SOOS ‘N VOËLTJIE WEGFLADDER …

SOOS ‘N VOËLJIE WEGFLADDER…

Sakkie Parsons

Ek het ‘n e-pos gekry en dit het daaroor gegaan of iemand ‘n kind van God kan vervloek, of dan ‘n vloek oor jou uitspreek, of dan ‘n binding van een of ander aard op jou plaas.

Ek sal maar myself nou as voorbeeld gebruik en jou vertel hoedat ek dit verstaan en uitlewe.

Ek kan maar net jammer voel vir die persoon wat my vervloek of ‘n vloek, of binding van watter aard ook al op my wil plaas, want sien, ek is God se eiendom.

TIT 2:14  Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons Sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.
TIT 2:15  Oor hierdie dinge moet jy praat.  Met gesag moet jy ook bemoedig en teregwys.  Moenie toelaat dat iemand jou geringskat nie.

Nog ‘n voorbeeld.

1PET 2:9  Dit geld egter nie vir julle nie, want God het julle as Sy volk gekies.  Julle is ‘n koninkryk wat uit priesters bestaan, ‘n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ‘n volk wat heeltemal God s’n is.  Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is.  Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in Sy wonderlike lig ingeroep het.
1PET 2:10  Vroeër was julle nie ‘n volk nie;  nou is julle egter die volk van God.  Vroeër het God geen onverdiende liefde aan julle bewys nie;  nou hét julle egter Sy onverdiende liefde.

Ek dink – ons besef nie altyd wie en wat ons is nie.
Lees gou hier:

ROM 8:16  Want die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is.
ROM 8:17  En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook Sy erfgename.  Saam met Christus deel ons in God se rykdom.  As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in Sy heerlikheid.

As jy so daarna kyk, maak dit wat Jesus gesê het sommer ook baie meer sin:
Ek haal dit aan uit die Ou Vertaling:

MAT 5:44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;
MAT 5:45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.

Jy sien – as iemand vieslik/lelik met my is, doen hy eintlik so ‘n dwase ding, dat as ek nie vir hom bid nie, het hy probleme, gróót probleme.
Dit is dan ook, so glo ek, een van die redes waarom ons die opdrag kry om vir sulke mense te bid.  Want, dit is nie ons nie maar hulle, wat deur húlle optrede teenoor ons groot probleme tegemoet gaan.
My Vader gaan nie sommer dit wat iemand aan ‘n mede-erfgenaam van Christus doen sommer so laat verby gaan nie.

Nou moet ek tog nie dink, ek kan nou maar net stilbly en hy gaan les opsê nie.
As ek dít doen, speel ek so reg in die hand van satan, want dan is ek ongehoorsaam.
Dan oortree ek ‘n direkte bevel van Jesus.

LUK 6:27  “Maar as julle gewillig is om te luister, sê Ek julle moet jule vyande liefhê.  Doen goed aan dié wat julle haat. 
LUK 6:28  Seën dié wat julle vervloek.  Bid vir hulle wat julle seermaak.

Sien jy die bevel?
Dit is nie, dat ek mag vir die persoon lief wees, as ek so voel nie.
Ek het nie ‘n keuse nie.  Ek word ‘n bevel gegee.

Ou Vertaling:
LUK 6:27  Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê…

So, as iemand iets lelik aan my doen, is dit vir my heerlik om vir die persoon te bid, want dit is mos lekker om gehoorsaam te wees en dit is een van die maklike gehoorsaam wees dinge om te doen.

Om dan op te som:
As iemand my vervloek, of ‘n binding op my plaas, soos wat hy of sy dink, steur ek my nie daaraan nie, behalwe om vir hulle te bid vanweë die dwase ding wat hulle gedoen het en in elk geval het Salomo in sy groot wysheid gesê:

SPR 26:2  Ongeregverdigde vervloeking is soos dartelende voëltjies en ‘n swaeltjie wat wegvlieg.  Daar sal niks van kom nie.

Groete
Sakkie