IN WATTER NAAM MOET EK BID, LEEF EN BESTAAN?

IN WATTER NAAM MOET EK BID, LEEF EN BESTAAN?

Doen alles in die naam van die Here Jesus

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en my die volgende gevra.

“Kan jy vir my lig werp op die verskillende name van die Vader en Jesus?
Ek kry te doen met name soos;  Elohim,Yahweh, Yahshua.
Hoekom bid mense nie meer die name nie, en word dit nie in die nuwe vertalings van die Bybel genoem nie?
Iemand het vir my gesê jy gebruik die verskillende name vir verskillende gebede, soos byvoorbeeld as jy bid vir genesing gebruik jy 'n sekere naam, ensovoorts.”

Hier is dan hoe ek hierna kyk:

Mense maak soms die Christelike Godsdiens tog so ingewikkeld en dit gebeur natuurlik omdat satan ook ‘n vinger in die ingewikkeldmaak-pastei het.  So, ek gaan maar net vir jou vertel wat van my bekering af nog altyd wonderlik vir my gewerk het.
Toe ek tot bekering gekom het, is ek gedoop in die Naam van Jesus Christus.

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle:  “Kom tot inkeer en maak reg met God.  Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang.
HAN 2:39  Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

Ek het dadelik geleer en ingesien, dat Jesus die begin en einde van alles is, ook in my lewe en dat daar van nou af net een Naam is wat vir my gegee is wat in alles vir my die begin en einde is.

HAN 4:12  Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.

Ek het uit die Woord geleer, dat daar net een manier is om deur ons Here verhoor te word en dit is om ons Here te nader in die Naam van Jesus.

KOL 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Eers het satan deur grootskaalse vervolging probeer om die Naam van Jesus onder die mense uit te roei en ek gee ‘n voorbeeld:
In my voorbeeld aan jou gebruik die dissipels die enigste Naam wat vir ons gegee is om te gebruik, naamlik Jesus – en dit werk.

HAN 3:2-7 
2 En daar is ‘n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om ‘n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan.
3  Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om ‘n aalmoes gevra.
4  En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê: Kyk na ons.
5  En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang.
6  Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!
7  Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword.

Toe word hulle gedreig om dit nie meer te doen nie.

HAN 4:17-20 
17 Maar dat dit nie nog meer onder die volk versprei word nie, laat ons hulle dreig om nie meer in hierdie Naam met enige mens te spreek nie.
18  En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie.
19  Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;
20  want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.

As jy nou verder in die volgende hoofstuk, naamlik Handelinge 5 gaan lees, sal jy sien hulle word in die tronk gegooi, hulle word geslaan en dit alles omdat hulle Jesus se Naam verkondig en in hulle lewens gebruik.

Toe na baie eeue toe satan sien dat hierdie bose plan van hom naamlik vervolging nie werk nie, kom hy met ‘n nuwe, nog boser plan –

Volgens wat ek om my sien en beleef, het satan seker toe as volg geredeneer:

“Laat hulle die enigste naam wat vir hulle gegee is waardeer hulle gered kan word en wat hulle moet gebruik om toegang tot hulle God te kry misbruik, as ‘n vloekwoord en as hulle self dit nie as ‘n vloekwoord gebruik nie, laat hulle die programme oor die TV, flieks, boeke ens wat hulle lees, sowel as die geselskap waarin hulle mag verkeer, waarin dit wel gedoen word geniet, of dan ten minste verdra.

Nou het hulle nie kontak met hulle God nie, want hulle wys Hom dan hoe min hulle van daardie enigste Naam dink wat vir hulle gegee is, wat Hy so hoog ag en wat Hy aan hulle gegee het om toegang tot Hom te kry.  Ja, hulle wys dan mos vir Hom hulle God, met watter minagting hulle daardie Naam beheen.

As my plan A nie werk nie, wel dan gebruik ek plan B.
Dan neem ek ‘n paar ander name van hulle God uit hulle Bybel en maak hulle wys dat hulle dit in sekere gevalle moet gebruik.

As hulle dan in ongehoorsaamheid aan hulle God daardie name gebruik en nie die een Naam wat Hy hulle God hulle gegee het nie, “score” ek in elk geval ‘n “bull’s-eye.”

Dit, so sien ek is hoe satan redeneer.

Geen wonder dan ook nie, dat die Christen geloof die énigste geloof is wat ek van weet, waar ons Verlosser en Saligmaker se Naam as ‘n vloekwoord deur almal misbruik word. 

Want sien, dit is die enigste Naam wat vir satan ‘n probleem is.

As my vrou en ek na ‘n program of fliek kyk en Jesus se Naam word in een of ander vorm misbruik, gaan ons dadelik van daardie kanaal weg.
As ek ‘n boek of wat ook al lees en Jesus se Naam word op een of ander manier misbruik, maak ek dadelik dit wat ek gelees het vir die laaste keer toe.

As ek in geselskap is en iemand misbruik Jesus se Naam op die een of ander manier, laat ek dadelik die mense verstaan dat dit verkeerd is en as die persoon of persone dit weer doen verskoon ek myself van daardie geselskap.

My vriend/vriendin, ek wil jou aanmoedig –
Vandat ek tot bekering gekom het, gebruik ek in my lewe altyd net die een wonderlike Naam en dit is Jesus en dit het nog altyd vir my in alles gewerk.

Lees hier wat sê die Woord nog van die Naam van Jesus:

FIL 2:9-11
9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam.
10  So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig,
11  en elke tong sal erken:  “Jesus Christus is Here!”  En so sal God die Vader
      verheerlik word!

Het jy gesien wat jy nou gelees het?
Elke ander naam, wat jy waar ook al mag kry, word deur ons Here minder geag as die Naam van Jesus.

Die Ou Vertaling stel dit so:

FIL 2:9  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,

Wil jy ‘n liefdesverhouding met ons Here hê?
Wil jy met ons Here kommunikeer?

Wel daar is net een manier om dit te doen:

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Kom jy en ek onthou altyd in ons lewe hierdie woorde van Jesus asook:

KOL 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom. 

HAN 17:28  Dit tog juis deur Hom wat ons leef, beweeg en bestaan… 

Groete,
Sakkie