SODAT JULLE GEBEDE NIE VERHINDER MAG WORD NIE

SODAT JULLE GEBEDE NIE VERHINDER MAG WORD NIE.

Sakkie Parsons

Toe ek sit en dink hoe ek my antwoord op die vraag hier onder moet bewoord, het die Heilige Gees iets anders swaar op my hart gelê en dit is waaroor ek eintlik wil skryf maar eers dan oor die vraag wat aan my gevra gewees het:

Iemand skryf aan my en vra my, hoe verstaan ek die Woord “betaamlik” uit die Woord, waar dit by die vrou in die huwelik op aankom.

Die gedeelte, so glo ek, wat die persoon in gedagte gehad het, is die volgende.

KOL 3:18  Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.

Kom ons kyk eers gou wat sê  die woordeboek oor “betaam/betaamlik.

Ek lees byvoorbeeld die volgende in die woordeboek:
“betaamlik, Paslik, behoorlik, welvoeglik.

So, ‘n mens kan Kolossense 3:18 as volg lees:

KOL 3:18  Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit (Paslik, behoorlik, welvoeglik) is in die Here.

‘n Man mag nooit maar nooit in die huwelik iets van sy vrou verwag wat voor ons Here onbetaamlik, of dan, nie paslik, nie behoorlik, of nie welvoeglik is nie.

Ek noem een voorbeeld, van buite die slaapkamer wat “onbetaamlik, of dan, “nie paslik, nie behoorlik, of nie welvoeglik,”  van ‘n man is om van sy vrou te verwag nie.  Dit is egter net ‘n voorbeeld van ‘n menigte wat ek natuurlik kon genoem het.

Ek mag nooit byvoorbeeld van my vrou verwag om, om my ontwil te lieg nie.
Ek het gesê, dat ek ‘n voorbeeld buite die slaapkamer gebruik.  Want as ek dink aan sommige van die dinge waaroor dames aan my skryf en my oor skakel, oor wat sommige mans van hulle vroue in die slaapkamer verwag, is die ligste beskrywing wat ek daaraan kan gee, dat dit baie siek en “onbetaamlik, of dan, nie paslik, nie behoorlik, of nie welvoeglik,”  voor die Here is nie.

Ek het aan die begin gesê, dat ek eintlik ook hier oor iets anders wil skryf en dit is die volgende:
Dit is so jammer maar ten minste in my bediening kom dit in die pos aan my baie na vore.

Baie mans, so lyk dit vir my, kan nie in die huwelik die verskil sien tussen baas, diktator en tiran wees of hoof wees nie.

Wel, na my mening is “baas wees” in die huwelik gewoon net boos en daarom van satan en “hoof wees” is van ons Here en daarom ‘n heilige beginsel.
Ek gaan nou nie eens iets sê oor die bose siening van ‘baas wees’ in die huwelik nie maar vir die mans wat soos ek daarna strewe om meer en meer ook in die huwelik volgens die Woord van ons Here te lewe, net die volgende uit die Woord:

EFE 5:25  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het

EFE 5:28  So behoort die mans hulle eie vroue (en nie ander vroue ook nie) lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;
EFE 5:29  want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. (So ek moet Jesus se voorbeeld volg, soos Hy teenoor Sy kerk, of dan bruid is.)

1PET 3:7  Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.

Het jy gesien?
As ‘n Christen man nie volgens die bogenoemde beginsels met sy vrou lewe nie, word sy gebede nie verhoor nie.

Anders gestel, ons Here doen niks omtrent dit waaroor daardie man met Hom praat nie.  Jy sou selfs kon sê, dat ons Here nie eens na ‘n baasspelerige man in die huwelik luister nie.

Dan wonder sommige mans hoekom ons Here nooit hulle gebede verhoor nie.

1PET 3:7  Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.

Groete,
Sakkie