WAT BLOKKEER ‘N MAN SE GEBEDE? DEEL 1

WAT BLOKKEER ‘N MAN SE GEBEDE? – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en as ek dinge nou reg verstaan, gee hy aan sy Ma soms meer liefdevolle aandag as aan sy vrou, en dit veroorsaak ‘n bietjie wrywing in sy huwelik.
Hy wonder nou of hy dan nou so verkeerd doen.  Sy Ma is mos sy Ma.

Ek is verbaas, dat dit net “n bietjie” wrywing veroorsaak.
Ek dink hy het ‘n baie goeie vrou.
Daar is ook mans wat selfs meer, om dit so te stel. liefdesaandag aan ander vroue as aan hulle eie vrou gee.
Vir sulke mans wil ek sê –
Of dit nou meer liefde aan jou Ma of watter ander mens dit ook al is aan wie jy meer van jou liefde gee as aan jou vrou, is dit net nie moontlik om ‘n goeie verhouding met ons Here te hê nie.
Dit my vriend, is hoe hoog ons Here jou liefdesverhouding met jou vrou beskou.
As ek die Woord reg verstaan, behoort ‘n man net ons Here liewer te hê as sy vrou.
Enige ander liefde wat jy vir iemand mag voel, behoort ver ondergeskik te wees as die liefde tussen jy en jou vrou.
Ons Here skryf daardie liefde tussen ‘n man en sy vrou so hoog aan, dat ons Here die man en sy vrou, in hulle huwelik as een entiteit sien.

GEN 2:24  Dit verklaar waarom ’n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.

Kyk net in my volgende voorbeeld hoe vêr staan hierdie “hulle dan soos een mens word” verhouding van ‘n man en sy vrou bo alle ander soorte liefde tussen mense in die oë van ons Here uit.
Ja, kyk net hoe hoog skryf ons Here die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou in die huwelik aan.
Jy sien –
Ek mag my bekeer het.
Ek mag my laat doop het.
Ek mag elke Sondag in die kerk sit.
Ja, ek mag alles doen wat normaal van ‘n Christen verwag word om te doen maar as ek nie volgens God se kriteria vir my vrou lief is en volgens daardie liefde met haar saam lewe nie, luister ons Here nie eens na my gebede nie.

1PET 3:7 En julle, mans, behandel julle vroue met respek.  Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisies swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee.  As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.

Anders gestel:
As jy jou vrou nie volgens ons Here se kriteria liefhet en behandel nie, het jy, soos ek die Woord verstaan, geen kontak met ons Here nie.
Sjoe!
Wat ‘n, om dit lig uit te druk, hopelose verlate toestand om in te wees.
Weet jy,
Jesus dink so baie van die vrou in die huwelik, dat Hy Homself wat sy kerk aanbetref,  met ‘n Bruidegom vergelyk.

MAT 9:15 Jesus het geantwoord:  “Dit is tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal treur solank die bruidegom nog saam met hulle feesvier!  Daar kon egter
‘n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word.  Dán sal hulle vas.

Asook:

MAT 25:6 Dit was al teen middernag toe 'n geroep hulle wakker maak: 'Hier kom die bruidegom! Gaan verwelkom hom!'
MAT 25:7 "Daarop het al die meisies opgespring en hulle lampe begin regkry.
MAT 25:8 Die dwases vra toe vir die verstandiges: 'Help ons asseblief met 'n bietjie van julle olie, want ons lampe is aan die doodgaan.'
MAT 25:9 Maar die verstandiges het geantwoord: 'Nee, ons kan nie. Daar is nie genoeg vir ons almal nie. Gaan koop liewer vir julle by die winkel.'
MAT 25:10 "Terwyl die onverstandiges weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom opgedaag. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit.

Nog een voorbeeld:

OPB 19:7 laat ons juig en jubel
en aan Hom eer betoon,
want die tyd het aangebreek
vir die bruilof van die Lam,
en sy bruid het haarself
daarop voorberei.
OPB 19:8 Sy is toegelaat om fyn,
helder skoon linne aan te trek."
Die fyn linneklere is die regverdige dade van hulle wat aan God toegewy is.

Ek kon nog meer gesê het maar dit, so glo ek, is genoeg om vir jou te wys dat soos ek gesê het, niemand deur jou voorkeur bo jou vrou in jou hart en lewe gegee mag word nie, buiten ons Here.

Iemand het eendag iets baie mooi gesê:
“Een van die beste dinge wat ‘n Pa vir sy kinders kan doen, is om lief vir hulle Ma te wees.”
Ek laat jou dan nou met die volgende uit die Woord:

EFE 5:28 Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê.  Hulle moet hulle liefhê asof hulle, hulle eie liggame is.  ‘n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus
eintlik homself lief.
EFE 5:29 ‘n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit.  Christus maak net so met ons, die kerk,
EFE 5:30 omdat ons ledemate van sy liggaam is.
EFE 5:31 Daar staan mos:  “’n Man sal weggaan van sy pa en ma en een word met sy vrou, en hulle twee sal een liggaam wees.
EFE 5:32 Die verhouding tussen man en vrou is eintlik ‘n diep geheim, maar ek noem dit om die verhouding tussen Christus en die kerk te beskryf.
EFE 5:33 Dit geld egter ook vir julle:  Elkeen van julle moet sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet, en die vrou moet haar man respekteer.

Onthou jy?
      Jesus het Sy gemeente, Sy Bruid, so liefgehad, dat Hy vir haar, ja, vir elke lid van haar, aan die kruis gaan sterf het.

EFE 5:29 ‘n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit.  Christus maak net so met ons, die kerk,
EFE 5:30 omdat ons ledemate van sy liggaam is.

Groete,
Sakkie