VIR HULLE WAT AAN CHRISTUS JESUS VERBIND IS, IS DIE OORDEEL NOU HEELTEMAL WEGGENEEM.
Sakkie Parsons
Iemand skryf en vra aan my die volgende:
“As ons Israel gaan oordeel, wie gaan ons dan oordeel?”
In hierdie skrywe praat ek nou van mense wat nie net in naam Christene is nie.
Laat ek dit so stel –
Volgens statistieke, as ek dit nou reg onthou, sê 80% van die mense in Suid-Afrika dat hulle Christene is.
Die mense van wie ek nou verder skryf maak ongelukkig ‘n baie klein gedeelte van daardie 80% uit.
Ek praat van mense wat wérklik vir Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker.
Ek wil dan begin deur te sê:
Weet jy, omdat ons Goddelike status gaan hê soveel so, dat ons aan Jesus gelyk gaan wees:
1JOH 3:2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.
Hy sal ons oudste Broer wees.
ROM 8:29 Want God het hulle (dit is jy en ek) reeds vooruit geken, en Hy het hulle (dit is ons) aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.
Daarom gaan ons nie net oor Israel oordeel nie maar ons gaan as broers en susters van Jesus Christus ons oudste Broer, voor wie die hele wêreld sal kniel en bely dat Hy die Here is:
FIL 2:9-11
9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam.
10 Só sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig,
11 en elke tong sal bely “Jesus Christus is Here!” En só sal God die Vader verheerlik word!ROM 14:11 Die Skrif sê mos: “So seker as Ek lewe,” verklaar die Here, “elke knie sal voor My buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.”
Ja, ons gaan saam met Jesus Christus die hele wêreld oordeel.
1KOR 6:2 Besef julle dan nie dat ons Christene eendag die wêreld gaan oordeel nie? …
Ook gaan ons nie net vir Israel en die hele wêreld oordeel nie maar ons gaan selfs die engele oordeel:
1KOR 6:3 Besef julle nie dat ons selfs oor engele gaan oordeel nie? …
Hoe dit gaan werk, dit weet ek nie maar ek breek ook nie my kop daaroor nie. Dit staan so in ons Here se Woord en dit is dan in die beheer van ons Here en dit is vir my heeltemal genoeg so.
Terug by die vraag wat aan my gevra was.
“Wie gaan die ware kinders van ons Here oordeel?”
Wel die heerlike kort antwoord is natuurlik:
Niemand nie.
JOH 3:18 “Die persoon wat aanhou glo in Hom, (dit is Jesus Christus) word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.
ROM 8:1 Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.
Daar is soos ek jou gewys het, geen maar geen oordeel of dan veroordeling wat vir ons wag nie.
Wat wel verseker met ons gaan gebeur, is dat ons deur ons liefdevolle Here beoordeel gaan word.
Ek verduidelik dit meer breedvoerig in ‘n gedagte uit die Woord met die naam van “Oor die derde Hemel en ons loon,” wat ek met groot liefde aan jou op aanvraag sal stuur.
Vir nou sluit ek af met die beoordeling wat op jou en my wag in gedagte met die volgende uit die Woord:
1KOR 3:10-15
10… elkeen wat op hierdie fondament bou, moet baie versigtig wees.
11 Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus.
12 As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels.
13 Daar kom egter ’n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk
aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.
14 Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.
15 Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ’n brand gered word.
So, kom jy en ek leef na die beste van ons vermoë voluit vir ons Here. Want hoe wonderlik, daar staan dit in die Woord:
OPB 22:12 Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.
OPB 22:13 Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste,
die Begin en die Einde.”
Ek het aan die begin van hierdie skrywe genoem, dat ek van ‘n baie klein persentasie mense in die Christendom in hierdie skrywe praat.
Die sekerheid wat jy en ek vandag in ons harte moet hê, is of ons in hierdie klein groep mense val oor wie jy nou gelees het.
‘n Goeie beginpunt om by te begin, is om die volgende wat Jesus gesê het te oordink:
MAT 7:16-21
16 Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie.
17 ’n Gesond boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte.
18 ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie.
19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20 “So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”
Vroom praatjies tel nie in God se koninkryk nie
21 “Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.
Groete,
Sakkie