SODAT JULLE DIT SAL KAN VERDRA

SODAT JULLE DIT SAL KAN VERDRA.

Sakkie Parsons

As jy dalk op ‘n punt kom terwyl jy hierdie skrywe lees, waar jy wil sê, dat dit te erg is en jy wil ophou lees, wil ek jou vra:  Hou asseblief aan met lees.  Ek praat uit ondervinding en met ‘n vaste wete dat ons Here ons hierin dra:

Iemand het my, my opinie oor LUK 6:22-36 gevra.

Hier is dan hoe ek na hierdie en ander soortgelyke uitsprake van Jesus kyk:

Die sleutel vir my wat hierdie en die ander soortgelyke uitsprake wat Jesus gemaak het, lê in ‘n ander uitspraak wat Jesus ook gemaak het:

LUK 9:23  En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.

As jy nou dink dat ‘n paar van die dinge wat daar in Luk 6:22-36 staan is te swaar vir ‘n gewone Christen, moet ek jou nou nog verder ontnugter.

Om so ‘n bietjie Engels te gebruik:
“There is more in Luk 6:22-36 than meets the eye.”

Laat ek verduidelik:
Baie mense lees dat ons, ons kruis moet opneem maar ek dink nie almal besef presies wat van ons verwag word nie.
Destyds as iemand sy kruis opgeneem het, het hy dit gedoen om te gaan sterf.
Daarom dan ook dat Luk 9:23 in Die Lewende Bybel soos volg vertaal is:

LUK 9:23  Jesus sê toe vir hulle almal: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy eie belange prysgee en elke dag sy kruis dra soos ’n mens wat ter dood veroordeel is en saam met My kom.

So as jy nou Luk 6:22-36 lees, moet jy weet, vir jou en my is dit “tot die dood toe.”
Byvoorbeeld:
 
LUK 6:27  Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.  (Tot die dood toe.)
LUK 6:28  Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.  (Tot die dood toe.) 
LUK 6:29  Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.  (Tot die dood toe.)

Jesus is in alles vir ons ‘n voorbeeld.  So, kom ons kyk gou na die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het in ‘n paar van die dinge wat daar in Luk 6:22-36 gesê word
dat ons moet doen.

Eerste voorbeeld:

LUK 6:27  Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.

LUK 23:33  En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter— en een aan die linkerkant.
LUK 23:34  En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.

In liefde, ook vir Sy vyande hang Hy aan die kruis, (tot die dood toe) en in liefde vir Sy vyande, bid Hy vir hulle terwyl Hy daar hang, (tot die dood toe.)

Tweede voorbeeld:

LUK 6:29  Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; …

MAT 26:67  Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan,
MAT 26:68  en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus!

Derde voorbeeld:

LUK 6:29  … en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.  (Tot die dood toe.)

MAT 27:35  En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp.

Weet jy wat is vir my so absoluut heerlik as ek ‘n gedeelte soos Luk 6:22-36 lees?
Ons Here wat nie kan lieg nie, sê vir my in Sy Woord:

1KOR 10:13  Geen versoeking (of dan beproewing) het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek (of dan beproef) word nie; maar Hy sal saam met die versoeking (of dan beproewing) ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

Ek lees Luk 6:22-36 en ek sê vir myself:

“Sjoe Sakkie, dankie tog dat ons Here die sterkte, of is dit nou die swakte, van jou krag ken.”

Dan lees ek weer Luk 6:22-36 en ek dink aan my groot held Paulus en ek sê vir myself:

“Sjoe Sakkie, Paulus het die meeste van wat daar geskryf is, meer as een keer entuit verduur en ons Here nooit gefaal nie.”

Ek hoor soms van iets wat met ‘n kind van ons Here gebeur het en in my gees roep ek in groot verwondering uit:

“Wat ‘n geweldige groot vertroue het ons Here nie in daardie kind van Hom nie!”

Sonder dat dit net lippetaal is, moet jy en ek bereid wees om elke dag ons kruis op te neem en ons Here sal sorg vir die res.
Al moet Hy ‘n engel uit die Hemel stuur om ons te versterk.

LUK 22:41  En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as ‘n mens met ‘n klip kan gooi, en neergekniel en gebid
LUK 22:42  en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!
LUK 22:43  En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.

As ek sonder dat dit net lippetaal is, werklik my kruis opneem en agter Jesus aangaan, sal Hy sorg dat ek nie swaarder moet dra, as wat ek kan vat nie.  Al moet Hy ‘n Simon
van Ciréne stuur om my te help.

MRK 15:21  En hulle het ‘n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, die vader van Alexander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra.

So kind van ons Here, jy wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en wérklik jou kruis opgeneem en agter Jesus aan gaan, met ander woorde in Sy weë wandel –

Oor jou kan ek met groot heerlike sekerheid uitroep:

FIL 4:19  En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.
FIL 4:20  Aan onse God en Vader die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Ja, hoe absoluut heerlik om te weet, dat ek nie met ‘n benoudheid in my hart na Luk 6:22-36 hoef te kyk nie, want ek weet:

1KOR 10:13   … maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek (of dan beproef) word nie; maar Hy sal saam met die versoeking (of dan beproewing) ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
    

Groete,
Sakkie