SKATTE IN DIE HEMEL
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my na aanleiding van iemand wat by kerke optree en dan volgens hom nie behoorlik vergoed word nie.
Die persoon het as volg geskryf:
“Vanoggend het ek n vraag. Hoekom is dit dat as ek n band bymekaar kry en ons gaan speel in n pub sal ons R4500 kry vir die aand. Nooi n kerk jou verwag hulle jy moet verniet speel. Maar ek het die selfde onkostes as die ou wat in die pub speel. Het mense (kerk) dan regtig bedelaars geword?”
Ek wil met my antwoord begin om ‘n bietjie van my groot held Paulus se skryfstyl gebruik te maak.
Mense het by geleentheid so ‘n bietjie rondgegaan en vir almal vertel hoe wonderlik hulle is en hoe hulle vir ons Here werk, toe kom Paulus dit te hore en toe skryf hy as volg:
2KOR 11:16-18
16 Ek sê weer 'n keer: Niemand moet dink dat ek die kluts skoon kwyt is nie. Of so nie, beskou my maar as dwaas sodat ek ook 'n bietjie kan grootpraat.
17 Wat ek nou gaan sê, kom nie van die Here nie. Nee, in hierdie saak praat ek regtig soos 'n dwaas in die vertroue dat ek wel rede het om te spog.
18 Aangesien daar baie mense is wat op menslike gronde spog, gaan ek ook nou spog.
Dan gaan hy voort en noem so ‘n paar dinge:
2KOR 11:21-28
21 … Nou praat ek regtig soos 'n dwaas: As iemand dit wil waag om te spog, ek kan nog meer spog.
22 Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die saad van Abraham? Ek ook.
23 Is hulle diensknegte van Christus, ek nog meer – nou praat ek regtig asof ek heeltemal van my verstand af is! Wat harde werk betref, uitermate; wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels.
24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry;
25 drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek 'n dag en 'n nag op die oop see oorleef.
26 Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges.
27 Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees.
28 Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes.
Wat ek nou gaan sê, sê ek in die selfde gesindheid as my groot held Paulus. Al is dit dan net dat jy kan weet, dat my woorde nie net leë woorde is nie.
Ek het in 1973 tot bekering gekom.
Drie maande later is ek gedoop en het ek amper onmiddellik vir ons Here begin werk.
In 1984 het ek my eerste cd gemaak, ek moes die geld daarvoor by die bank gaan leen.
Toe het ek begin om deur die land te reis en by kerke opgetree.
Van ongeveer 1987 af was al my naweke so van Februarie of Maart gewoonlik vir die jaar vol bespreek en moes ek gereeld reëlings vir my kinders se versorging oor die naweke reël en daarby was my onkoste sover ek kan onthou nooit werklik gedek nie.
By geleentheid het iemand agter in my vasgery by ‘n rooi verkeerslig en my waentjie afgeskryf.
In 1997 is ek met melanoom kanker gediagnoseer en was ek af en aan vir 15 maande behandel en het ek nog steeds opgetree, sonder dat my onkoste behoorlik gedek was.
Dit is maar net van die baie dinge wat met my gebeur het tot in 2002.
Ek het nooit in ‘n “Pub” gespeel of gesing nadat ek my tot ons Here bekeer het nie, so ek het nie daarvan ondervinding nie.
Ek bedryf hierdie bediening nou vir bykans 17 jaar en ek is ‘n pensionaris.
Ek het nog nooit honger gaan slaap nie.
Ek het God se liefde, genade, vrede en vreugde in my lewe.
So jy kan nou sien, dat wat ek nou gaan sê nie sommer net praat is nie. Ek was daar.
Hier is na my mening ‘n gesindheidprobleem.
Die persoon skryf:
“… En moenie my verkeerd verstaan nie. Ek is die gelukkigste ou onder die son solank ek net kan musiek maak ek gee regtig nie om oor die geld nie. …”
Hoe wonderlik sou dit nie gewees het as die persoon in eerlike opregtheid kon skryf
nie:
“… En moenie my verkeerd verstaan nie. Ek is die gelukkigste ou onder die son solank ek net iets tot eer en verheerliking van ons Here kan doen ek gee regtig nie om oor die geld nie. …”
Ek lees in die Woord:
MAT 6:33 Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit, dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg.
Asook:
MAT 6:20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie.
Hoe kan ons dan skatte in die Hemel bymekaar maak, as die Woord tog duidelik sê, dat ons niks uit hierdie lewe met ons kan saamneem nie?
Want daar staan dit geskryf:
1TIM 6:7 Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie.
Maar as Jesus sê dat ek vir my skatte in die Hemel kan bymekaar maak, al kan ek niks uit hierdie lewe saam met my neem nie, wel dan kán ek skatte in die Hemel bymekaarmaak.
So, waarvan praat Jesus wat ek in die Hemel kan versamel, wat vir God Almagtig, wat Hemel en aarde geskape het, die waarde van skatte gaan hê?
Na my mening is dit elke mens wat ek na ons Here gelei het en elke mens wat ek bemoedig het om staande te bly, toe satan hom/haar hel toe wou sleep.
Daardie mens vir wie Jesus op Golgota aan die kruis gaan hang het.
Luister wat sê Jesus, die een Persoon wat ooit op hierdie aarde geloop het, wat weet wat in die Hemel gebeur.
LUK 15:10 “Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom."
Verstaan jy wat ons daar lees?
Die heelal kan die Hemel nie huisves nie en in daardie hele Hemel is daar blydskap as een persoon hom/haar bekeer en ek glo die blydskap is net so groot as jy en ek een persoon help om staande te bly deur ons woorde, sang ens, toe satan hom/haar wou laat val.
LUK 15:4-7
4 "As jy 100 skape het en een het verdwaal en verlore geraak, sal jy nie die 99 ander net daar laat staan en die een gaan soek tot jy hom kry nie?
5 En dan sal jy hom met blydskap op jou skouers huis toe dra.
6 Wanneer jy tuis is, sal jy jou vriende en bure roep om saam bly te wees omdat jy jou verlore skaap gevind het.
7 Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie nodig het om tot inkeer te kom nie!"
So kom ons werk aan ons gesindheid, dat ons kan sê:
“… En moenie my verkeerd verstaan nie. Ek is die gelukkigste ou onder die son solank ek net iets tot eer en verheerliking van ons Here kan doen ek gee regtig nie om oor die geld nie. …”
Want jy sien:
“Ek Maak vir my skatte in die Hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie.”
Terwyl ek ook met ‘n heerlike vrede en blydskap onthou:
MAT 10:29-31
29 Julle weet dat twee mossies vir ‘n skamele sent verkoop word, Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarvan
weet nie.
30 Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel.
31 Wees daarom nie bang nie. Julle is vir Hom meer werd as ‘n hele swerm mossies.
Sê ek dit is reg as ‘n gemeente my nooi om by hulle te kom optree en my nie soos ons Here wil vergoed nie?
Geensins – maar dit is hulle probleem, nie myne nie.
Groete,
Sakkie