WAT IS DIE WET VAN CHRISTUS?

WAT IS DIE WET VAN CHRISTUS?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:
“Levitikus 19:27 “Moenie die heidense gebruik volg en die hare langs julle slape afsny of die kante van julle baarde knip nie.
Kan jy asb dit vir my verduidelik?”

Hier dan is hoe ek hierdie gedeelte uit die Woord verstaan:

Onder die heidense volke het jy destyds deur jou baard en hare op ‘n sekere wyse te sny ‘n boodskap uitgestuur, of dan ‘n stelling aan die wêreld gemaak:
“Ek behoort tot hiérdie geloof.
” of dan, so en so
“Of –
“Só en só is die god in wie ek glo.”

Met ander woorde daar was verskillende wyses waarop mense hulle baarde en natuurlik ook hulle hare gesny het, waarmee hulle verskillende stellings oor veral hulle geloof aan die wêreld gemaak het.

Volgens sommige kommentators het hierdie gebruik sy oorsprong in Egipte gehad en die Israeliete was daarom goed bekend daarmee.
Ons Here wou nie hê dat die Israeliete daardie gewoontes deel van hulle kultuur maak nie.
Die Israeliete het tog van die gewoontes, waar dit by ‘n man se baard kom,  van die volke om hulle geneem en dit ook deel van hulle kultuur gemaak.
Byvoorbeeld vir al die volke in daardie omgewing destyds, ook vir die Israeliete, was ‘n man se baard sy kosbaarste versiering en ‘n man was, om dit so te stel, baie heilig oor sy baard.
Een van die gewoontes wat die Israeliete ook wat die baard aanbetref geneem en ook deel van hulle kultuur gemaak het, was die volgende:
Ekself sal vandag as ek iemand van wie ek baie dink, veral as ek hom lanklaas gesien het,  by die weersiens hom vasgryp en in liefdevolle blydskap hom teen my vas druk.
Die volke destyds en ook die Israeliete, sou in so ‘n geval vol blydskap ‘n man se baard vasvat, hom nader trek en hom soen.
Dit was ook die groet wat Joab gebruik het om byvoorbeeld op ‘n verraderlike wyse vir ‘n niks vermoedend Amasa te vermoor.

2 SAM 20:8-10
8 Toe hulle by die groot klip in Gibeon kom, kom Amasa net daar aan. Joab het sy mantel aangehad, en bo-oor was sy swaard in die skede, vasgemaak aan die gordel oor sy heupe. Toe hy naderkom, het die swaard uitgeglip.
9  “Hoe gaan dit met jou, my broer?” sê Joab vir hom. Hy het hom met sy regterhand aan die baard gegryp asof hy hom wou soen.
10 Amasa het nie die swaard in sy ander hand raakgesien nie. Joab het hom toe daarmee deur sy onderlyf gesteek …

Nog ‘n gebruik vir die volke om Israel, wat Israel ook hulle eie gemaak het, was, dat jy ‘n man geweldig verneder as jy sy baard skend

Ek deel met jou ‘n voorbeeld waar dit aan mense gedoen gewees het:

2 SAM 10:4  Ganun gryp toe Dawid se gesante, skeer die helfte van hulle baarde af, sny hulle klere onderkant die heupe af en stuur hulle terug.
2 SAM 10:5  Toe Dawid dit hoor, stuur hy boodskappers na die manne toe om hulle te gaan ontmoet, want hulle het baie vernederd gevoel. Hy het hulle laat weet: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer gegroei het. (want jy beledig nie jou koning om met so ‘n gesig voor hom te verskyn nie) Dan kan julle terugkom huis toe.”

Die volke destyds, ook die Israeliete, het onder andere ook hulle baard geskend wanneer hulle in rou was:

JER 41:4  Die volgende dag, nog voordat iemand iets van Gedalja se moord gehoor het,
JER 41:5 het 80 mans uit Sigem, Silo en Samaria aangekom. Hulle baarde was afgeskeer, hulle klere in repies geskeur en hulle het hulleself gesny soos hulle gerou het. Hulle was op pad na die tempel toe om vir die Here graanoffers te bring en ook wierook te brand.

So met ‘n glimlag –
Dit is ook maar goed dat ek nie onder die Mosaïese wet is nie want ek kan nie ‘n baard, al is dit dan sonder allerlei tierlantyntjies op my gesig verdra nie.  Ek het niks teen ‘n baard op iemand se gesig nie, solank dit tog asseblief nie my gesig is nie.

Dit is maar een van die seremoniële wette wat die Israeliete moes uitvoer om heilig te lewe.
Hoe wonderlik is die wete dat Jesus Christus hierdie wet kom vervul het in ons plek en ons bevry het  Nou werk die Heilige Gees in ons om heilig te kan lewe.

Hoe heerlik om in die Woord te lees:

JOH 1:16  Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang.
JOH 1:17  Die wet is deur middel van Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Nou byvoorbeeld is dit nie meer ‘n fisiese besnydenis wat vereis word nie, maar ‘n besnydenis van ons harte:

ROM 2:29 .. En die ware besnydenis is nie dié een wat aan jou liggaam verrig word nie, nee, dit is die besnydenis van jou hart wat deur die Gees van God verrig word, nie deur wetsvoorskrifte nie. ..
DEUT 30:6 Die HERE jou God sal jou hart en die hart van jou nageslag besny (reinig) sodat jy Hom met hart en siel sal liefhê.

Hoe wonderlik is die liefdevolle genade van ons Here nie.
Jy en ek hoef nou nie meer onder die Mosaïese wet te buk en so ‘n tugmeester te hê wat ons in lyn met ons Here hou nie.

Ons wat JESUS aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, ons is nou onder die wet van Christus:

GAL 6:2  Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan Christus se liefdeswet.

Jy kan hierdie liefdeswet van Jesus op 3 plekke in die Woord lees waar Hyself dit aan ons gee, naamlik MAT 22:35 en verder, MRK 12:28 en verder en LUK 10:25 en verder maar ek kwoteer vir jou die een in Markus:

MRK 12:28  Een van die skrifkenners het nadergestaan en geluister na die argument. Beïndruk deur Jesus se goeie antwoord aan die Sadduseërs, vra hy Hom toe: “Watter gebod is die heel belangrikste?”
MRK 12:29-34
29 Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, (en elke ander volk op aarde) die Here ons God is die énigste Here.
30  Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.’
31  Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag (of dan die grondwet van die Christen.)
32  Die skrifkenner sê toe vir Hom: “Leermeester, u het dit pragtig gestel. U het tereg gesê dat daar net een God is.
33  En ek stem volkome saam dat ek Hom moet liefhê met my hele hart, met my volle denke en met al my krag, en my naaste soos myself. Dit is belangriker as al die brandoffers en ander offers.”
34  Beïndruk deur die man se insig het Jesus vir hom gesê: “Jy is inderdaad naby aan God se koninkryk!”

As ek hierdie twee liefdeswette van Jesus Christus uitlewe, vervul ek álles wat ons Here van my verwag.

Om dan op te som:  Die wet is gegee om die Isrealiete te leer wat is sonde en hoe om heilig te leef.
Die wet wat Jesus vir ons gee het ‘n hoër roeping dat ons heilig leef en sonde vermy omdat ons ons met ons hele hart Hom liefhet asook ons medemens deur die Heilige Gees wat in ons woon en werk.

Daarom kon my groot held Paulus ook by geleentheid skryf:

ROM 13:8-10
8 Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet.
9  Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”
10  Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.

As jy wil lees hoe ek uit die Woord verstaan wat naasteliefde behels, kan jy net vra en ek stuur met groot liefde my gedagte uit die Woord “Wie is my naaste” aan jou.

Groete,
Sakkie