SES REDES WAAROM ONS PAULUS BAIE ERNSTIG MOET OPNEEM

SES REDES WAAROM ONS PAULUS BAIE ERNSTIG MOET OPNEEM

Sakkie Parsons

Ek luister nou een oggend na die radio, na ‘n program waar hulle ‘n onderhoud voer met ‘n professor wie ook deel was van een van die Christen denominasies se sinodes, wat ‘n besluit of twee geneem het wat vir die wêreld en ‘n hele klomp Christene nie so aanvaarbaar was nie.

Paulus kom toe ter sprake en die omroeper maak toe die volgende stelling, wat min of meer so gegaan het:

“Niemand neem in elk geval vandag meer vir Paulus ernstig op nie.”

Eers wou ek my vererg, want jy weet mos al teen dié tyd hoe ek oor Paulus voel, maar toe tref dit my soos ‘n hamerslag. Die man is absoluut reg!

Los nou maar die wêreld, maar die meeste van die Christendom se denominasies het een of meer van dit wat Paulus ons onder leiding van die Heilige Gees leer, uit hul dienste en/of leer gehaal, en hulle probeer nog steeds nog meer van dit wat ons Here Paulus laat skryf het, uit hulle leer gooi.

Toe ek mooi daaroor dink, besef ek dat Paulus hierdie probleem, jy kan maar sê, reg van die begin af gehad het. Onthou jy nog:

HAN 17:18  “En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode — omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.”

HAN 17:22  “Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.

HAN 17:23  Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.”

HAN 17:32  “Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.”

Nadat hulle dit gesê het, het hulle omgedraai en van hom af weggestap, op hul pad hel toe.

Ek sidder partykeer as ek dink aan die “please explaining” wat party van die kerkleiers van die meeste van ons Christen denominasies, eendag sal moet doen, omdat Paulus, volgens hulle, sekere dinge nie vir ons tyd verkondig het nie en soos dit nou maar met die soort van ding gaan, word dit hoe later hoe kwater.

Ons het begin om sommige dinge wat Paulus verkondig het, stelselmatig uit ons dienste en leer te haal omdat: “tye verander het.”

Nou is daar Christen geleerdes wat die maagdelike geboorte van Jesus bevraagteken en ook nie net dit nie, maar ook Jesus se opstanding uit die dood. Ek meen, daar is dan nou waaragtig Christen denominasies se sinode, wat saambly Christelik aanvaarbaar wil maak.  Met ander woorde, so wil hulle nou verkondig:

Seks buite die huwelik, is soms volgens Jesus se Evangelie geoorloof.

Vir dié wat die tekens van die tye kan waarneem, is dit natuurlik nie onverwags nie, want ons weet immers dat Jesus onder andere die volgende gesê het:

      MAT 24:11  “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
MAT 24:12  En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.”

Dan kom Paulus soos gewoonlik en hy onderstreep meesterlik, onder leiding van die Heilige Gees natuurlik, dit wat Jesus gesê het:

      2TIM 4:3  “…want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
2TIM 4:4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
2TIM 4:5  Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”

Ek kon nou baie voorbeelde uit Paulus se skrywe vir jou as voorbeeld gebruik het, waarom ons verseker Paulus baie ernstig moet opneem en dit nie doen nie, maar miskien stuur jy hierdie skrywe van my aan jou, vir iemand wat ook nie Paulus se leringe ernstig opneem nie, en hulle sal in elk geval weet waarvan ek praat.

Ek vertrou egter dat die meeste Christene, al lyk dit soms nie altyd so nie, nog die Bybel as God se Woord beskou.

So – hier is dan na my mening, ‘n klompie duidelike bewyse uit die Woord, van hoekom ons vir Paulus wel deeglik baie, baie ernstig moet opneem.

Eerstens, sommer vir die lekker die volgende statistieke:

Petrus, Jakobus en Johannes, die drie dissipels wat Jesus feitlik altyd by Hom wou hê en ek gee een voorbeeld:

      MAT 17:1  “En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg in die eensaamheid gebring.”

Hulle name kom, in die Bybel wat ek gereeld gebruik, in getalle as volg voor – Petrus se naam kom 164 keer in die Nuwe Testament voor.

Die naam van al die verskillende Jakobusse saam, kom 43 keer in die Nuwe
Testament voor.

Die name van al die verskillende Johannesse saam, kom 139 keer in die Nuwe Testament voor.

Paulus se naam kom 167 keer in die Nuwe Testament voor.

Tel nou daarby die 6 keer wat van hom as Saul gepraat word, plus die 17 keer wat daar van hom as Saulus gepraat word, en jy sien dat ons Here in Sy Woord 193 keer van Paulus by die naam gepraat het.

Tweedens:
Na Jesus, praat die Woord in die Nuwe Testament van niemand so baie soos van Paulus nie, en soos ek al so baie van tevore gesê het – God doen niks sommer nie.  As God iets doen, is daar ‘n baie, baie goeie rede hoekom Hy dit so doen.

Derdens:
Dieselfde persoon wat God vertrou om die meeste oor Jesus en Jesus se bruid, die kerk, se beginjare te skryf, vertrou Hy ook om alleen, feitlik alles oor Paulus te skryf.
Ek praat natuurlik nou van Lukas.

Vierdens:
God gebruik Paulus om so ver dit die apostels aanbetref, by verre ons die meeste te leer, sover dit die evangelie van Jesus Christus aanbetref.

Vyfdens:
Naas Jesus se kruisiging en opstanding, is, so ver my kennis strek, die gebeurtenis in ‘n mens se lewe wat die meeste herhaal word, die bekering van Paulus. Nie minder nie, as drie keer, sorg ons Here dat daardie gebeurtenis in Sy Woord herhaal word. Vir my, omdat ek weet ons Here niks sommer laat doen nie, is hierdie feit vir my, asof ons Here vir my wil sê dat Paulus ‘n baie spesiale Evangelis is na wie se prediking ek met aandag moet luister, uitleef en ook moet verkondig.

Sesdens:
Hierdie een is wat ek graag my hoofbewys noem, van hoekom ons wel deeglik vir Paulus en alles wat hy geskryf het, baie ernstig moet opneem. Daar was 12 dissipels teenwoordig toe die volgende gebeur het maar Paulus was nie een nie:

MAT 26:26  En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
MAT 26:27  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Tog laat ons Here nie een van hulle toe om ons te leer oor die Nagmaal nie, maar Saulus van Tarsus, wat later Paulus van Christus geword het, aan hóm vertrou ons Here dit toe om jou en my en al die ander Christene vir meer as 2,000 jaar te leer aangaande die heilige Nagmaal.

1KOR 11:23-34
23 ‘Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het;
24  en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
25  Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.
26  Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
27  Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.
28  Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.
29  Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.
30  Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.
31  Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.
32  Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.
33  Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar;
34  en as iemand honger het, laat hom by die huis eet, sodat julle nie tot ‘n oordeel saamkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek kom.”

Paulus het só ‘n wonderlike liefdesverhouding met ons Here gehad, dat daar in die Woord van hom geskryf staan:

HAN 19:11  God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen.
HAN 19:12  Selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, het hulle siektes verdwyn. Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan.

So, as jy vir my vra of jy Paulus ernstig moet opneem, antwoord ek jou graag met die volgende woorde wat ons Here in Sy Woord laat skryf het. Oeps! dit is alweer Paulus:

1KOR 11:1  “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.”

Groete,
Sakkie