STIG EN RESPEKTEER DIE EEN DIE ANDER

STIG EN RESPEKTEER DIE EEN DIE ANDER

Sakkie Parsons

Een oggend, word ek wakker en skakel die radio aan en soek na mooi musiek.  Ek kom toe af op mooi boeremusiek.  Ongelukkig maak die omroeper toe die musiek klaar is, so in die gesels, wat ek noem, ‘n afbrekende opmerking oor mense wat nie van dieselfde ras as hy is nie. Wat dit vir my so hartseer maak, is dat hierdie besondere radiostasie homself uitgee dat hy die Christelike standaarde handhaaf.

Die eerste ding wat ons Here my die oggend toe wys, is dat sommige van ons Christene ‘n skewe beeld van ons Here aan die mense om ons wys. Ek weet van mense wat nie eens saam met iemand van ‘n ander ras ‘n erediens aan ons Here sal bywoon nie. Dink net hoe ongemaklik hulle eendag in die Hemel met daardie uitkyk sou wees, want onthou jy wat ons Here in Sy Woord laat skryf het:

HAN 10:34  Toe antwoord Petrus:  “Waarlik ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie.

HAN 10:35  In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is.”

Hoe heerlik om te weet, dat elke ware gelowige kan en sal die volgende met oortuiging bely, verkondig en natuurlik deur ons lewens ook weerspieël:

OPG 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied met dié woorde:  U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie.

OPG 5:10  U het hulle laat deel in u koninklike regering en hulle priesters vir ons God gemaak en hulle sal as konings oor die aarde heers.”

Dieselfde oggend gaan ek toe na my dogter Alta se huis, want sy sou my in die vreemde stad gaan help met die een en die ander en toe stig ons Here my sommer “big time,” soos my dogter Suzette in Amerika sou gesê het.

By Alta se huis gekom moes ek vir haar wag, want sy sou net gou vinnig afvat by die werk om my te gaan help. Sy kom toe daar aan, taamlik haastig en draf eers gou na die swembad om te kyk hoe vorder die swart man wat hulle gehuur het om die swembad reg te maak. Kom toe vinnig in, neem my aan die arm en terwyl ons taamlik vinnig by die voordeur uitgaan, sê sy oor haar skouer aan my kleinkinders dat hulle nie moet vergeet om die oom wat die swembad regmaak se kos twaalf uur warm te maak en vir hom te neem nie.

Ja, ek moes noem dat die oom swart is, anders sou dit wat ek met jou wil deel by sommige mense verbygegaan het. Soos ek gesê het, toe stig ons Here my sommer “big time” met twee groot lekkertes wat my nog steeds so heerlik warm om die hart maak.

Eerstens word my kleinkinders groot in ‘n Christen huis waar ‘n volwassene ‘n oom of tannie is, ongeag van ras of kleur.

Tweedens praat ek ‘n taal wat jy kan maar sê, in hom ingebou het die Bybelse etiek van respek vir mense wat ouer is as jy.  Soveel so, dat dit heeltemal normaal was toe ek wat afgetree het, toe ek nou die anderdag met ‘n 80 jarige dame gesels het, haar tannie kon noem.

Ek wil jou aanmoedig.

Terwyl jy ‘n Christen is.

Terwyl jy ‘n Afrikaner uit Afrika is, wat jou taal ook al is, want ek het hierdie heerlike wete, dat nie net wit Afrikaners my pos ontvang nie. Wees soos ek, sommer maar net ‘n Christen Afrikaner en doen wat Jesus van jou verwag:

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Wat is dit wat ons die mense moet leer, wat hulle moet onderhou wat Jesus ons beveel het? Na my mening begin en eindig dit by Jesus se Liefdeswet vir ons:

Mat 22:36-40 

36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”

37 Jesus se antwoord was:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’

38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.

39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

‘n Nuwer vertaling stel Mat 22:40 so:

MAT 22:40  “Die hele Skrif is gegrond op hierdie twee bevele van God.”

Ek moet ook onthou dat wanneer ek die Evangelie van Jesus verkondig en as begin punt, Sy liefdeswet vir my gebruik, mag ek nie, soos wat sommige die gewoonte het om te doen, selektief te werk gaan nie. Nee, ek mag my nie distansieer van sekere mense omdat ek nie toegeneë teenoor hulle voel nie. Jesus sê juis in dié verband die volgende:

Mat 5:43-48 

43Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy moet jou eie mense liefhê, maar jy hoef nie jou vyand lief te hê nie.’

44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg.

45  Só sal julle optree soos ware kinders van julle hemelse Vader.  Hy laat immers sy son opgaan oor slegtes en goeies.  En Hy laat sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen.

46  As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter beloning is daar dan vir julle?  Selfs korrupte tollenaars doen presies dieselfde.

47  En as julle net julle eie mense groet, wat besonders doen julle dan?  Doen die heidene nie ook maar dieselfde nie?

48  Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in Sý liefde is.  Hy het mos álle mense lief.”

Jesus sal nooit vir my ‘n opdrag gee wat nie moontlik is nie. So, hoe is dit dan moontlik vir my, om, wat hierdie saak aanbetref “volkome in my liefde” te wees? Want, daar staan dit geskryf.:

Mat 5:48  Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in Sý liefde is.  Hy het mos álle mense lief.”

Gelukkig gee Hy ook vir ons die antwoord in Sy Woord:

KOL 3:12-14 

12 Julle is die mense wat God uitgekies het om Syne te wees en wat Hy liefhet.  Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek:  deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld.

13Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar.  Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het.

14 Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde.  Die liefde bind alles volmaak saam.

Ek sluit af met:

ROM 15:2 Ons moet aan die beswil van ons naaste dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou.

Hierdie gedagte uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou en dit is natuurlik alles gratis.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.