WAT GEBEUR MET ONS OP DIE OORDEEL VAN DIE GROOT DAG?

WAT GEBEUR MET ONS OP DIE OORDEEL VAN DIE GROOT DAG?

Sakkie Parsons

Iemand stuur aan my ‘n vraag oor Jud 1:6 en vra my, wat hier op neergekom het:
Of dit dan nie onregverdig is om die gevalle engele nóu al te straf, as die oordeel nog êrens in die toekoms lê nie.
Lees net eers die gedeelte uit die Woord:

JUD 1:6  En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;

Hier is dan hoe ek die Woord in hierdie verband verstaan:

Ek glo dat wat vir die gevalle engele geld, geld ook vir die mens.

Na die een kant toe vir die wat Hemel toe gaan, omdat hulle Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en na die anderkant toe vir die wat hel toe gaan, omdat hulle Hom nié wou aanneem as Verlosser en Saligmaker nie.

Laat ek verduidelik:

As jy in hierdie lewe op heterdaad in ‘n misdaad betrap word, word jy gearresteer en in die tronk gegooi totdat jy in die hof voorkom en ervaar jy al klaar die ongerief ens van ‘n tronk, wat jy gaan ervaar, na jou skuldigbevinding.
Dan beland jy later in ‘n hof.  Daar word jy dan verhoor, gevonnis en vir  ‘n tydperk tronk toe gestuur, maar voor jou vonnis, was jy al klaar vir ‘n tyd in die tronk en het jy reeds al klaar die ongerief ens. van ‘n tronk ervaar, al was jy nog nie skuldig bevind nie.  Al wat in die hof gebeur het, jy het kans gekry om jou kant van die saak te stel en jy het gehoor hoekom jy in die tronk was en hoe lank die toestand nog gaan voortduur.
Die gevalle engele, het, omdat ons Here alwetend en alomteenwoordig is, jy kan maar sê, reg voor Sy oë, gedoen wat hulle gedoen het.
Hulle is, om dit so te stel, op heterdaad betrap en in die tronk gegooi.
Daar bly hulle nou totdat hulle voorkom, om hulle straf te ontvang.

JUD 1:6  En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;

Presies dieselfde geld natuurlik vir mense aan wie se harte Jesus klop om Hom aan te neem as hulle Verlosser en Saligmaker en hulle weier en ploeter maar voort agter satan aan en hulle tree uit hierdie lewe die Hiernamaals in, terwyl hulle in daardie toestand is.
Ons lees byvoorbeeld net in die volgende vers naamlik Jud 1:7 die volgende:

JUD 1:7  soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

Let nou op.
Daar staan nie, dat hulle die straf ”ondergaan het nie.”
Daar staan ook nie, dat hulle “die straf sál ondergaan nie.”
Daar staan –

JUD 1:7  … terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

Hulle is reeds besig om die straf te ondergaan.

Omdat hulle wat ons alwetende alomteenwoordige Here aanbetref, jy kan
maar sê, soos die krimineel, op heterdaad betrap was, sit hulle klaar in die
tronk en ervaar reeds wat hulle na hulle hofsaak en vonnis vir ewig gaan
ervaar.

Nou wat dan nou van jou en my?  Ons wat wél Jesus Christus aangeneem
het as Verlosser enSaligmaker.  Waar is ons na ons lewe hier op aarde en
wat gebeur met ons op “die oordeel van die groot dag” waarvan ons hier in
Judas lees?

Ons gaan natuurlik by Jesus wees en ek gebruik weer twee voorbeelde
waarvoor ek baie lief is maar ek kon nog meer gebruik het om te staaf wat ek
sê.
Jy kan byvoorbeeld ter verdere ondersteuning van wat ek hier verkondig, ook
Die verhaal van “die ryk man en Lasarus” gaan lees, wat Jesus ons vertel en
terwyl jy die verhaal lees, sommer onthou, dat Jesus die énigste Persoon is,
wat ooit op aarde geloop het, wat ten volle kennis van die Hemel en die hel
het en wat daar gebeur en hoe dit daar lyk.
Dit staan vir ons opgeskryf in Luk 16:19-31.

Die eerste voorbeeld wat ek nou hier wil gebruik om te wys waar Jesus se volgelinge na ons uittrede uit hierdie lewe gaan wees,  of anders gestel as jy wil – wat met ons gaan gebeur as ons die tydelike met die ewige verwissel – is van die man wat aan die kruis langs Jesus hang en vir Jesus vra om aan hom te dink as Jesus in Sy koninkryk is.
Dan antwoord Jesus hom:

LUK 23:43  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
 

Soos ek altyd sê, sê ek nou maar weer –
Jesus sê of doen nooit iets sommer om iets te sê of doen nie.
As Jesus sê “vandag,” dan kan jy maar weet, dit is ”vandag.”

Dan is daar natuurlik my groot held Paulus, wat baie duidelik geweet het wat met hom gaan gebeur as hy uit hierdie lewe uittree.

FIL 1:23  Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;

Dan, uiteindelik gaan almal, ook jy en ek wat Jesus Christus aangeneem het
As ons Verlosser en Saligmaker, voor die regterstoel van ons Here verskyn.

ROM 14:10  … Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.
ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.

Ja, ons sal almal daar wees.
Hulle wat, om dit so te stel, in die tronk is, sal daar wees om gevonnis te word
en ons wat Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, sal ook
daar wees – maar nie om veroordeel te word nie maar om beoordeel te word.
Van ons sê die Woord in hierdie verband:

1KOR 3:11-15 
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12  En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Van ons, Sy kinders,  sê Jesus:

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

As ek en jy uit hierdie lewe uittree, hoe heerlik, is ons egter soos die een moordenaar aan die kruis langs Jesus, klaar by Hom.

LUK 23:42  En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
LUK 23:43  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

Daarom kan ek en jy, soos my groot held Paulus, reeds met ‘n heerlike groot verlange reikhalsend uitsien na ons uittrede uit hierdie lewe uit.

FIL 1:23  Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;

Luister wat sê Jesus nog van ons, dit is nou almal wat Hom aangeneem het as Verlosser en Saligmaker.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
JHN 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

As jy nou vandag hierdie skrywe lees en jy het nog nie vir Jesus aangeneem
as jou Verlosser en Saligmaker nie, lees jy hierdie skrywe omdat Jesus
aan die deur van jou hart klop.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

As jy nog nie ‘n oorgawe aan Jesus in jou lewe gemaak het nie en jy ervaar
nou in jou hart dat jy dit wil doen –
Sê dan nou vir Jesus:
Jesus, ek maak my hart vir U oop.  Kom in en help my, maak my U kind.

Nou soek jy ‘n Christelike gemeente wat die Hele Bybel as die onfeilbare
Woord van God erken en so aanvaar en jy raak betrokke.
Begin om na die eerste diens wat jy bywoon jou aan die herder van die
gemeente bekend te stel en reël dan ‘n afspraak met hom vir verdere leiding.

Groete,
Sakkie