WANNEER ONS HERE SE LIEFDE HOM VAN PLAN LAAT VERANDER

WANNEER ONS HERE SE LIEFDE HOM VAN PLAN LAAT VERANDER

Sakkie Parsons

‘n Ruk gelede het iemand my ‘n vraag gevra en omdat ek soms gelei voel om my antwoord ook met my mense te deel het ek dit in daardie geval ook gedoen.  Iemand anders het my toe so ‘n bietjie die kop gewas en onder andere genoem dat God onveranderlik is.  Ek stem saam dat ons Here self onveranderlik is.  Die Woord sê immers:

PSM 102:26-28  
26 “In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.
27   Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn.
28  Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.”

My gunsteling gedeelte in die Woord wat hierdie saak aanbetref, is:

HEB 13:8  “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”

Dit is egter nie te sê dat ons Here nie soms van plan verander nie en hoe wonderlik heerlik! As Hy, die Onveranderlike Almagtige God dit doen, is dit omdat Hy ons so baie, baie liefhet.

Laat ek dit so verduidelik – Iemand het my al laat verstaan dat my vrou by my met moord kan wegkom en omdat ek baie lief is vir haar, is dit seker waar. Gelukkig kan ons ons Here nie om ons pinkie draai, soos wat ek soms met nabetragting agterkom, dat my vrou met my gedoen het nie.

So – kom ek wys jou eers met een geval, dat ons Here ons nie sal toelaat om Hom om ons pinkie te draai nie, hoe lief Hy ook al vir ons is. Met ander woorde, as ons in sonde wil lewe gaan ons nie daarmee wegkom nie. Jy kan dit self gaan lees in Genesis 18:16-33.

Ons Here het so ‘n mooi, intieme liefdesverhouding met Abraham dat ons Here besluit het Hy wil met Abraham deel wat Hy met Sodom en Gomorra gaan doen. Hoe absoluut wonderlik intiem was hierdie liefdesverhouding tussen ons Here en Abraham nie en nadat ons Here Sy voorneme met Abraham gedeel het, en omdat Hy so baie lief vir Abraham was, het Hy met die liefde van ‘n Vader, geduldig na Abraham se knaende geneul geluister, en al was Hy baie lief vir Abraham, het Hy nie toegelaat dat Abraham Hom van stryk bring nie. Want, jy en ek, soos Sodom en Gomorra, moet verseker weet dat as ons voortploeter in sonde en nie berou daaroor kry nie: “We are cruising for a bruising.”

Ons onveranderlike Here is egter so vol liefde en deernis vir ons, Sy kinders, dat wanneer ons berou oor ons sondes het, Sy liefde vir ons Hom selfs van plan kan laat verander oor iets wat Hy vas besluit het om te doen. Jy kan hierdie heerlike stukkie geskiedenis in die boek Jona, veral hoofstukke 3 en 4 gaan lees.

Daar het ek weer opnuut onder die besef gekom van hoe oneindig groot die liefde en deernis van ons Here vir die mens is, en as ek na die gesprek tussen ons Here en die woedende Jona kyk, kom ek weer onder die indruk van hoe absoluut met liefdevolle geduld ons Here na iemand soos Jona en byvoorbeeld na my met al my swakhede kyk.

Ons lees van ‘n stad wat baie boos gelewe het en toe hulle hoor ons Here gaan hulle verwoes, het hulle werklik berou gehad en ons Here het gesien dat hulle berou het en dat hul belydenis van sonde opreg was.  Dan lees ons:

JNA 3:10  “En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie”

Nog ‘n voorbeeld wat ek graag met jou deel is die gebed van Hiskia nadat die profeet Jesaja aan hom die boodskap van ons HERE gebring het dat hy gaan sterf:

2 KON 20:1-6
1 Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword.  Die profeet Jesaja, seun van Amos het hom gaan besoek.  Hy gee toe hierdie boodskap aan die koning:  “Dit is wat die HERE sê: Kry jou sake in orde, want jy gaan sterf.  Jy sal nie van hierdie siekte herstel nie.” 2 Toe Hiskia dit hoor, het hy sy gesig na die muur toe gedraai en tot die HERE Gebid:  3”O HERE, onthou tog hoe ek altyd probeer het om aan U getrou te bly en om dit te doen wat vir U reg is.”  Daarna het Hiskia in trane uitgebars en bitterlik gehuil. 

Dan lees ons:

4 Jesaja was skaars weg, toe sê die HERE vir hom:  5 “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk”  ‘Dit is wat die HERE, die God van jou voorvader Dawid sê: Ek het jou gebed gehoor en jou trane gesien.  Ek sal jou gesond maak.  Oor drie dae sal jy uit die bed opstaan en na die tempel van die HERE toe gaan. 6 Ek sal nog vyftien jaar by jou lewe voeg,…”

In hierdie laaste voorbeeld wat ek met jou gaan deel, wil ek jou wys dat ek sien hoe ons Here se liefde Hom as’t ware noop om agteroor te buig om ‘n mens tegemoet te kom.
Ons Here werk gewoonlik nie waar daar ongeloof is nie. Dit is net nie hoe Hy werk nie. Lees gou hier ‘n voorbeeld van wat ek bedoel:

MAT 13:54-58 
54 “En Hy het in Sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge, sodat hulle verslae was en gesê het: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan?
55  Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van Sy moeder nie Maria en dié van Sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie?
56  En Sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan?
57  En hulle het aanstoot aan Hom geneem. Maar Jesus sê vir hulle: ‘n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis.
58  En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.”

Soos ek gesê het, ons Here werk gewoonlik nie waar daar ongeloof is nie, maar kyk nou hoe, deur Sy liefde vir Sy skepsels gedwing, breek ons Here as’t ware Sy eie reëls:

In Markus 9:17-27 lees ons van die pa wat sy seun met die stom gees na Jesus gebring het en hoe Jesus die seun gesond gemaak het. Ons lees in hierdie gedeelte onder andere:

MRK 9:23  “En Jesus sê vir hom: Wat dit betref — as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.”

Dan sien Jesus nie werklike geloof nie, maar werklike opregtheid om te wil glo. En in hierdie geval, help Jesus die man omdat Jesus sien die man wil werklik glo, maar die man weet dat hy eintlik nog vol ongeloof is:

MRK 9:24-26 
24 “En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!”

Toe doen Jesus dit, Hy kom die man se ongeloof te hulp:

25 “… Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.
26  En nadat hy geskreeu en hom baie stuiptrekkings laat kry het, het hy uitgegaan …”

Ek kyk na al hierdie dinge en ek dink – Hoe wonderlik heerlik is dit om ‘n kind van die Almagtige onveranderlike God te wees, wat my so liefhet dat Hy, jy kan maar sê, as’t ware agteroor sal buig en van plan sal verander om my te hulp te kom, omdat Hy ook medelye met my swakhede het:

HEB 4:14-16 
14 “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.
15  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

As jy nog nie ‘n mooi liefdesverhouding met hierdie wonderlike, liefdevolle God het
nie en jy wil werklik graag so ‘n verhouding met Hom hê – vertel dit vir Hom en as jy dit in opregtheid doen, omdat dit in jou hart suiwer gaan dat jy ‘n liefdesverhouding met Hom wil hê, sal Hy jou toevou in Sy liefde.

                 

Groete,
Sakkie