VIR HIERDIE GOEIE NUUS IS EK ALLESBEHALWE SKAAM

VIR HIERDIE GOEIE NUUS IS EK ALLESBEHALWE SKAAM

Sakkie Parsons

Ek gesels nou eendag met my dogter en ons kyk so na die dinge wat mense om ons doen en sy sê iets wat my met ‘n skok laat besef het maar dit is werklik soos dit is.

Buiten as jy Sondae in die kerk sit, kom jy deesdae min, baie min wáre Christene in jou omgang in die lewe teë.
As jy wat nou hier lees saamstem, glo ek jy sal ook verder saam kan stem.

‘n Mens kan nou vra, hoekom dit so is – as ons ‘n land is waar tussen 70 en 80% van die mense bely dat hulle Christene is.

Wel, volgens wat ek waarneem, is daar 3 hoofredes daarvoor.

Die eerste is; dat ek dink ons verseker nie meer tussen 70 en 80% van die bevolking het, wat eens in naam meer Christene is nie.

Die tweede rede na my mening is, dat volgens sommige denominasies se dogma is eenmaal gered, altyd gered.
So sommige sal sê: “Ek is as baba gedoop en ek het my kerk, ek het niks meer nodig nie, want ek is ‘n Christen  en is op my pad hemel toe” en verder lewe hulle soos al die ander mense in die wêreld om hulle.
Sommige sal sê: “Ek is bekeer en het my laat doop.  Ek is ‘n Christen en ek het my kerk, ek het niks meer nodig nie.  Ek is ‘n Christen op my pad hemel toe.”

Die derde rede na my mening is, dat die meeste van die Christene wat wel met ‘n bietjie aanmoediging sal bely dat hulle wel Christene is – en ek bedoel met aanmoediging, as jy byvoorbeeld eerste met hulle oor Jesus of Sy Evangelie begin praat maar anders handhaaf hulle liewer ‘n lae, ‘n baie lae profiel van passief Christen wees.

Maar dan is daar hierdie groep mense – en dit is die rede dat ‘n mens darem nog in jou daaglikse omgang in die lewe wel hier en daar ‘n Christen teenkom.
Want hulle is mense wat ons Here se Woord regtig ter harte neem en so verseker weet as ons lees:

GAL 2:20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

Daarom brand hulle om daardie heerlike krag wat in hulle is te gebruik.
Watter krag?

HAN 1:8  Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”

Het jy opgelet wat jy nou gelees het?
Daar staan nié geskryf… (en ek gebruik hier die ouer Vertaling):

HAN 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle (mag dalk) my getuies wees …

Daar staan ook nié geskryf:

HAN 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle (soms wanneer julle miskien so voel nie) my getuies wees …

Daar staan geskryf:

HAN 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees …

Jy en ek “sal” ‘n getuie wees, gewoon omdat jy geen ander keuse het of wíl hê nie.  Jou liefde vir Jesus sal jou dwing.

Daarom is dit vir jou wat in hierdie vierde groep val geen probleem nie as jy lees: 

2TIM 4:2  Verkondig die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, aanspreek en bemoedig terwyl jy hulle geduldig onderrig.

Inteendeel – Dit is ‘n heerlike opdrag wat jy altyd probeer uitlewe as jy net ‘n halwe kans kry.

Dink ‘n bietjie oor hierdie snaakse fenomeen van baie so baie Christene:
Hulle het geen probleem hoegenaamd om byvoorbeeld vir almal wat wil weet te vertel watter rugbyspan hulle ondersteun nie maar julle mag ou pelle wees, dan weet jy nog nie of hulle belydende Christene is nie.

Jy sal kort na julle ontmoeting weet wat hulle groot liefde / stokperdjie is maar jy mag dalk nooit tensy jy self ‘n punt maak om uit te vind, weet of hulle, volgens hulleself, ware volgelinge van Jesus Christus is nie

Hulle sal met oorgawe, selfs sonder jou aanmoediging vir jou vertel hoe hulle kinders uitblink.  Om die waarheid te sê, die meeste mense gesels maklik oor veral die groot positiewe dinge in hulle lewens maar swyg en amper skryf ek, “soos die graf” van die heel grootste wonder in hulle lewens, dat Jesus Christus op Golgota vir hulle sondes gesterf het en dit vir hulle moontlik gemaak het om die ewige lewe by Hom in die Hemel deur te bring.

Nie net swyg hulle maklik oor die grootste wonder in hulle lewe nie maar vir my nog erger;  Hulle doen dit in ongehoorsaamheid teenoor Jesus wat dit vir hulle gedoen het en hulle ‘n opdrag en amper skryf ek, oor en oor in Sy Woord gegee het om dit teenoor die wêreld te getuig.

Hoe wonderlik sal dit nie wees nie, as ons in elke Christen – beginnende by onsself – se lewens en woorde as ‘n getuienis dit soos my groot held Paulus kan uit jubel:

ROM 1:16-17
16  Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode. (dit is nou jy en ek)
17 Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”

Mag dit tog in jou en my lewe gestalte kry, dat ons onbeskaamd deur ons lewens en ook ons woorde, die wonderlike Evangelie van Jesus Christus aan die wêreld volgens Sy opdrag aan ons sal verkondig:

MAT 28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.
19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Sjoe!
Wat ‘n heerlike wonderlike opdrag om van jou Verlosser en Saligmaker te ontvang, in die wete dat Hy, wie jou die opdrag gee alles gedoen het, om dit vir jou en almal aan wie jy hierdie goeie nuus gaan meedeel, moontlik te maak om vir ewig te leef in die Hemel en nie vir ewig die verskriklikste dood te sterf in die hel en tog nooit te sterf nie.

Dan, hoe wonderlik, wanneer ons dit doen, om in groot heerlike vreugde te onthou, hoe ons God en ons Verlosser ons wat hierdie saak aanbetref sien:

MAT 5:14-16
14  Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
15 ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Ja, ons is die lig vir hierdie wêreld, soos ‘n goeie flits in die hand van ons Here en saam met dit, lees ons net in dieselfde hoofstuk in vers 13, dat ons is ook die sout van hierdie aarde en dit ook in die hand van ons Here:

MAT 5:13  “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar.  Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word.

Daar is ‘n wesenlike gevaar, ten spyte wat deur baie denominasies verkondig word, dat ek deur my passiewe godsdiens, ek – wie die sout is – só kan verslaan, dat dit net nie meer sout kan word nie:

MAT 5:13  “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar.
Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat (in die hel) uitgegooi en deur die mense platgetrap te word.

Miskien lees jy hier en dink, dat jy al klaar amper heeltemal verslaan het. 
Miskien dink jy selfs, dat jy eintlik klaar heeltemal verslaan het.

Dan kan ek nou vir jou met groot sekerheid sê, jy is nog nie by laasgenoemde punt nie, anders sou ons Here nie hierdie skrywe by jou laat uitkom het nie en Hy sê nou vir jou deur hierdie skrywe:

JES 42:3  Hy sal ’n geknakte riet nie verder afbreek nie.
Mense wat dof brand soos ’n lamppit sal hy nie uitdoof nie.
Hy sal in opregtheid reg laat geskied.

Ja, Hy nooi jou nou vol liefde uit deur vir jou te sê as jy lees – en lees jou naam elke keer wanneer jy die woord tussen hakkies sien:

JES 1:18-19
18 “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,”
sê die Here.
“Maak nie saak hoe diep die vlek van (julle) sonde is nie,
Ek kan dit verwyder.
Ek kan (julle) so skoon maak soos sneeu wat pas geval het.
Selfs al is die vlek so rooi soos purper,
Ek kan (julle) wit maak soos wol.
19 As (julle) gewillig is en My maar net gehoorsaam, …

Al wat jy nou met eerlike opregtheid in jou hart doen, is om vir ons Here te sê net hier waar jy nou sit en lees:

“Here, ek bely, dat ek vol sonde, al hoe verder van U af beweeg.
Here neem my hand ek wil U onbeskaamd volg.”

Nou raak jy betrokke by jou gemeente en as jy nie ‘n gemeente het nie, soek jy ‘n gemeente wat die hele Bybel as die ware Woord van ons Here aanvaar en bely.
Kontak die herder van daardie gemeente na jou eerste bywoning van ‘n diens, wat hopelik hierdie Sondag gaan wees en vra hom vir verdere leiding.
As jy nie van so ‘n gemeente in jou omgewing weet nie, kontak my en ek kyk of ek kan help.

Groete,
Sakkie