefde met my werk, lees ek ‘n gedeelte in die Woord en ons Here wys my dit wat ek nou met jou wil deel.

Voordat ek egter met jou deel wat ons Here my gewys het, net die een en ander heerlike wonderlikheid wat die Woord vir ons sê oor ons wonderlike liefdevolle Here se kyk na ons, as ons in opregtheid ons sonde bely.

1 JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

In die Ou Vertaling lees hierdie gedeelte so: 

1JHN 1:9  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Wat bedoel ons Here, of dan wat behels dit alles, as ons Here sê, dat Hy sal ons sonde vergewe en ons reinig van al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, as ons, soos ek dit verstaan, in werklike opregte berou ons sonde bely.

Hoe wonderlik!  Lees net hier –

JES 1:18 “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die HERE.  “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder.  Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het.  Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol.”

Daar is ‘n gesegde wat sê:

“Hy is so goed soos sy woord.”

Wel van ons Here wil ek die volgende getuig:

Ons Here se Woord is so goed, waar, standvastig en ewig, soos Hyself en nou kom ek by dit wat ons Here my weer gewys het, kort na my gesels met die dame wat ek jou hier bo van vertel het.

Omdat ek wil hê, jy moet dit aste ware op wit en swart voor jou hê en omdat daar mense gaan wees, wat die geskiedenis so ‘n bietjie vergeet het, gaan ek heelwat gedeeltes uit die Woord plaas en daarom dan die rede dat hierdie skrywe in twee dele verdeel word.

Dit wat ek met jou wil deel begin hier:

2SAM 11:2-4 Laat een namiddag, nadat hy gerus het, het Dawid opgestaan en op die dak van die paleis geloop.  Van die dak af sien hy ‘n besonder mooi vrou wat besig was om te bad.  3Hy stuur toe iemand om uit te vind wie sy is.  “Dis Batseba, die dogter van Eliam en vrou van Urija die Hetiet,” verneem hy.  4Dawid het haar laat haal.  Sy het so pas die reinigingsrituele na haar maandstonde voltooi.  Toe sy by die paleis kom, het hy met haar gemeenskap gehad.  Daarna het sy teruggegaan na haar huis toe.

Dit was natuurlik ‘n verskriklike sonde wat Dawid gedoen het.

Hy laat ‘n getroude vrou haal, terwyl haar man vir hom in die oorlog veg.  Dan pleeg hy owerspel met haar.  ‘n Sonde wat so erg in ons Here se oë is, dat ons Here volgens die wet van Moses dit met die doodstraf strafbaar gemaak het.

Lev 20:10  “As ‘n man egbreuk pleek met ‘n ander man se vrou, moet beide die man en vrou doodgemaak word.”

Dawid is egter die koning en destyds net soos vandag, kon konings/hoofde van volke met enigiets weg kom, of so lyk dit op die oog af.

In Dawid se geval, ontstaan daar nou ‘n geweldige probleem.

2SAM 11:5  Toe sy later agterkom dat sy verwag, stuur sy vir Dawid ‘n boodskap:  “Ek is swanger.”

Nou sit Dawid met ‘n verskriklike probleem.

Die vrou is swanger.  Haar man is op die oorlogsveld.

So, die  man gaan mos, as hy op die oorlogsveld bly, na maande weet dat dit nie sy kind is wat sy vrou verwag nie.

Hoe nou gemaak?

Nou beplan hy nog meer sonde.  Hy wil sy betroubare onderdaan bedrieg, dat die kind sý kind is, deur hom na sy vrou te stuur, sodat hy met haar gemeenskap kan hê.

Dan is hy, Dawid  sommer ook ontslae van die verantwoordelikheid van sy kind.

Die Joab van wie jy nou gaan lees was die hoof van Dawid se Leër.

2SAM 11:6-13  Dawid het vir Joab laat weet:  “Stuur Urija die Hetiet na my toe.”  Joab het so gemaak.  7Toe Urija by Dawid kom, vra hy hoe dit met Joab en die leër gaan en hoe die oorlog verloop. 8Toe sê hy vir Urija:  “Gaan gerus huis toe en rus ‘n bietjie.”  Dawid het selfs ‘n geskenk aan Urija gestuur nadat hy die paleis verlaat het.  9Maar Urija wou nie huis toe gaan nie.  Hy het die nag by die ingang van die paleis geslaap saam met die slawe van die koning.  10Dawid het gehoor dat Urija nie huis toe gegaan het nie.  Hy vra toe vir Urija:  “Wat is verkeerd met jou?  Hoekom het jy nie laasnag huis toe gegaan nadat jy so lank weg was nie?”  11Urija antwoord:  “Die ark en die leër van Israel en Juda oornag in tente, en Joab en u manskappe kampeer in die oop veld.  Hoe kan ek dan huis toe gaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap?  So waar as u leef, ek sal nie so iets doen nie.”  12Bly vannag nog hier,”  Sê Dawid vir hom.  “Môre stuur ek jou terug.”  Urija het toe daardie dag en die volgende dag in Jerusalem gebly.  13Dawid nooi hom toe om saam met hom te kom eet en drink.  Hy het hom dronk gemaak, maar selfs toe het hy nie huis toe gegaan nie, maar weer by die ingang van die paleis saam met die koning se slawe geslaap.

Toe Dawid se bedrog toertjie nie wil werk nie, toe, soos dit nou maar met sonde gaan, word die sonde wat die sonde moet bedek, net ‘n veel groter sonde.  Soos hulle in Engels sou sê:

“It went from bad to worse.”

Want, toe beplan Dawid moord.

In die volgende skrywe oor hierdie saak, wat  jy so oor ‘n dag of twee gaan kry, sal ek met jou deel oor dit wat ons Here vir my gewys het, van hoe totaal ons Here se vergifnis is, as iemand werklik opreg berou het.

Vir nou sluit ek af met een van my gunsteling verse uit die Woord, as ek aan ons Here se vergifnis van my sonde dink.

Jes 1:18 “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die HERE.  “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder.  Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het.  Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol.”

Groete

Sakkie

E-pos:            bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:   www.sakkieparsons.co.za

Sel:                083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,

     aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.