VERASSING OF NIE

VERASSING OF NIE?

Sakkie Parsons

Iemand het my om my opinie gevra oor wat die Woord oor verassing van ‘n mens se liggaam sê. Ek deel graag my antwoord aan die persoon ook met jou.

Om mee te begin, weet ek nie van een plek in die Woord waar verassing veroordeel of goedgepraat word nie.

Wat wel seker is, is dat die mense van die Ou Testament in die oorgrote meerderheid hulle dooies begrawe het en veral in die begin, hul dooies in spelonke/grotte geplaas het.

Dieselfde kan natuurlik nie in die gewone omgang van byvoorbeeld die bedelaars, haweloses, slawe en misdadigers gesê word nie. Dié is gewoonlik net uit die stad of dorp geneem en op die stortingsterrein/asgate van die dorp of stad gegooi.

Nou is die vraag: Het ons Here meer van Christene gedink wat gesterf en deur ‘n graf by Hom  uitgekom het, as byvoorbeeld Christen slawe, Christen bedelaars en Christen haweloses wat op die ashope beland het?

Om nie eens te praat van die Christene wat deur die Romeine in arenas aan leeus gevoer was en as leeumis uitgeskei was nie.

Persoonlik dink ek nie dat dit saak maak hoe van my liggaam/oorskot, om dit so te stel, ontslae geraak gaan word, wanneer ek my liggaam verlaat het nie.

Verseker gaan dit niks aan my saligheid verander nie, want dit gaan nie oor hoé, en of ek, of dan my oorskot begrawe is nie, maar of ek Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, toe ek nog in hierdie lewe op aarde was.

JHN 1:12  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo;
JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.”

Terwyl ek lewe, omdat ons Here en ek in my liggaam woon, is my liggaam heilig in die oë van ons Here en behoort ek ook so na my en ander se liggame te kyk.

1KOR 3:16  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1KOR 3:17  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”

Wanneer ons Here en ek my liggaam verlaat het, as ek dit nou reg verstaan, maak dit nie saak van hoe hulle, wat nog in die lewe is, van my liggaam ontslae raak nie. Vir my is die beste voorbeeld om te staaf wat ek nou gesê het, die volgende:

LUK 16:19-23 
19 “En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.
20  En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.
21  En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.
22  En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.
23  En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.”

Die eerste wat ons nou hier moet onthou, is dat dit JESUS is wat hierdie gegewens met ons deel. Ek dink ook nie self dat dit ‘n gelykenis is nie. Want, as Jesus sê:

LUK 16:19  “En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra …”

dan was daar ‘n ryk man. Soos ek gesê het, as Jesus iets op ‘n spesifieke manier vertel, dan is daar ‘n baie goeie rede waarom Hy dit so vertel. Nou vertel Jesus vir ons, dat toe die ryk man sterf, was hy begrawe:

LUK 16:23  “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe…“

Net voor die ryk man dood en begrawe is, vertel Jesus ons dat die bedelaar gesterf het, maar niks word van ‘n begrafnis gesê nie:

LUK 16:22  “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra …”

Die rede waarom Jesus nie noem dat die bedelaar begrawe is nie, is na my mening bloot omdat hy nie begrawe was nie. Die mense het sy lyk, daar waar dit langs die pad in die dorp gelê het, net opgetel en in die vullisgat buitekant die dorp gaan gooi waar die natuur, in die vorm van wind, weer, voëls, wilde diere en wurms daarvan ontslae geraak het.

Daar was ‘n geweldige groot kontras in wat met hulle liggame gebeur het, nadat hulle dit verlaat het.

Die een het ‘n baie mooi  begrafnis gehad, want onthou, hy was ‘n ryk man. Die ander een het, om dit so te stel, in ‘n asgat beland.

As jy nou dink die kontras van wat met hulle liggame gebeur het, nadat hulle dit verlaat het, is groot, kan ek maar net sê dat dit niks was in vergelyking met wat, volgens Jesus, met hulle gebeur het toe hulle hul oë aan die anderkant van die graf oopgemaak het nie.

Kyk eers na die ryk man:

Hier op aarde het hy ‘n “fancy” begrafnis en toe hy sy oë aan die anderkant van sy “fancy” graf oopmaak, is dit ‘n heel ander storie:

LUK 16:23 “… En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, …”

Hoe verskriklik!

‘n Smart, wat vir ewig gaan aanhou en aanhou en aanhou. ‘n Smart wat nooit gaan ophou of ligter gaan word nie.

Kyk nou wat het met die bedelaar gebeur, ten spyte daarvan dat sy liggaam in ‘n oop asgat aan die natuur oorgelaat was:

LUK 16:22  “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.”

Toe hy sy oë aan die anderkant van sy oop asgat graf oopmaak, staan engele reg om hom te bedien.

Uiteindelik het dit in elk geval ook nie saak gemaak dat die een begrawe was en die ander by die asgate beland het nie. Want, op die ou end het die natuur tog maar, soos wat die natuur nou maar met dooies maak,van albei se liggame op sy manier ontslae geraak.

Jy sien –

Dit maak nie saak of ek begrawe, veras, in ‘n grafkelder gebêre en of ek ‘n water begrafnis, of watter ander soort begrafnis daar ook al is, gehad het nie. Dit gaan niks wegneem of bydra tot waar ek die ewigheid gaan deurbring nie.

Ek het vir my vrou gesê dat indien ons Here my voor haar kom haal, moet sy so goedkoop moontlik van my liggaam ontslae raak. Dit moet net sindelik wees, sodat ons niemand aanstoot gee nie.

Dit is tog so ironies hoe mense vir hulle aftrede op hierdie aarde beplan, maar niks doen omtrent hulle uittrede uit hierdie aarde nie en hoe mense baie bekommerd kan raak oor wat van hulle liggame gaan word wanneer hulle hul liggame verlaat het, maar nie eintlik dink oor wat van hulle gaan word as hulle aan die anderkant van die graf arriveer nie.

Want jy sien –
Die persoon wat nog nie vir JESUS aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie, se probleem is nie wat van haar/sy dooie liggaam hierdie kant van die graf gaan word nie.  Haar/sy probleem is wat met haar/sy lewendige siel aan die ánderkant van die graf gaan gebeur.

So, ek sluit dan af met hierdie vraag aan jou:

“Weet jy verseker wat gaan aan die anderkant van die graf met jou gebeur?”
                 
Groete
Sakkie