WAAROM DIE CHRISTEN GODSDIENS DIE ÉNIGSTE WARE GODSDIENS IS

WAAROM DIE CHRISTEN GODSDIENS DIE ÉNIGSTE WARE GODSDIENS IS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en sê dat haar seun van 12 jaar aan haar gevra het:

“Hoe weet hy of dit wat ons glo waar is?  Wie se die Hindoe of watter ander geloof ook al nie waar is nie, aangesien elkeen van hulle glo op hulle eie manier.”

Ek glo daar is mense wat sekerlik nog beter as ek hierdie vraag sou kon antwoord maar hier is my antwoord, soos wat ek dit verstaan, ervaar, en in my eie lewe uitleef en ek dit graag met mense deel.
Eerstens.
Vir my is die grootste ooglopende verskil tussen die Christengeloof,  dit waarin ek glo en ander gelowe om my, sover my kennis strek, die enigste geloof, waar God in Sy groot liefde eerste na die mens uit gereik het.

GAL 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,
GAL 4:5  om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

Ja en hoe wonderlik is dit om te weet:

JHN 1:1  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Niemand wat vandag oor hierdie dinge dink en redeneer en wat rasioneel is, betwis vandag, dat Jesus Christus op aarde gelewe het nie en dat Hy volgelinge “dissipels” gehad het wat Hom gevolg en in Hom geglo het nie.
Nou goed –
Dink ‘n bietjie hieroor:
Sal jy of enige ander mens vir ‘n leuen, na jou mening as volg optree?
Sal jy na die vernedering, mishandeling en kruisiging van jou leier, aste ware uit jou pad gaan om raakgesien te word terwyl jy vir almal wat wil luister ‘n leuen vertel, wat jy weet jou dood kan kos?
Sal jy help om ‘n leuen te verkondig, wat jou niks as net ontbering in die sak bring nie?
Sal jy volhou met daardie leuen al sê hulle, dat hulle jou wreed gaan doodmaak omdat jy hierdie leuen glo en verkondig?
Sal jy aanhou met daardie leuen, totdat hulle dan ook doen wat hulle gesê het dat hulle gaan doen, al is daar ‘n wesenlike gevaar dat een van die ander samesweerders tog gaan knak onder die druk en met die hele sak patats gaan uitkom en sodoende jou gaan uitwys as ‘n valse getuie en jou wrede dood heeltemal nutteloos gaan maak?
Wel, dit is presies die belaglike onsinnigheid, wat diegene wat beweer dat die Evangelie van Jesus Christus ‘n valse godsdiens is, wil hê dat iemand soos ek en jy met ‘n gesonde verstand moet glo.
Want as die Evangelie van Jesus Christus vals is, is dit presies wat moes gebeur het. Maar hoe onsinnig en belaglik dit ook al is wat jy nou gelees het en wat hulle wil hê dat ons moet glo is dit nog nie die einde nie!

Dink ‘n bietjie hieroor:
Onthou nou, daar word van ons verwag om te glo dat ‘n hele klomp mans en vroue, die meeste tot die dood toe sonder uitsondering so opgetree het soos wat ek jou nou vra:
Sou jy nog by dit alles, wat jy nou gelees het, verder dit dwarsdeur die leuen laat uitstaan het, dat jy en jou mede samesweerders, feitlik deurentyd die vark in die verhaal was?  In die sin; Toe julle by julle Leier moes staan, julle die vlugtende lafhartige swakkelinge, wat julleself van hom gedistansieer geword het.
Ja, sal jy waaragtig werklik tot daar waar hulle jou wreed doodmaak, staan by die egtheid van die leuen, wat insluit hoe lafhartig, kleingelowig en treurige volgelinge jy en al jou mede samesweerders van jou leier gewees het?
Wat my aanbetref, kan net iemand wat geen kennis van die mens se natuur het nie, so ‘n belaglike storie glo maar omdat dit nie ‘n leuen is nie maar letterlik die Goddelike waarheid is, is dit presies wat Sy volgelinge verkondig en gedoen het.

Nie net het dit net so gebeur nie maar sonder die luuksheid van e-pos en selfone, sodat hulle mekaar kon ondersteun, het hulle, nadat hulle oor die hele wêreld verjaag was en sommige van hulle mekaar waarskynlik nooit weer gesien het nie, tog almal tot die dood, ja, tot van die wreedste vermoordings wat jy aan kan dink, dieselfde verhaal vertel en dit sonder die minste vrees dat een van die ander volgelinge met ‘n ander storie vorendag gaan kom.
Want, jy sien die dood eenvoudige feit was, daar was geen ander storie nie.

Ons Christene glo in ‘n Verlosser, God wat mens geword het en toe nie net die enigste volmaakte offer in die heelal vir ons geword het – nie maar die dood toe ook eens en vir altyd sigbaar vir ons oorwin het.

Hoe kan ek aan ‘n rasionele persoon wat my sou vra om te bewys dat Jesus uit die dood opgestaan het, so ‘n bewys gee om na te kyk?
Vir my is dit heel eenvoudig.
Kyk net weer na Jesus se volgelinge, se optrede, wat almal net gewone mense soos ek en jy was.

Wat het hierdie gewone mense soos ek en jy soos handomkeer laat verander?
Ek sien dit so:
Hulle wedergeboorte kan jy amper sê, begin soos uiteindelik ook myne by die Kruis.
Daar hang hul Leier vasgespyker en Hy sê:

JHN 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

Onthou nou dat ons hier met gewone, amper skryf ek, eenvoudige mense soos ek en
jy te doen het maar nie almal wat hierdie skrywe lees, gaan dink dat hulle gewone
“eenvoudige” mense is nie.
So –
Daar staan hulle en omdat hulle nie op daardie oomblik geweet het wat ek en jy
vandag weet nie, kyk hulle verslae en radeloos na ‘n lyk.
Toe twee dae later kom ‘n paar van hulle by Sy graf en wat hoor en beleef hulle?

LUK 24:2-7 
2 En hulle het die steen van die graf afgerol gevind.
3  En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.
4  En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere.
5  En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies?
6  Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was:
7  Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan.

Toe nog ‘n tyd later klim hulle uit hulle skuite uit en sien, Hy wat aan die Kruis vasgespyker was, het ‘n vuur gemaak en ontbyt vir hulle voorberei!

JHN 21:9  En toe hulle geland het, sien hulle ‘n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood.
JHN 21:10  Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het.

Toe nog later, staan Hy voor hulle en Hy sê vir hulle:

HAN 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Toe belewe hulle ook nog Sy Hemelvaart.  Hulle staan en kyk hoe die Vader aste
ware Sy arm om Sy Seun sit en Hom in die Hemel opneem:

HAN 1:9  En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.

Natuurlik! Daarna kon niks hulle keer nie!

Wees nou eerlik.
Sou jy as jy drie jaar saam met Jesus gelewe het en jy het alles gesien wat hulle gesien het en jy het Sy kruisiging belewe.  Die lyk daar aan die kruis sien hang en toe later weer alles beleef wat hulle beleef het.
Sou jy dan nog kleingelowig gewees het?
Soos ek gesê het, nou kon niks hierdie gewone mense keer nie.
Onthou jy?
Daar staan hy, nou die dag se groot lafaard, wat bewend van vrees vir sy lewe, vir ‘n diensmeisie se aantyging vloekend gelieg het, om te wys dat hy nie een van Sy volgelinge is nie en langs hom staan een van die ander groot lafaards, dalk nog die een wat destyds hom skoon uit sy klere uit gehardloop het.
Soos ek gesê het –
Daar staan hulle nou.
Dieselfde mense, wat nie lank terug nie hulle Leier se lyk aan ‘n kruis sien hang het.
Daar staan hulle voor die owerstes, ouderlinge en skrifgeleerdes, die leiers van die volk, wat mag het om hulle te laat dood maak.

HAN 4:18-20 
18 En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie.
19  Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;
20  want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.

Daar is volgens my nog ‘n bewys, wat juis vandag in hierdie tyd wat ons lewe, vir almal wat wil kyk en met ‘n oop gemoed wil luister baie duidelik bewys, dat die Christengeloof, die enigste wáre geloof is.

Naamlik:
Ons Geloof is die enigste geloof in die wêreld, waar die Verlosser en Saligmaker se Naam as ‘n vloekwoord deur almal gebruik word.   Ja, selfs deur sommige sogenaamde Christene en die rede daarvoor is voor die handliggend en dit is omdat dit die énigste Naam is, wat jou in ‘n liefdesverhouding met God kan bring. 

Die Draer van hierdie Naam wat so as vloek/krag/skelwoord gebruik word se bloed is ook die enigste wat jou kan reinig van al jou sonde.

1JHN1:7 Maar as ons in die lig lewe—soos God ook in die lig lewe—dan staan ons ook in die regte verhouding met mekaar en dan reinig die bloed van sy Seun, Jesus Christus, ons van al ons sonde.

Geen ander naam is ‘n bedreiging vir satan nie en daarom steur hy hom ook nie aan enige ander naam in enige ander godsdiens nie maar hy sorg wel deeglik dat die Naam van Jesus gelaster moet word en as sommige Christene nie die Naam as lasterwoorde wil gebruik nie, sorg satan dat hulle dit verdra in die boeke wat hulle lees en die TV programme ens wat hulle kyk en geniet.
Want, of jy dit self doen, of stilswyend in jou lewe toelaat en verdra, satan weet dat dit uiteindelik dieselfde “gravy” maar net ‘n ander sousie is.

Want hy weet baie goed dat daar geskryf staan:

HAN 4:11-12
11 Dit is van Hom wat die Skrif sê: ‘Hy is die klip wat u, die bouers, nie wou gebruik nie, maar dit is juis Hy wat die belangrikste klip in die hele gebou geword het.’
12 “Buiten Hom is daar niemand anders wat ’n mens kan red nie. En behalwe Jesus se naam het God geen ander naam op aarde gegee waardeur mense gered kan word nie.”

As ek Jesus se Naam as ‘n vloek/krag/skelwoord gebruik, kan ek tog nie in daardie selfde Naam na God gaan nie.
Die satan moedig mense aan om Jesus se Naam as ‘n vloekwoord, kragwoord en skelwoord te gebruik.

Want hy weet, dat wat ek dan eintlik doen, is om vir God te sê:

“Die enigste Naam wat U vir my gegee het, wat ek moet gebruik as ek U wil nader, alhoewel ek hierdie Naam gewoonlik as ‘n vloek/krag/skelwoord gebruik, omdat die Naam dan nie eintlik vir my iets beteken nie, wel ek kom nou in daardie Naam vir U iets vra.”

So, kan jy nou die geweldige implikasies sien wat hier uitspruit.

Die persoon wat Jesus se Naam as ‘n vloekwoord gebruik, het geen kommunikasie met God nie en wat meer is, tensy die persoon nie verander nie, verdoem so ‘n persoon hom of haarself tot die ewige hel, want jy sien, die Draer van hierdie Naam sê:

JHN14:6 Jesus sê: “Ek is die pad na die Vader toe. Ek is die waarheid. Ek is die lewe. Dit is net deur My alleen dat iemand na die Vader toe kan gaan.

Hierdie enigste groot reddende waarheid, naamlik die Evangelie van Jesus Christus  het meer as 2,000 jaar se aanslae en toetse van satan se volgelinge deurstaan en elke keer met vleiende vaandels die aanslae en toetsing geslaag.

‘n Mens kan amper nie glo dat daar nog vandag regdenkende mense, met al hierdie gegewens voor hulle is wat hierdie Evangelie nie deel van hulle lewe wil maak, deur Jesus aan te neem as Verlosser en Saligmaker nie maar dan onthou ek, dat ons Here ook in Sy woord in die verband sê:

1KOR 1:18-25 
18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
19  want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.
20  Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?
21  Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;
22  want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid,
23  maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;
24  maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.
25  Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.

Iemand sê dalk nou:
“Dit is nou alles goed en wel maar wat nou van my?  Ek was nie by Jesus se visbraai nie en ek was nie daar om te sien hoe voel Thomas aan die merke in Sy hand nie.”

Jy dink ons Here skryf hulle hoog aan en jy is reg – maar kom ek wys jou nog ‘n groter groot heerlikheid en jy is deel daarvan as jy Jesus aangeneem het as Jou God, Verlosser en Saligmaker.
Want dan, skryf Jesus jou nog hoër aan as hulle en onthou, ook Johannes die geliefde dissipel was een van hulle daar toe Jesus hierdie woorde gesê het:

JHN 20:27-29 
27 Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.
28  En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!
29  Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.

HEB 11:1  Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

So kom jy en ek maak ons Here Jesus se hart bly, deur nog mense na Hom te bring wat Hy so hoog kan aanskryf.
Hoe doen ons dit?
Die antwoord is voor die handliggend as ek onthou, dat ons Here in Sy Woord vir ons sê:

ROM 10:17  Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

So, kom mede-Christen en laat ons Sy Getuie wees en hierdie ewige lewegewende groot waarheid verkondig aan ‘n wêreld, wat aan soveel leuens blootgestel word.

Laat jy en ek deur ons woorde maar veral ons optrede deur ons lewe die antwoord wees op die vraag wat uit die Woord tot ons kom:

ROM 10:14  Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?
                 

Groete,
Sakkie