WAT BETEKEN: MAAR BUITE IS DIE HONDE? – DEEL 2

WAT BETEKEN  ‘MAAR BUITE IS DIE HONDE’?  – DEEL 2

Sakkie Parsons

Ek het by ‘n vorige geleentheid met jou gedeel oor Openbaring 22:15 maar vandag wil ek graag met jou deel oor die eerste gedeelte van daardie vers naamlik:

OPG 22:15  Maar buite is die honde …

Die Nuwe Vertaling gebruik in plek van die ‘honde’ die woord ‘onreines’ omdat jy duidelik uit die konteks van die gedeelte kan agterkom, dat dit is wat ons Here aan die oorspronklike skrywer gegee het maar meld dan ook in ‘n voetnota dat die Grondteks praat van ‘honde’.

OPG 22:15 Al die onreines bly buite – die towenaars, die onsedelikes, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en beoefen.

Ek wil graag met jou deel hoe ek na die ‘honde’ wat hier ter sprake is kyk.
Soos jy uit my vorige skrywe kon sien, het baie van die volke destyds, en by name die Israeliete ‘n baie lae dink van honde gehad.
Honde was vir hulle aasdiere wat enige iets wat dood is sou vreet, ook dooie mense.
‘n Goeie voorbeeld van honde wat sommer dooie mense vreet waar mense woon, kan jy gaan lees in 2 Konings 9:30-37 waar honde Isébel opgevreet het.
Hou nou ook ingedagte hoe die Israeliete se sienswyse oor ‘n dooie gewees het en ek gee een voorbeeld:

NUM 19:11-13 
11 “Iemand wat aan ’n lyk geraak het, sal ’n week lank onrein bly.
12  So iemand moet homself op die derde en op die sewende dag reinig met die reinigingswater waarby daar van die rooi vers se as gegooi is. As hy dit gedoen het, sal hy rein wees. Maar as hy hom nie op die derde en op die sewende dag met daardie water gereinig het nie, sal hy nie rein word nie.
13  As iemand aan die lyk van ’n mens raak en homself nie daarna op hierdie manier reinig nie, en hy kom by die aanbiddingstent, dan maak hy die Here se woonplek ook onrein. So iemand moet nie meer as ’n Israeliet beskou word nie, want daar is nie van die reinigingswater oor hom gegooi nie, en daarom bly die onreinheid nog altyd op hom.

Met dit in gedagte, kan ‘n mens nog beter verstaan hoekom Israeliete oor honde gevoel het, soos wat hulle gevoel het.

Johannes, ‘n Israeliet en die skrywer van Openbaring, het volgens die Woord ‘n baie intieme liefdesverhouding met Jesus gehad en hy het, hoe verskriklik vir hom, al die tyd by die kruis gestaan en al die lyding van Jesus aanskou, wat Hy vir die wêreld se sonde gely het totdat Jesus gesterf het.

Nou het hy van ons Here gekry om te skryf, dat onder andere die onreines buite gaan bly maar hierdie onreines is in Johannes se hart, om dit so te stel nie sommer onreines nie, hulle is ‘honde’ onreines.
Hoekom noem Johannes hulle honde?
Want hulle, soos ek dit sien is, om dit so te stel, die mees verfoeilike onreines wat jy kan kry.
Hulle na my mening is die verfoeilike onreines, wat Jesus – wat daardie verskriklike prys vir hulle betaal het – aanneem, en dan soos in Judas Iskáriot se geval, as Jesus na hulle mening nie aan hulle verwagtings wil voldoen nie, die rug op Hom draai en aste ware, die offer wat Hy gebring het, in Sy gesig teruggooi.

Ek weet daar is mense wat sê:
“Eenmaal gered, altyd gered.”
Dit egter is na my mening eenvoudig nie waar nie.

Ek is na ons Here se Beeld geskape en soos my Here het ek ‘n wil van my eie.  As ek na ‘n tyd soos Judas besluit dat ek nie meer ‘n dissipel van Jesus wil wees nie, gaan ons Here nie van my besluit hou nie maar Hy gaan my ook nie teen my wil forseer om Hom te volg nie.
Byvoorbeeld:
Judas Iskáriot was ten volle, soos die ander, ‘n dissipel van Jesus.

MAT 10:1  En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.
MAT 10:2  En dit is die name van die twaalf apostels: …

Hy het Sy twaalf dissipels na Hom geroep.  Hy het nie Sy elf dissipels en vir Judas na Hom geroep nie.  Judas was net so volwaardig ‘n dissipel, soos wat byvoorbeeld Petrus of Johannes gewees het.

MAT 10:1  En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep …

Toe gee Hy aan die twaalf mag oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees en Judas een van die twaalf het met ander woorde ook daardie mag gehad.

As eenmaal gered, altyd gered was en nou kon ek baie voorbeelde genoem het, waarom lees ek dan in die Woord: (en ek gee soos gewoonlik net twee voorbeelde.)

“Waarom is dit dan nog nodig om te volhard tot die einde soos Jesus self sê?  Laat gebeur wat gebeur – ek is mos gered.”

MAT 10:22  En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

“Hoekom is dit dan nog nodig om te waak?  Wat ookal gebeur ek is mos klaar gered, so laat dan maar gebeur wat moet gebeur.”

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Lees nou die volgende twee gedeeltes naamlik 2PET 2:20-22 en HEB 6:4-6  en besluit dan maar self of ek soos ‘n dwaas redeneer of nie, terwyl jy onthou dat ek nié hier praat van mense wat gestruikel of selfs geval het nie.  Ek praat van mense wat op hulle geestelike voete besluit; ‘Jesus is nie vir my nie.’

Lees albei gedeeltes maar die eerste gedeelte teen die agtergrond van die ‘honde’ in OPG 22:15 ingedagte.

2PET 2:20-22 
20 Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste.
21  Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is.
22  Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.

As iemand wat hierdie skrywe lees, weet dat jy weggedwaal het van Jesus af – draai dadelik terug.

Want as jy aanhou op die pad waarop jy nou is, gaan daar ‘n dag kom, dat jy so vêr weggedwaal het, dat die volgende uit die Woord op jou van toepassing sal wees:

HEB 6:4-6 
4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Glo my vriend/vriendin as ek vir jou sê:  Daar is ‘n prys wat verseker gewen kan word maar daardie selfde prys kan verseker ook verloor word.

Dit hang af, OF ek al ploeterende aanstap en oral langs die pad proe aan al die gemors wat satan na my uithou, omdat ek dink ek gaan mos in elk geval die prys kry en OF ek voluit hardloop my oog gevestig op Jesus.

HEB 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
HEB 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

1KOR 9:24  Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.

Groete,
Sakkie