WANT WAAR JULLE SKAT IS

WANT WAAR JULLE SKAT IS…

Sakkie Parsons

Ek wil graag met jou deel wat in my hart opgekom het toe ek die volgende gedeelte uit ons Here se Woord gelees het:

Jesus sê:

MAT 6:21  want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Jesus vergelyk by meer as een geleentheid die koninkryk van die Hemel met ‘n Skat.

Dit is in hierdie laaste dae ongelukkig só – en hoe verskriklik is dit nie om dit te sê nie – dat die baie sogenaamde Christene se harte baie, baie vêr van ons Here af is.  Daarom is dit dan ook dat Suid-Afrika wat spog dat 70% van sy bevolking Christene is, is ons ook een van die lande met die grootste misdaadsyfer in die wêreld.
Nou lyk dit vir my dat baie Christene na die koerantopskrifte kyk en terwyl ons ooh en ah, só afgestomp raak wat misdaad aanbetref dat baie dinge nie meer vir ons as sonde deurgaan nie.
Ek moet egter weet dat daardie teken wat ek vir die persoon wys wat voor my inswaai in die verkeer, of die pen wat ek by die werk in my sak steek, dit is maar twee voorbeelde van baie wat ek kon gebruik het, nie minder sonde is as die persoon wat byvoorbeeld die bank geroof het nie.

Ek wil graag alle Christene wat hierdie e-pos lees, aanmoedig:
 

Kom ons maak ‘n verskil.  Kom ons leef, wys en deel aan die mense om ons uit van die skatte wat in ons harte is.

Jesus sê:

MAT 12:35  Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.

Jesus sê:

LUK 6:46  En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?

Jesus sê:

MAT 7:18-21 
18 ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.
19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

So, mede-Christen op reis na ons ewige woning –
Kom ons wys deur woord en daad vir die mense om ons, die skat wat in ons hart is.

Jesus sê:

MAT 5:14  Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
MAT 5:15  en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
MAT 5:16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Groete,
Sakkie