STUUR GOD MENSE HEL TOE?

STUUR GOD MENSE HEL TOE?

Sakkie Parsons

Ek weet dat ek by ‘n vorige geleentheid oor hierdie saak met jou gedeel het maar die onderwerp het weer in ‘n vraag onder bespreking gekom en ek het toe gedink dat ek weer iets daaroor sal skryf en dit met jou deel.

Die vraag was:
“Hoekom stuur ‘n liefdevolle God mense hel toe?”

My reaksie op hierdie vraag is; dat die stelling in die vraag so vals is, dat die vraag met sy gepaardgaande stelling net by satan self sy ontstaan kon gehad het.

God wil nie hê dat een enkele mens hel toe moet gaan nie.

Nee! God wil hê dat alle mense by Hom in die Hemel moet wees.

So graag wil Hy dit hê, dat Hy toegelaat het dat hulle Sy Seun vermoor, sodat jy en ek in staat kan wees, om die Hemel te kies.

JHN 3:16-18 
16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

God wil dus hê dat alle mense Hemel toe moet gaan maar Hy respekteer my wil en gepaardgaande keuse.

Ek het God gekies, omdat ek lief is vir Hom.

Hoe weet my vrou dat ek lief is vir haar?
Sy kan dit in my optrede sien.

Hoe weet God dat ek lief is vir Hom?

JHN 14:15  As julle My liefhet, bewaar my gebooie.

Die NLV stel dit so mooi:
JOH 14:15 As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam.

JHN 14:21  Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

JHN 15:10  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.
JHN 15:11  Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.

Van watter gebooie praat Jesus hier?
Dit is eintlik so eenvoudig.
Ek sê mos altyd, dat mense die Bybel te ingewikkeld probeer maak.
Kyk net hoe eenvoudig is dit om te weet wat Jesus se gebooie is.

MAT 22:36-40
36  Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

As ek God liefhet…

MAT 22:37 … met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

Gaan jy mos probeer om net dit te doen wat Hom sal behaag.

As ek my naaste lief het soos myself…

MAT 22:39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Gaan ek mos nie hom beskinder, besteel, verag, haat of wat ook al nie, bloot omdat ek
Jesus se gebooie nakom en ek my naaste respekteer en net so lief het, as wat ek
myself het en ek nie aan myself, sulke vieslike dinge sal doen nie en omdat ek weet,
dat omdat om my naaste lief te hê, in Jesus se oë, vir Hom net soveel waarde het, as
my liefde vir Hom.

MAT 22:39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
 

As ek hierdie twee gebooie uitleef, doen ek inderwaarheid alles wat Jesus van my
verwag.

MAT 22:40  “Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoofgebooie.”  NLV

Wat myself aanbetref en ek wil jou aanmoedig, as ek so vrymoedig mag wees, om ook
so daarna te kyk:

Ek faal my God daagliks in hierdie sake maar Hy sien my opregte strewe om Sy
gebooie ten volle na te kom en my liefdevolle God, laat my ook daagliks verstaan, dat
Hy my stryd sien en weet dat ek Hom liefhet.

Groete,
Sakkie