WAT SÊ GOD SE WOORD OOR KOMMUNIKASIE MET VOORVADERLIKE GEESTE?
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my as volg:
Ek wil graag jou opinie hoor oor sangomas. Volgens my is dit verkeerd maar ek het nie rêrig Christelike bewyse daarvoor nie. Kan jy my asb dalk help?
Ek moet dan begin om net iets oor sangomas te sê.
‘n Groot deel van sangomas se, kom ons noem dit rituele, draai om om die voorvaderlike geeste en kommunikasie tussen die sangoma en die voorvaderlike geeste.
Wat bogenoemde aanbetref, is dit dus klaar vir die Christen se geloof heeltemal onaanvaarbaar.
Ja, ek weet daar is baie Christen denominasies wat baie Christelike beginsels prys gee om groepe, kultusse, mense en ja ook sangomas te akkommodeer maar my gewete volgens wat ek in die Woord lees laat my nie toe om hand aan hand met byvoorbeeld sangomas, hulle rituele en om dit so te stel, verkeer met die voorvaderlike geeste saam te stap nie.
Kom ons kyk dan eers net wat sê die Woord, met ander woorde, wat sê ons Here, daarvan om met geeste te kommunikeer.
Die eerste wat ek in die Woord, dit is God se Woord, met ander woorde God wat sê, dat om mee te begin; ek vuil en onrein is, as ek my met sulke dinge bemoei:
LEV 19:31 “Moenie op geeste en waarsêers vertrou nie, want hulle sal jou onrein maak. Ek, die HERE, is julle God.”
Soos jy nou gelees het, sê ons Here, dat ons nie die geeste moet raadpleeg nie, want Hy is die Here ons God wat alleen geraadpleeg moet word.
Verder sê ons Here ook:
LEV 20:6 “As iemand onder die volk ontrou is deur geeste of waarsêers te raadpleeg, sal Ek teen hulle optree en hulle afsny van die gemeenskap.”
Ons Here voel só sterk oor hierdie saak, dat Hy sê, dat as iemand so ‘n gees in hom of haar het, verdien so ‘n persoon volgens ons Here nie om te lewe nie.
LEV 20:27 “Mans en vroue onder julle wat hulle besig hou met geeste of beswerings moet gestenig word. Hulle is skuldig aan ‘n baie ernstige oortreding.”
Kom ons kyk vervolgens net gou, of dit volgens die Woord inderdaad moontlik is om met ‘n afgestorwene, voorvader, of wat dit ook al genoem wil word kontak te kan maak.
Wat jy nou gaan lees is Jesus se verduideliking en Jesus is die enigste persoon wat ook as mens op hierdie aarde geloop het, wat in diepte, eintlik moet ek skryf, wat volkome kennis van die hemel, die hel en of mense wat gesterf het weer met ons kan kontak maak, of ons met hulle.
Lees hoe verduidelik Jesus dit.
Jy kan die hele gedeelte gaan lees in LUK 16:19 en verder. Ek lig net enkele gedeeltes uit wat relevant tot my skrywe aan jou is, alhoewel die hele gedeelte eintlik relevant tot hierdie skrywe is.
Die eerste wat ek jou in Jesus se vertelling vir nou wil wys is, dat as jy uit hierdie lewe die hiernamaals intree, tree jy in een van die twee plekke in, waar jy die ewigheid gaan deurbring.
Die tweede punt van so baie wat ek eintlik met jou sou wou deel uit hierdie ryk gedeeltes, dat as jy in die hel is, kan jy om dit so te stel, soos deur ‘n eenrigting spieël sien wat in die hemel plaasvind maar jy is in die verskriklikste toestand waar ‘n mens jou in kan bevind en dit gaan vir ewig so aanhou:
LUK 16:23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.
LUK 16:24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.
Ek moet tog ook nie vir ‘n oomblik dink dat daar so nou en dan vir my ‘n bietjie verligting gaan wees, soos dat ek so nou en dan uit die hel uit ‘n lekker draai op die aarde kan maak of êrens tussen in kan beweeg vir ‘n bietjie lafenis terwyl ek ‘n bietjie kan ontspan en wegkom van my verskriklike ewige straf nie:
Daar word vir die ryk man verduidelik, dat daar nou vir ewig nie vir hom redding of lafenis is nie en dat hy is waar hy is vir altyd, ja tot in alle ewigheid.
Dan is die ryk man se wanhopige smeek versoek en onthou nou, dat dit Jesus is wat ons van hierdie gebeurtenis vertel:
LUK 16:27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur— (want hyself kan nooit, tot in alle ewigheid weer uit kom waar hy is nie)
LUK 16:28 want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
Dan laat Jesus ons ook baie duidelik verstaan dat as jy in die hemel is, ons Here jou ook net daar hou omdat Hy natuurlik jou geskape en gered het om altyd by Hom te wees en al sou Hy jou tog uit die hemel aarde toe laat gaan het, sou dit ‘n sinnelose daad gewees het. Gewoon omdat dit niks vir iemand se siel of geestelike welstand in die lange duur sal beteken nie.
Hulle mag dalk vir ‘n tyd oorweldig deur die wonder wees maar Jesus, dit is God wat nie lieg nie, sê soos jy sal sien, dat selfs so iets jou nie sal red, as jy nie God se heilige Woord glo wat Hy vir ons gegee het nie:
LUK 16:29-31
29 Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; (dit is die Woord, of dan die Bybel) laat hulle na dié luister.
30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete (dit is die Woord, of dan die Bybel) nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.
God doen nie sinnelose nuttelose dinge nie en soos Jesus my duidelik uit die Woord wys, sou dit totaal sinneloos en nutteloos wees vir my om met ‘n afgestorwene te kommunikeer, of die persoon nou in die hemel sou wees, en of die persoon nou in die hel is.
Nou sê ek nie vir een oomblik dat die mense wat met, en kom ons noem hulle maar geeste kommunikeer, nie met geeste kommunikeer nie maar dit is verseker nie ‘n afgestorwene mens met wie hulle kommunikeer nie en as dit nou vir my wil voorkom of hierdie sogenaamde afgestorwene al die regte antwoord het, moet ek net onthou, dat satan se bose geeste my en myne al my hele lewe dophou, om te sien waar hy my kan laat sondig. Hy ken my waarskynlik amper beter as wat ek myself ken en in hierdie hele heelal is daar nie ‘n beter na-aper en spotter as satan en sy bose geeste nie:
2KOR 11:14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.
2KOR 11:15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.
Nou hoekom, as iemand my oor sangomas vra hierdie hele retoriek oor afgestorwenes en geeste ens?
Want my vriend/vriendin –
Ek wil graag dit so duidelik as moontlik probeer oorbring, dat enige geloof, bediening, sogenaamde Christen denominasie, soos wat daar wel is, of wat hulle hulleself ook al mag noem, wat enige iets met afgestorwenes of geeste of iets soortgelyk te doen het, nie vir jou en my aanvaarbaar is nie – Ons, wie Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker en nou Sy Heilige Gees inwonend in ons het.
Jy en ek het nou net een Gees wat ons lei en dit is Sy Heilige Gees.
Sy Heilige Gees mag ander mense, dit is lewende mense, gebruik om ons in hierdie of daardie te help, omdat ons soms vanweë ons persoonlike betrokkenheid, in ons mensheid nie reg kan oordeel nie maar hy sal nooit afgestorwenes gebruik nie, gewoon omdat afgestorwenes nie by magte is om met ons kontak te maak nie.
Jy en ek het nodig soos jy gelees het; Sy woord, onder leiding van net Sy Gees en lewende mense wat Hy mag gebruik om ons te help.
Ek laat jou dan nou met die volgende uit ons Here se kosbare Woord.
Want wat ek reg deur hierdie skrywe aangaande Sy Gees aan jou verkondig en nou weer herhaal is:
Daar is net Jesus Christus en Sy Woord, onder die leiding van net Sy Heilige Gees.
Enige iets anders wat verkondig word is eenvoudig nie vir ‘n ware Geesgevulde kind van ons Here aanvaarbaar nie.
Net deur Jesus Christus is daar, om dit so te stel, kommunikasie in die geesteswêreld en dan net met God Almagtig:
JHN 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Daar is dan ook net een Gees wat van God se ware kinders besit kan en sal neem:
JHN 14:26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
Dan –
Wat sal ons doen met alles wat Jesus Christus se Gees ons mee vertroos en geleer het?
HAN 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
So.-
Kom jy en ek los al hierdie ander, gelowe, kultusse en dinge en goete, want ek wil eintlik nie eens myself besoedel om die goed te noem nie en kom ons gebruik die tyd wat ons hier op aarde het en demonstreer ook so aan die wêreld watter Gees woon in ons, deur ons God en Verlosser wie ons Sy Heilige Gees gestuur het sodat die wêreld Hom – dit is Jesus – deur ons kan sien.
Hoe doen ons dit?
Wel ons gee gehoor aan Sy opdrag aan ons, deur ons lewe of deur ons woorde en soms deur albei:
MAT 28:18-20
18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.
Groete,
Sakkie