VOORWAARTS CHRISTEN STRYDERS

VOORWAARTS CHRISTEN STRYDERS

Sakkie Parsons

Iemand het die vraag gevra, waarom ons liefdevolle God mense hel toe stuur.

Hier het jy nou weer ‘n klassieke geval van hoe die satan mense se oë verblind, dat hulle kyk en tog nie sien nie. 

Eintlik moet ek seker sê, lees en tog nie inneem wat hulle lees nie.

God het juis Sy Seun gestuur dat elke mens wat wil, gered kan word.

JHN 1:11  Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

As ek in die deur van ‘n kamer vol mense gaan staan en sê, dat almal wat nou by my gaan verby stap na buite, ‘n duisend rand gaan kry, sal almal in daardie kamer by my verby stap na buite, want almal in daardie kamer sal ‘n duisend rand wil hê.  Daar sal nie een persoon wees wat sal dink, dat “almal” nie op hom of haar van toepassing is nie.

AS God sê”almal” dan bedoel Hy elke persoon wat wil.

Jy sien die waarheid is nie ‘God wat stuur nie.’

Die waarheid is, – ‘Ek wat kies.’

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Kom ek gee jou net een voorbeeld van iemand wat toegelaat het dat die duiwel hom verskeur en hel toe sleep.

JHN 13:2  En gedurende die maaltyd—die duiwel het dit al in die hart van Judas Iskáriot, die seun van Simon, ingegee om Hom te verraai—

Jy sien, al die pad Hemel toe gaan die duiwel probeer om jou van die pad af te druk.

EFE 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Jy sien weer sê ek, dat die waarheid is nie, ‘God wat stuur nie.’  Die waarheid is, ‘Ek wat kies.’

JHN 3:14  En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word,

JHN 3:15  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

So, kom ek en jy doen wat Jesus van Sy volgelinge verwag:

Mat 16:24  Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.

Kyk net wat is een van die heerlike beloftes wat Jesus vir ons gee wat dit in

opregtheid doen.  Ek sê spesifiek, opregtheid, want onthou dat Judas dit ook

gedoen het, maar vir die verkeerde redes.

Vir Sy opregte volgelinge sê Jesus,  al is hulle swak soos Petrus en Thomas

en ek en jy:

JHN 14:1  Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.

JHN 14:2  In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.

JHN 14:3  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

So, my mede-pelgrim.  Kom ek en jy lig ons kruis weer van vandag af met nuwe krag en ons loop die toekoms in, agter Jesus aan, op pad Hemel toe, met hierdie besluit weer opnuut in ons harte:

“ I am going to live it, because I believe it.”

Terwyl ons daardie lied sing wat so baie Christene in die verlede ook gesing het.

Voorwaarts, Christen stryders,

voorwaarts, om te stry!

Laat die kruis van Jesus

in die strydperk lei!

Hy, die Heer en Koning,

voer Sy leër aan;

laat Sy vaandel vooraan

op die slagveld gaan!

Voorwaarts, Christen stryders,

voorwaarts, om te stry!

Laat die kruis van Jesus

in die strydperk lei!

Terwyl jy dan hierdie lied se woorde vol heerlike vredevolle vreugde in jou hart sing, onthou jy dan ook wat die Woord van ons Verlosser en Aanvoerder sê:

2KOR 2:14  Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons één is met Christus, altyd saamneem in sy triomftog.  Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek.

Groete,

Sakkie