WANDEL WAARDIG DIE ROEPING WAARMEE JULLE GEROEP IS

WANDEL WAARDIG DIE ROEPING WAARMEE JULLE GEROEP IS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my na aanlyding van iets wat ek uitgestuur het, dan voeg die persoon by:
“Ek het egter 'n versoek, as jy 'n kansie kan maak en vir ons, jou e-pos gemeente, iets kan stuur oor die aaklige spreekwoord van:”
"As dit is hoe 'n Christen lewe, wil ek nie een wees nie.”

Dit is natuurlik werklik ‘n aaklige stelling, soos die persoon wat aan my geskryf het dit noem om te maak maar na my mening is dit nog veel erger as aaklig, dit is eintlik ‘n baie gevaarlike stelling om te maak en die gevaar van so ‘n stelling, soos ek dit sien, lê daarin dat baie mense, eintlik moet ek sê die meeste mense, wat hierdie stelling kwytraak tog in hulle harte dink dat hulle self ook Christene is en dit is dan eintlik omdat ek aan hierdie mense dink, waarom ek oor hierdie stelling skryf.

Kom ek wys jou hoekom ek persoonlik dink dat dit so ‘n gevaarlike stelling is om te maak.

Die persoon wat sê: "As dit is hoe 'n Christen lewe, wil ek nie een wees nie” sê op die minste,:
“Ek het al van Jesus gehoor maar ek het nog nie ‘n finale besluit geneem of ek Hom wil volg of nie.
 

Of so ‘n persoon daarvan hou of nie, wat die persoon in werklikheid eintlik sê is:
“Op hierdie oomblik is ek nog teen Jesus.”

MAT 12:30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

As die stelling van: "As dit is hoe 'n Christen lewe, wil ek nie een wees nie” beteken dat ek ondersoek ingestel het na die Christelike geloof maar vir watter rede ook al, besluit het dit is nie vir my nie, is die volgende op my van toepassing:

2PET 2:21  Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is.
2PET 2:22  Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.

So, soos dit vir my lyk, maak dit nie saak uit watter hoek jy na die stelling: "As dit is
hoe 'n Christen lewe, wil ek nie een wees nie,” kyk nie.  Die persoon wat dit sê en dit
bedoel het ‘n groot probleem om dit baie lig uit te druk.

Van hier af deel ek nou met Christene wat hierdie sekerheid het:“Ek het Jesus aangeneem as my verlosser en Saligmaker.”

Ek sê graag dat die dubbele ‘vol’ op ons, Jesus se volgelinge, van toepassing is.

Ons is nog nie volmaak nie maar ons gaan dit verseker word en in die tussentyd,
voor daardie dag aanbreek, het ons hierdie sekere wete, prys die Here – Ons is volkome deur Jesus gered en op pad Hemel toe.

Dus, ons is nie ‘volmaak’ nie maar ’volkome’ gered!

JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

JHN 8:51  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
JHN 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Om egter nou van my groot held Paulus se manier van skryf gebruik te maak:
“Wat sal ons dan nou van al hierdie dinge sê?”
Beteken dit dan dat die offer wat vir ons op Golgota gebring was, ons nou vryheid gee om maar te sondig?

ROM 6:1  Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?
ROM 6:2  Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?

Ons sondig natuurlik nog maar nie doelbewus nie.  Of dan, dit behoort nie doelbewus te wees nie.

Ek deel met jou twee eenvoudige voorbeelde en ek glo, dat as jy na die Heilige Gees luister, jy in jou hart sal sien, wat die verskil tussen moedswillige sonde is, wat ‘n kind van ons Here nie behoort te doen nie en (struikel), iets wat  ons dikwels doen, omdat ons as teenstander, die god van die bose het:
‘n Man loop en stamp sy maermerrie en los ‘n vloek.
Hy het hom nie voorgeneem dat hy op daardie oomblik gaan vloek nie maar as hy ‘n intieme verhouding met Jesus het, sal hy werklik nie lekker voel oor wat hy nou net kwytgeraak het nie en hy sal vir ons Here vergifnis vra vir dit wat gebeur het.

‘n Man kom die huis binne en sonder dat hy dit bedoel het, slaan die deur, as gevolg van byvoorbeeld die wind, hard agter hom toe.
Sy vrou, so met die tong in die kies, skrik haar heeltemal uit haar geloof uit en skreeu, dalk ook met ‘n vloek op haar man oor dit wat nou gebeur het.
Dit was nie iets wat sy vooraf besluit het om te doen nie maar as sy ‘n intieme verhouding met ons Here het, sal sy werklik nie lekker voel oor wat sy nou kwytgeraak het nie en sal sy vir ons Here en vir haar man vergifnis vra.
Op albei hierdie eenvoudige gevalle is na my mening die volgende uit die Woord van toepassing:

JAK 3:2  Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.

Een ding wat na my mening, nie by iemand wat ‘n intieme verhouding met Jesus het gevind word nie, is moedswillige sonde.

Die woordeboek sê van ‘moedswillig’ en moedswilligheid’ die volgende:

moedswillig, Opsetlik (kwaad doende), met voorbedagtheid.
moedswilligheid. 1. Kwaadwilligheid. 2. Voorbedagtheid, moedswil.

Vir diegene wat in moedswillige opsetlikheid dinge sê of doen wat nie by ‘n volgeling van Jesus gevind behoort te word nie, laat ek met die volgende uit die Woord van ons Here:

HEB 10:26-29 
26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,
27  maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.
28  As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;
29  hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?

Vir al ons Here se volgelinge wat soos ek dikwels struikel, laat ek met die volgende uit ons Here se Woord.

EFE 4:1-3 
1 Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is,
2  met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra
3  en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.

FIL 4:8  Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Onthou dan ook kind van ons Here, om elke keer wanneer jy struikel, dadelik met ons Here daaroor te gesels en die sonde dan ook te bely.  Omdat jy hierdie sekere wete het:

1JHN 1:9  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

1JHN 1:7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.        

As jy aan iets verslaaf is, soos byvoorbeeld rook, waaraan ek ook verslaaf gewees het –
Onthou dan net dat ons Here weet dat jy op die oomblik verslaaf is, maar jy mag nooit aanvaar dat dit nou maar is soos wat dit is nie.
Jy moet aanhoudend daaraan werk om van die verslawing ontslae te raak en alles menslik moontlik doen om daarvan genees te word, waarvan die belangrikste is, dat jy aanhoudend met ons Here oor jou verslawing gesels, veral, sodra jy doen wat gedoen word om die verslawing te bevredig.

Groete,
Sakkie