WANNEER ONS VAS

WANNEER ONS VAS

Sakkie Parsons

Iemand het my, my opinie oor “om te vas” gevra en ek deel graag met jou my antwoord oor hierdie saak.

Ek wil begin deur te sê dat ‘n Christen nêrens deur ons Here aangesê word om te vas nie.
Dat dit wel ‘n wonderlike manier is om jouself geestelik te versterk en dat die Christene in die vroeë kerk baie gevas het, is verseker waar.
Na my mening is die regte manier om te vas, om niks te eet nie maar wel water te drink.
Een van die bewyse vir my uit die Woord dat ek reg is wat dit aanbetref is die gedeelte uit die Woord waar Jesus gevas het.

MAT 4:2  Nadat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, het Hy naderhand baie honger begin word.
MAT 4:3  Toe kom die duiwel, die groot versoeker, na Hom toe en sê vir Hom:  “Kyk, as jy dan die Seun van God is, beveel hierdie klippe om brode te word.”

Die eerste ding wat my tref in hierdie verband, is die volgende:
MAT 4:2  Nadat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, het Hy naderhand baie honger begin word.
Daar staan , dat Hy honger geword het.  Daar staan nie dat Hy honger en of  dors geword het nie.

Nou moet ons ook nie uit die oog verloor dat Hy in die woestyn gewees het nie en in ‘n woestyn is water normaalweg die grootste probleem maar hier word die klem op ‘honger’ (voedsel) gelê en nie op ‘dors’ (water) nie.
Ook, soos ek en ek is seker ook jy satan ken, val hy jou altyd aan waar jy die swakste is.
Kyk nou wat sê hy vir Jesus:

MAT 4:3  Toe kom die duiwel, die groot versoeker, na Hom toe en sê vir Hom:  “Kyk, as jy dan die Seun van God is, beveel hierdie klippe om brode te word.”

Weereens, daar staan nie dat hy gesê het, dat Jesus moet sê, dat die klippe water, of
brood en water moet word nie.  Nee, hy val Jesus aan waar hy dink dat Jesus die
swakste is en dit was dat Jesus honger gewees het.

Nog net een punt in die verband.
Ek weet ek hamer nou so ‘n bietjie op die, nie eet maar drink van vas maar so baie
mense vas op soveel verskillende maniere en ek sê nie dat dit wat hulle doen verkeerd
is in die oë van ons Here nie, want ek het nie Skrif om so ‘n stelling te maak nie.

Ek het egter wel Skrif, wat ek nou vir jou gewys het, wat volgens my bewys dat Jesus
gevas het soos wat ek vir jou sê, dat ek dink ons moet vas.  Naamlik, om nie te eet nie
maar wel water te drink.

Jesus het by hierdie geleentheid na die woestyn gegaan toe Hy gevas het.

Ek gaan sit nie eenkant in ‘n hoekie as ek vas nie maar ek sonder myself verseker in my hart af van die normale.
Hier moet elkeen in sy/haar hart, met die leiding van die Heilige Gees besluit hoe die persoon die vastyd gaan deurbring maar ek glo dat die Woord, Gebed en Christelike leesstof ‘n baie groot persentasie van die tyd moet uitmaak.
So kry die Heilige Gees ook op hierdie manier geleentheid om met my te deel.

Wat is die nut van vas?
Vir my persoonlik staan die volgende feit uit soos ‘n paal bo water:
As jy vas, hoe swakker jou liggaam fisies raak hoe sterker raak jy in die gees.

Hoe lank moet ‘n mens vas?
Dit is na my mening ‘n saak tussen my en ons Here.

Hoekom vas ‘n mens?
Onder andere kan ‘n mens dit so stel, dat jy ‘n punt wil maak.
Byvoorbeeld:
“Here ek kan nie meer hierdie situasie hanteer nie!  Help my asseblief!”
Of soos iemand wat ek ken al baie gedoen het:
“Here ek sonder nou hierdie dag of dae af en ek kuier aste ware ‘n bietjie by U.”

Een ding is verseker baie, baie waar.
Dit is geestelik en ook liggaamlik ‘n goeie iets om te doen.
Daar is natuurlik verskillende soorte vaste maar ek deel hier net met wat ek die
godsdienstige, of dan geestelike vas noem.

Laastens nog net hierdie twee dinge wat volgens my baie belangrik is:
Wanneer ek besluit vir hierdie dag of dae gaan ek vas, moet ek verseker weet dat
satan my gaan aanval.  As hy die Seun van God nie ontsien het nie, moet ek nie een
oomblik dink dat hy my met rus gaan laat nie.
Ek moet ook nie die feit dat ek vas aan die groot klok hang nie, want dan is my vas
totaal nutteloos, behalwe vir satan wat “score,” omdat hy my weer iets laat doen wat
verkeerd is in die oë van my Here.

MAT 6:16-18
16 “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges ‘n martelaarshouding aanneem nie.  Hulle loop met lang gesigte rond sodat die mense duidelik kan sien dat hulle vas.  Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry. 
17  Maar wanneer jy vas, versorg jou hare, was jou gesig.
18  Dan sal niemand agterkom dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat alle geheime ken.  En jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.”

Dus, al is om te vas nie ‘n verpligting nie, beveel ons Here in Sy Woord dit sterk aan.

Groete,
Sakkie