WAT BLOKKEER ‘N MAN SE GEBEDE? DEEL 2

WAT BLOKKEER ‘N MAN SE GEBEDE?
DEEL 2

Sakkie Parsons

In my vorige skrywe het ek begin om jou te antwoord op ‘n vraag wat iemand my gevra het naamlik, om 1PET 3:7 te verduidelik soos ek dit verstaan.

Toe skryf ‘n dame aan my en vra my of dieselfde dan van ‘n vrou in die huwelik ook gesê kan word?

Net ter opsommend weer wat ek toe gesê het:
Ek het onder andere geskryf –
Ek mag my bekeer het.
Ek mag my laat doop het.
Ek mag elke Sondag in die kerk sit.
Ja, ek mag alles doen wat normaal van ‘n Christen verwag word om te doen maar as ek nié volgens God se kriteria vir my vrou lief is en volgens daardie liefde met haar saam lewe nie, luister ons Here nie eens na my gebede nie.

1PET 3:7 En julle, mans, behandel julle vroue met respek.  Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisies swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee.  As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.

Anders gestel:
As jy jou vrou nie volgens ons Here se kriteria liefhet en behandel nie, het jy, soos ek die Woord verstaan, geen kontak met ons Here nie.
Sjoe!
Wat ‘n, om dit lig uit te druk, hopelose verlate toestand om in te wees.

Nou volg min of meer hoe ek die dame geantwoord het wat my gevra het, of dieselfde dalk ook vir ‘n vrou in die huwelik geld.

Ek het nie direkte skrif om te sê wat ek nou gaan sê nie.

So, ek wil met die woorde van my groot held Paulus met my antwoord begin.

Hy maak by geleentheid ‘n stelling en dan skryf hy:

1KOR 7:40  … En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.

In ‘n ouer vertaling lees hierdie stelling van Paulus as volg:

1KOR 7:40  … volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.

So ek sê, dat in die huwelik, wat die vrou se optrede teenoor haar man aanbetref, presiés dieselfde geld wat haar gebede aanbetref, as wat vir haar man
geld.

Volgens my gevoele en ek meen dat ek ook die Gees van God het.

Soos ek gewys het.

Ons Here sien die man en sy vrou in die huwelik as een entiteit, of dan een liggaam: en dit is Jesus self, God wat mens geword het,  wat die Skrif hier kwoteer:

MAT 19:5 En die Skrif sê verder:  ‘Daarom sal ‘n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg.  So sal hulle tot een liggaam verenig word.’

Ek wonder soms, of die optrede van baie mense in die huwelik nie die rede is waarom ek soms pos ontvang met die volgende strekking nie:

“Ek bid en ek bid maar dit voel vir my of ek teen die dak vas bid.”

Ek sê, dat dit onmoontlik is om teen die dak vas te bid:

PSM 139:4  Selfs voordat ek praat, Here, weet U al presies wat ek gaan sê.

Daar is na my mening twee scenarios wat ‘n Christen in die huwelik se gebede aanbetref.

Die eerste is:
Ek bid en God hoor my gebed maar Hy antwoord net nie wanneer ek wil en soos ek wil dat Hy moet antwoord nie maar antwoord, verseker antwoord Hy Sy kind.

1JOH 5:14 Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens Sy wil vra, Hy na ons luister.

Die tweede in hierdie scenario is:

Ek bid en bid en volgens my verkeerde optrede in my huwelik teenoor my lewensmaat, waar my liefde veronderstel is om net ondergeskik aan my liefde vir ons Here te wees, luister ons Here nie eens na my gebed nie.

Daarom, so glo ek, kan van sommige Christene se gebede ook die volgende gesê word:

PSM 18:42  Hulle roep om hulp, maar niemand kom help nie;
selfs tot die Here, maar Hy antwoord hulle nie.

Dit is maar hoe ek dit sien en verkondig.
Want daar staan dit, swart op wit.

MAT 19:5 En die Skrif sê verder:  ‘Daarom sal ‘n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg.  So sal hulle tot een liggaam verenig word.’

Hoe wonderlik, as my verhouding in my huwelik reg is met my God en my lewensmaat, dat ek dit kan uit jubel:

PSM 34:5  Ek het tot die Here gebid en Hy het my geantwoord,
Hy het my bevry van alles waarvoor ek bang is.

Groete,
Sakkie