TATOEËERMERKE, GAATJIES ENS IN MY LIGGAAM
Sakkie Parsons
Iemand skryf en vra my, my opinie oor of tatoeëer en gaatjies in die ore ens. sonde is.
Hier is dan hoe ek na hierdie soort ding kyk:
In die Woord is daar na my mening nêrens ‘n gedeelte wat hierdie saak, wat die Christen aanbetref, direk aanspreek nie maar persoonlik dink ek tog dat die Woord ook in hierdie geval vir ons riglyne gee waarvolgens ons kan weet, om dit so te stel, hoe ons Here sou wou dat ons hierdie soort ding moet hanteer.
Die van julle wat nou al geruime tyd van my pos ontvang, weet dat ek, soos my groot held Paulus, sterk daaroor voel dat Christene nie onder die Mosaïese verbond (wet van Moses) gebukkend gaan nie.
Ek gee net een voorbeeld om te wys hoekom ek glo soos wat ek in hierdie verband glo, want dit gaan mos in hierdie skrywe oor iets heel anders.
GAL 3:23-26
23 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.
24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.
26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
As iemand egter soos nou in die geval van hierdie vraag wat aan my gestuur is
vir my iets vra en ek kry in die Nuwe Testament nie ‘n direkte antwoord nie, gaan kyk ek in die Ou Testament, of daar iets is wat aansluit by dit wat wel in die Nuwe Testament vir my gesê word en so kry ek gewoonlik ‘n antwoord van hoe ek hierdie soort ding behoort te hanteer. In hierdie geval lees ek in die Ou Testament die volgende:
LEV 19:28 Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.
Met hierdie gedeelte uit die Ou Testament in gedagte, oor wat ons Here die Israeliete destyds beveel het, lees ek in die Nuwe Testament.
1KOR 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1KOR 3:17 As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.
Asook:
1KOR 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?
1KOR 6:20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.
Sommer vir die interessantheid daarvan net die volgende:
Volgens die Woord kom daar ‘n tyd, dat die oorgrote meerderheid van die wêreld se bevolking wel met ‘n, nee, sommer twee tatoeëerings mee gaan rondloop en jy kan meer hiervan lees, as jy onder andere OPB 13 gaan lees maar ek deel vir nou net met jou OPB 13:16-17:
OPB 13:16 Hy (dit is die monster) verplig al sy volgelinge, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk (of dan tatoe) op hulle regterhand of op hulle voorkop te kry.
OPB 13:17 Dit word gedoen sodat niemand kan koop of verkoop sonder die merk (of dan tatoe) van die naam van die monster, of die getal van sy naam nie.
As iemand nadat hy/sy tot hier gelees het, nog steeds nie sekerheid na die een of die anderkant toe het nie, is daar nog ‘n maatstaf wat ek saam met dit wat jy nou net gelees het sou gebruik, as ek oor hierdie saak ‘n besluit sou moes neem en dit is:
By dit alles wat ek nou weet, is dit wat ek nou aan my liggaam wil laat doen, tot eer en verheerliking van ons Here?
Aangesien, ek as Christen weet, dat dit wat ek nou gaan doen, soos ons hierbo gesien het – ek by dit alles, dit aan ons Here se eiendom gaan doen.
So, as ek aan ons Here se eiendom iets gaan doen, is dit baie goed om die volgende uit die Woord in gedagte te hou:
1KOR 10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.
Die woorde in 1KOR 10:31 wat vir my uitgestaan het, toe ons Here my wat hierdie skrywe aanbetref weer aan hierdie gedeelte laat dink het was:
Enigiets, alles en verheerliking.
My strewe moet wees, om álles wat ek met énigiets doen, ook met my liggaam, tot verheerliking van ons Here te doen.
Nou, wat dan as iemand wat hier lees, tot die oortuiging kom, dat sy/hy nie tatoeëer merke en gaatjies behoort te gemaak het nie maar dit is nou klaar daar.
Wat nou?
Daar is ‘twee kort maar pragtig en kragtige Afrikaanse gesegdes wat volgens my mening baie goed van toepassing hier gemaak kan word.
“Gedane sake, het geen keer nie” en:
“Die koel is deur die kerk.”
Die gaatjies is klaar daar. Die merke is klaar daar.
Nou as dit ek was, sou ek die volgende uit die Woord onthou het – dit op myself in opregtheid voor ons Here van toepassing gemaak het en heerlik, van nou af, my lewe en my liggaam tot eer en verheerliking van Hom gebruik en uit gelewe het.
Dit is dan ook nou, wat ek aan jou wil voorstel:
1JHN 1:9 As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
FIL 3:14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.
Alhoewel ek nie sommer sulke dinge aan my liggaam sou laat doen nie, is een ding vir my wat hierdie saak aanbetref absoluut glashelder.
Niemand sal hel toe gaan, bloot omdat sy/hy ‘n tatoeëermerk op haar/sy liggaam laat aanbring het nie.
Niemand sal hel toe gaan bloot omdat sy/hy ‘n gaatjie, sê in die oor laat skiet het nie.
Die bepalende faktor van waar ek die ewigheid gaan deurbring, soos ek die Woord verstaan, is of ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, of nie.
JHN 3:16-18
16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
Met ander woorde:
Hoe arriveer ek aan die anderkant van die graf?
Met Jesus – en die hemel se poort gaan vir my oop?
Of:
Sonder Jesus – en ek stort oor die hel se gapende afgrond die ewige verderf in.
Groete,
Sakkie