WAT IS PAASFEES EN WAAROOR GAAN DIT?

WAT IS PAASFEES EN WAAROOR GAAN DIT?

Almal wat JESUS CHRISTUS aanneem, hoef nooit in die hel ‘n ewige dood te sterf nie!

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra of ek nie iets oor Paasfees sal skryf nie.

Ek wil dan begin deur te sê, dat volgens die Bybel, wat dit baie sterk beklemtoon, was Paasfees dieselfde naweek van die Pasga van die Jode.

Ons sien dit en jy kan dit gaan lees in al 4 die Evangelies naamlik:

MAT 26:17-19; MRK 14:12-16; LUK 227-15; JHN 18:28-39.

Ons Here se Woord beklemtoon – en maak dit ook net so duidelik, dat Jesus die dag na die Joodse Pasga, op die eerste dag van die week, dit is ons Christene Sondagoggend, uit die graf gestap het.

Jy kan dit gaan lees in: MAT 28:1-6; MRK 16:2-7; LUK 24:1-6; JHN 20:1-19.

Ongelukkig, omdat die kerk hervormers van die katolieke kerk se dwalings, ook deel van die protestantisme gemaak het, is een van die dwalings wat toe tradisie in die protestantisme geword het, dat Paasfees val op die naweek, die naaste aan die eerste volmaan na die eerste dag van lente in die noordelike halfrond naamlik 22 Maart.

Daarom is Paasfees nie altyd op dieselfde naweek nie maar val dit altyd êrens tussen 22 Maart en 25 April.

Die Engelse naam vir die naweek van Paasfees naamlik “Easter,” kry ook die naam van die godin  Eostre, oor wie ek nie nou verder iets gaan sê nie.

Die Katolieke kerk het oor baie eeue baie gebruike van baie godsdienste, om dit so te stel, die kerk ingebring en ongelukkig het die hervormers destyds met die reformasie, sommige van daardie gebruike, seker maar omdat dit al soveel eeue deel van die kerk se aanbidding gewees het saam met hulle geneem, toe hulle weggebreek het van die Katolieke kerk.

In my leeftyd het ek ook waargeneem, hoe die Protestante in die afgelope tyd in my leeftyd verstommend vinnig allerlei dinge die kerk ingebring het en baie dinge wat in die Woord, in die Nuwe Testament vir ons opgeteken is, verander en uit hulle verkondiging van die evangelie van Jesus gehaal het, omdat tye konsuis verander het en ons nou nie meer by dit hoef te hou wat daar geskryf is nie.

Dit wat die katolieke kerk as dwaalleer oor die eeue ingebring het, het oor eeue gebeur maar die ongelooflike spoed wat protestantisme die afgelope ongeveer eeu en wat die Afrikaanse Christen denominasies aanbetref, net in my leeftyd aangebring het, om verder van die Woord af te beweeg, is vir my in een woord net verstommend maar dan – die Nuwe Testament, wat Jesus deur Sy dissipels vir ons laat opskryf het, is ook vol daarvan, dat dit gaan gebeur voor Jesus se koms en ek deel met jou net enkeles, om hierdie skrywe nie te lank te maak nie:

Eers, twee aanhalings uit wat Jesus van wat aan gebeur is, gesê het:

MAT 7:15-23 

15 Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.

16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!

17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; (daar is baie soorte goeie vrugte, byvoorbeeld verkondig die Woord sonder om die Woord te verdraai of te verander) maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. (daar is baie soorte slegte vrugte, byvoorbeeld verander hier en verdraai daar)

18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.

19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen (byvoorbeeld die Woord net die Woord en niks anders as die Woord verkondig) van my Vader wat in die hemele is.

22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

MAT 24:24  Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.

MAT 24:25  Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.

Dan kom en skryf die grootste Apostel van alle tye:

2TIM 4:3  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,

2TIM 4:4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Ek onthou al hierdie wat jy nou gelees het, as ek dan ook die raad lees wat die skrywer aan die Hebreërs geskryf het:

HEB 13:8  Jesus Christus (en ook Sy heilige Woord) is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

HEB 13:9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; …

Dan onthou ek ook al die veranderinge wat in die verskillende Protestante denominasies in Suid-Afrika plaasgevind het net vandat ek in 1973 tot bekering gekom het

Die meeste denominasies, as ek by een van hulle dienste instap, verkondig vandag ‘n heel ander evangelie as die een waarmee ek destyds tot bekering gekom het – maar dan onthou ek, dat een van Jesus se grootste apostels van alle tye, al met hierdie boosheid te doen gekry het, reeds daar heel aan die begin van Jesus se kerk hier op aarde.  Want Paulus skryf by geleentheid en so lyk dit vir my in groot ontsteltenis:

GAL 1:6-9 

6 Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe,

7  terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.

8  Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!

9  Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!

Terug by Paasfees en hoe ons Paasfees hou.

Niemand sal hel toe gaan as ons nie Paasfees hou dieselfde tyd as die Joodse Pasga nie.

Net soos niemand sal hel toe gaan bloot net, omdat ek of sy of hy nie meer die ander dinge in die gemeente doen soos ons Here die eerste Christene laat doen het nie, omdat ons verkondig, dat tye verander het.  Hulle het destyds dinge so gedoen maar tye het verander en ons doen dit nou só.  Ons Here kyk in jou en my hart en Hy kan nie om die bos gelei word nie.

Soos ek sê – niemand sal daaroor hel toe gaan nie – maar hoe nader jy aan die Woord van God leef, hoe duideliker sal jy Sy stem hoor en hoe verder jy van die Woord af lewe hoe dower gaan Sy stem in jou hart gehoor kan word.

En in dié verband lees ons die volgende in ons Here se kosbare Woord:

1KOR 3:10-15

10  Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou.

11  Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

12  En as iemand op dié fondament bou goud (wat nie verbrand nie), silwer (wat nie verbrand nie), kosbare stene (wat nie verbrand nie), hout (wat kan verbrand), hooi (wat kan verbrand), stoppels (wat kan verbrand) —

13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur (dit is deur ons Here deeglik getoets) openbaar gemaak word; en die vuur (dit is ons Here se deeglike toets) sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;

15  as iemand se werk verbrand (die toets nie slaag nie) word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

So,  met my eie vrye wil, bepaal my verhouding met ons Here.  Hy gaan Hom op geen wyse op my af forseer nie.

Ja, uiteindelik werk dit so:

OPG 22:11-14

11  Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.

12  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk (dit is ook my lewe) sal wees.

13  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

14  Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

Soos ek reeds genoem het:

Niemand sal hel toe gaan bloot omdat hy of sy dinge in die Woord nie meer so of so wil doen nie, omdat tye konsuis verander het en ons dinge nou nie meer so hoef te doen nie maar pas op hou jy op die Fondament Jesus Christus bou. Want ‘n sekere waarheid wat verseker gaan bepaal waar jy die ewigheid gaan deurbring, is die volgende.

As jy hierdie lewe uittree sonder Jesus Christus, tree jy die hel in aan die anderkant van die graf:

JHN 3:16-18

16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

JHN 3:36  Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; (jy kan nooit tot in der ewigheid doodgaan nie) maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, (dit is nie jou hart se deur op Sy geklop oopmaak nie) sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. (hy/sy sal tot in der ewigheid die verskriklikste dood sterf en tog nooit sterf nie)

Toe Jesus op, wat ons Goeie Vrydag in ons Paasfees noem, aan die kruis hang en sê:

JHN 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

Het Hy die voorhangsel van bo tot onder laat skeur – en so alle skeiding tussen ons en ons Here weggeneem:

MAT 27:51  En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;

Nou het jy en ek direkte toegang tot ons Hemelse Vader.

Toe die klip voor die graf op Paassondag voor die graf weggerol word en Jesus uit die graf gestap het, het Jesus die dood eens en vir altyd doodgemaak – en hoef geen mens meer die ewige dood in die hel te gaan sterf nie!

LUKAS 24:1-5

1  En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was.

2  En hulle het die steen van die graf afgerol gevind.

3  En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.

4  En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere.

5  En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies?

Paasfees is die belangrikste fees in ons Christene se godsdiens en Goeie Vrydag en opstandings-Sondag is die belangrikste dae in die jaar.

Nou is die vraag vandag:

Het jy al vir Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?

As jy dit nog nie gedoen het nie, of jy wonder of jy dit al werklik gedoen het, wel dan het jy dit nog nie gedoen nie.

Luister wat sê ons Here in Sy Woord nou vir jou wat tot hier gelees het en nog nie sekerheid in jou hart het oor jou verhouding met Jesus nie.  Of jy wie nog nooit in die rigting gedink het nie:

JHN 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Jy kan nou net hier waar jy lees in alle opregtheid vir ons Here sê:

“Here ek weet, dat ek vol sonde, ja allerhande verkeerd is maar ek vra nou vir U – Help my Here, ek wil graag U kind wees en ek wil die ewige lewe saam met U in die hemel deurbring.

Here help my en kom my ongeloof te hulp.”

Nou soek jy ‘n gemeente wat die hele Bybel as die Woord van ons Here aanvaar.  Woon een van hulle dienste by en maak kontak met die herder van daardie gemeente vir verdere leiding.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.