STAAN OP, STAAN OP VIR JESUS

STAAN OP,  STAAN OP VIR JESUS

Sakkie Parsons

Die volgende gesegde wat iemand vir my gestuur het, het ‘n paar gedagtes en teksgedeeltes, asook ‘n lied wat ons in die kerk sing se woorde in my hart laat opkom, wat ek graag met jou wil deel.

"Safety is not the absence of danger but is the presence of God"

Die eerste wat by my opgekom het was:

LUK 21:17  “Julle sal ook deur almal gehaat word omdat julle in my Naam optree.

Die satan sal maar altyd mense gebruik om ons in die vlees en verseker ook in die geestelik lewe, in gevaar te stel.

Ek kan onthou hoe ongewild ek by sommige mense was by die maatskappy waar ek in diens was omdat ek gereeld, veral met twee persone, gepraat het oor dinge wat hulle gedoen het wat oneerlik was en alhoewel hulle my beswadder het en probeer het om my skade aan te doen, het ek natuurlik al die tyd geweet:

JHN 16:33  “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Asook:

LUK 21:18  “Selfs nie ‘n haar op julle kop sal verlore gaan nie.
LUK 21:19  Deur julle volharding sal julle julleself red.”

Ten spyte dat hulle my sleg behandel en my beswadder het, het ek nie ‘n kompromie met my gewete aangegaan, of my Christelike standaarde verlaag nie, en al die tyd het ek ook onthou:

MRK 8:36-38 
36 “Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade?
37  Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.
38  As jy jou vir My en vir my boodskap skaam te midde van vandag se ontroue en sondige mense, sal Ek, die Seun van die Mens, My ook vir jou skaam wanneer Ek terugkeer met die heilige engele, beklee met die heerlikheid van my Vader.”

Ek sê weer –
Die satan sal maar altyd mense gebruik om ons in die vlees en verseker ook in die geestelik lewe, in gevaar te stel.

Dít, my vriend/vriendin, is baie waar, maar so heerlik lekker wat die gesegde wat vir my gestuur was, sê:

"Safety is not the absence of danger but is the presence of God.”

JHN 16:33  “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld reeds oorwin.”

LUK 12:32  “Moet dus nie bang wees nie, klein kuddetjie.  Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee.”

So kind van God, ek wil jou aanmoedig met die woorde van die lied hieronder:

Staan op en staan vas vir Jesus:

Staan op, staan op vir Jesus,
Kom stryders van die kruis!
Laat ons Sy Naam omhoog hou
Al sou die vyand druis;
Oorwinning tot oorwinning,
Lei Hy ons keer op keer,
Tot elke vyand neer is,
En Hy regeer as Heer.

Staan op, staan op vir Jesus,
Die stryd is byna oor;
Dan sing ons as dit klaar is,
In die oorwinnaarskoor;
En dan is nog die kroon daar
Vir die wat waarlik stry,
Hul gaan dan by die Koning,
vir ewig, ewig bly.
                 

Groete
Sakkie