SIEKTE, GEBREK EN DIE LEUEN

SIEKTE, GEBREK EN DIE LEUEN.

Sakkie Parsons

‘n Dame wat ‘n kroniese sigbare siekte toestand het, skryf as volg aan my:

“ ‘n Kennis van my reken die volgende:
Sy glo vas dat siektes van die satan af is en dat God nie mense siek maak nie maar ons een of ander bose gees het .”

Die dame wat aan my geskryf het, vertel dan nog so ‘n paar ander dinge wat die kennis vir haar vertel het, maar dit is net soveel onwaarhede as wat ek reeds genoem het, so ek volstaan maar met dit wat ek reeds genoem het en deel daaroor met jou uit die Woord.

Laat ek eers vertel hoe ek kyk na iets wat iemand met my deel wat dan sogenaamd van ons Here is:

As die persoon met my iets deel en dit verskil net amper met die Woord, dan verwerp ek geheel en al dat dit komende van ons Here is.
God praat nie soos satan die slang met ‘n gesplete tong nie.

OPB 12:9  Die reuse draak is uitgewerp, dit is die slang (met sy gesplete tong) van die oertyd wat ook die duiwel en Satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei. …

Onthou ook, dat as iemand ‘n leuen vertel, kry die persoon daardie leuen direk van satan af, wie die vader van leuens is.

JHN 8:44  …  Hy was van die heel begin af ‘n mensemoordenaar.  En hy staan nie in ‘n verhouding met die waarheid nie omdat die waarheid nie in ‘n verhouding met hom staan nie.  Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ‘n leuenaar en ook die vader daarvan is.

So, kom ons kyk nou gou na wat die dame se kennis verkondig.

Ek begin met ‘n vraag:
Het ‘n mens wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker ‘n bose gees van die en of ander aard in jou as jy ‘n gebrek of siektetoestand het?

Anders gestel: Is daar nou noodwendig altyd ‘n bose gees van die een of ander aard betrokke wat jou, kind van ons Here teister as jy ‘n gebrek of siektetoestand het en dat jy eers van daardie gees wat in jou is, of wat jou teister moet ontslae raak?

Buiten dat dit vir my grens aan Godslastering om te beweer dat ons Here saam met satan in dieselfde woning sal woon, is dit natuurlik gewoon net ‘n gruwelike leuen om te sê, dat net satan siektes en gebreke veroorsaak.

Ek deel met jou die volgende paar gedeeltes uit die Woord en dan besluit jy maar self of dit net satan is wat siektes en of gebreke veroorsaak:

EKS 4:11  “Wie gee vir die mens ‘n mond?” vra die HEE hom.  “Wie maak mense stom of doof?  Wie laat hulle sien of maak hulle blind?  Is dit nie maar net Ek, die HERE, nie?

In hierdie volgende geval was ons Here baie kwaad vir Mirjam en Aäron haar broer :

NUM 12:9  Die toorn van die Here het teen hulle ontvlam en Hy het van hulle af weggegaan.
NUM 12:10  Toe die wolk van die tent af optrek, staan Mirjam daar melaats soos sneeu. Toe Aäron na Mirjam toe draai, is sy melaats.

Nou gaan sommige mense dalk hulle redenasies net so effe aanpas en sê:
“Ja maar God was in hierdie geval kwaad vir Mirjam en haar broer en daarom het Hy dit gedoen, so jy wie siek is het nog steeds iets in jou lewe wat nie reg in die oë van ons Here is nie” – wat natuurlik gladnie die waarheid is nie.
In hierdie verband deel ek ook met jou die volgende uit die kosbare Woord van ons Here maar ek kon ook nog meer vir jou genoem het:

JOH 9:1-3
1 Terwyl Jesus wegstap, het Hy ‘n man gesien wat van sy geboorte af blind was.
2  Sy dissipels vra Hom toe:  “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?”
3  Jesus het geantwoord:  “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word.

Dan genees ons Here die blinde man en hy kan sien!

JOH 9:6-7  En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.

Ag en as ek nou maar soos ek dit sien, die kersie op die koek kan sit, is daar die geval, van met die getuienis tot my beskikking, waar die grootste apostel van alle tye by betrokke was.
Ons Here het hom gebruik om die grootste deel van die Nuwe Testament te skryf en al was hy nie eens by toe ons Here die Nagmaal ingestel het nie, gebruik ons Here net hom en nie een van die wat wel daar gewees het, om ons oor die Nagmaal te leer nie.
Hy, dit is nou Paulus, skryf by geleentheid:

GAL 4:13-15
13 Julle onthou mos nog die eerste keer toe ek die Goeie Nuus aan julle verkondig het.  Ek het na julle gekom terwyl ek siek was.
14  Hoewel my siekte vir julle ‘n beproewing was, het julle nie vir my gegril of my vermy nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek ‘n engel, ja, asof ek Christus Jesus self was.
15  Julle het julleself destyds as bevoorreg beskou.  Wat het dan nou gebeur?  Ek kan regtig daarvan getuig dat julle, as dit moontlik was, selfs julle oë sou uitgeruk het om hulle vir my te gee.

Om nou so ‘n bietjie van my groot held Paulus se skryfsteil gebruik te maak:
“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?”
Het Paulus ‘n duiwel saam met Christus inwonend in hom gehad, toe hy die evangelie van
Jesus Christus aan die Galasiërs verkondig het?
Hy was geweldig deur satan aangeval maar dan ons almal word daagliks deur satan
aangeval.
Vervolgens:
Ek weet byvoorbeeld ook nie hoekom ons Here sommige mense genees en ander nie, soos byvoorbeeld by die bad van Betésda.

JOH 5:2-9  (OV)
2 En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ‘n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus   Betésda genoem word.
3  Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het.
4  Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.
5  En ‘n sekere man was daar, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het.
6  Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ‘n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word?
7  Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ‘n ander een voor my in.
8  Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop.
9  En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit Sabbat.

Sien jy?

JOH 5:3  waar daar ‘n menigte gestremdes gelê het;  blindes, kreupeles en lammes.

Jesus genees egter net een en draai om en stap weg.

Daar is baie wyses wat ons Here te werk gaan wat ek nie verstaan nie.
Soos om vir een blinde te sê sien en hy sien:

LUK 18:41-43
41  “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?  Sy antwoord was:  “Meneer, dat ek net weer kan sien!”
42  Jesus het hom geantwoord:  “Sien weer!  Jou geloof het jou gered.”
43  Eensklaps het die man weer gesien;  hy het Jesus gevolg en God geloof.  Die hele volk wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.

En toe vir ‘n ander een, het Hy twee keer gebid en dit nadat Hy eers in die blinde se oë gespuug het:

MRK 8:23-25 
23 Jesus neem die blinde man toe aan die hand en lei hom uit die dorpie. Toe spoeg Hy op die man se oë, sit sy hande op hom en vra vir hom: “Kan jy iets sien?”
24  Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar hulle is baie dof. Hulle lyk soos bome wat rondloop.”
25  Toe het Jesus sy hande weer ’n keer op die man se oë gesit. Sy oë het begin fokus en sy sig is volkome herstel. Hy kon nou alles duidelik sien.

Ek volg ons Here wat hierdie dinge aanbetref heerlik blindelings.
So met ‘n glimlag gesê –
Ek doen dit sommer letterlik en figuurlik.

Dit is vir my te wonderlik hoe selektief mense wat so maklik iemand wat siek is, of ‘n gebrek het ,verdoem tot die een of ander verbintenis met satan.
Byvoorbeeld:
Hulle sal vir jou sê dat jy ‘n duiwel het, daarom is jy siek of het jy ‘n gebrek maar loop hulle op ‘n ander tyd op ‘n ander plek raak en hulle sal vir jou ewe vroom met ‘n toe neus vertel van die verkoue wat hulle nou maar net nie kan afskud nie.

Soms het dit in my baie jare van vir ons Here werk gelyk dat volgens hulle, verkoues en griep darem niks met die duiwel te doen het nie.
Hulle sal byvoorbeeld ook voor mense staan en vir hulle gehoor sê, dat dit nie van ons Here is, dat hulle daar met hulle gebreke en siektes ens moet sit nie, hulle kan normaal soos enige ander mens sonder hulle pille, hulpmiddelle  ens lewe –  hulle moet net in die geloof na vore kom vir gebed maar hulleself sal nie, terwyl hulle daar voor staan, dan die bril wat hulle op het in die geloof afhaal en in hulle sak steek nie.  Want een of ander tyd moet hulle weer van daardie verhoog afstap en dan moet hulle kan sien waar hulle loop.

Ek wil dit dan nou weer ten slotte benadruk aan almal wat hierdie gedagte uit die Woord lees:
Sorg dat jyself ‘n goeie kennis van ons Here se kosbare Woord het en as jy twyfel oor iets wat iemand aan jou as Evangelie verkondig het en jyself het nie uit die Woord vrede in jou hart oor die saak gekry nie.  Bid weer oor die saak en gaan steek kers op by iemand van integriteit wat die Woord, die hele Woord en nét die Woord as maatstaf gebruik oor wat hy of sy verkondig en wat ook dít wat hulle verkondig, self uitlewe.  Want onthou, dat Jesus ons waarsku:

MAT 7:15-21 
15  Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
18 ‘n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra en ‘n siek boom goeie vrugte nie.
19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20 So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”
21 “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.

Terwyl jy en ek al hierdie dinge in ons harte bewaar, laat ons ook gedurig, midde in ons omstandighede, daarna strewe dat onsself die vrugte dra wat by ons bekering pas:

GAL 5:22 Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
GAL 5:23 sagmoedigheid en selfbeheersing. …

Oeps!
Amper vergeet ek. –
Drink jou pille wat jy moet drink en gebruik jou hulpmiddelle wat ons Here deur jou dokter en spesialis wie Hy spesiaal vir ons gegee het om ons te help, daar gestel het.  Terwyl jy onthou:

1 KOR 10:13 Onthou, die versoekings (en of beproewing) wat oor julle pad kom, is nie uniek nie;  ander ondervind dit ook.  God is getrou.  Hy sal keer dat die versoeking (en of beproewing) te sterk vir julle word.  midde-in die versoeking (en of beproewing) sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou.

Asook:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.

Groete,
Sakkie