WEET MENSE IN DIE HIERNAMAALS WAT MET ONS HIER OP AARDE GEBEUR?

WEET MENSE IN DIE HIERNAMAALS WAT MET ONS HIER OP AARDE GEBEUR?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra of mense in die hiernamaals weet wat hier op aarde en in besonder met hulle agtergeblewe geliefdes, gebeur.

Daar is sekere dinge waaroor die Woord ons nie direkte inligting gee nie en hierdie is weer so ‘n geval.

Buiten wanneer iemand my my opinie oor sake vra waaroor ons Here in Sy Woord nie ‘n direkte verduideliking gee nie, bemoei of dink ek ook nie eintlik baie daaroor nie.  Want oor alles in die lewe weet ek as Sy kind en leef ek dit ook so uit dat wanneer ek nie weet nie en ook nie ‘n verduideliking in die Woord daarvoor kry nie, los ek dit, want: “Ek sal weet, wat ek moet weet, wanneer ek moet weet, dit wat ek moet weet.”

My Vader sal verseker daarvoor sorg. Al wat ek in die tussentyd doen, is om Hom te volg en my oë – en ek praat geestelik – vasgenael op Hom te hou.

As iemand egter, soos in hierdie geval, my iets vra waaroor daar nie, sover ek weet, direkte getuienis in die Woord is nie, gebruik ek die kennis wat ek het en nadat ek gebid het stuur ek dan my antwoord, indien ek een het, uit.

Ek deel dus met jou hoe ek na hierdie vraag kyk met die kennis van die Woord wat ek het en ek gaan ter wille van die lengte van die skrywe, my telkens probeer beperk tot twee voorbeelde uit die Woord om iets te onderstreep wat ek sê.

Wanneer ons nou van mense in die hiernamaals praat, moet ons in gedagte hou dat daar twee groepe is:

Die een groep is in die Hemel en die ander groep is in die hel.

Kom ons kyk eers na die groep in die hel.
Die Woord sê byvoorbeeld van die hel:

OPG 20:15  “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”

Asook:

OPG 14:11  “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.”

Ek dink as iemand so nou en dan uit die hel kon kom, sou dit letterlik vir haar/hom,“hemel op aarde wees”  maar nou is daar geen breuk of ruskans vir hulle nie:

OPG 14:11  “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie.”

Daar is natuurlik ook die geval wat Jesus self ons vertel van waar die ou in die hel so seker was dat hy nie uit die hel kon kom nie, dat hy dit nie eens voorgestel het nie maar wou hê dat daar tog net iemand uit die dode na sy familie gestuur word, sodat hulle tenminste nie dieselfde hel as hy sou belewe nie:

LUK 16:27-31 
27 “En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—
28  want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
29  Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.
30  Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
31  Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”

So, my gesonde verstand, met die kennis wat ek van die Woord het, sê vir my dat indien jy in die hel is, hoe graag jy ook daaruit sou wou kom, jy is daar vir ewig en altyd.

Kom ons kyk nou na ons geliefdes wat in die Hemel is. Die Woord sê van die Hemel onder andere die volgende:

OPG 7:16  “Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie;
OPG 7:17  want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.”

Asook:

OPG 21:3-5 
3 “En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal Sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.
4  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.
5  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”

Met dit wat jy nou net gelees het, wil ek jou twee scenarios uit ‘n menslike oogpunt  skets en ek gebruik myself as voorbeeld:

My vrou is ‘n saggeaarde mens.
Sê nou ons Here kom haal my voor haar –

Daar sit ek in die Hemel en ek sien hoe sy hier op die aarde deur ‘n wrede, ongevoelige buffel verlei word om met hom te trou en ek aanskou hoe hy haar daagliks fisies en psigies mishandel.

Wat het nou geword van –

OPG 21:4   “… ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, …”

Of:

Daar sit ek in die Hemel en ek sien hoe my kind die pad heeltemal byster raak en die verskriklikste dinge doen en in die proses sterf en ek sien hoe hy, vir wie ek so baie lief is, hel toe gaan. Weer vra ek:

Wat het nou geword van –

OPG 21:4   “… ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, …”

Vir my lê die antwoord in hierdie soort vraag, in die laaste gedeelte van OPG 21:4 en die eerste gedeelte van OPG 21:5

OPG 21:4  “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer
wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.
OPG 21:5  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. …”

Ek weet nie hoe ons Here dit doen nie, en ek gaan nie so dwaas wees om met my klein verstandjie te probeer om dit uit te werk nie. Ek weet egter verseker, dat dinge nie gaan werk soos dit hier op aarde werk nie. ‘n Voorbeeld hiervan sien ek in Mat 22.  Daar vanaf die 23ste vers:

MAT 22:23-32 
23 “Dieselfde dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom
24  en sê: ‘Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek.
25  Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.
26  So ook die tweede en die derde tot die sewende toe.
27  En laaste van almal het die vrou ook gesterwe.
28  In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees—want hulle almal het haar gehad?’
29  Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: ‘Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.
30  Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.
31  En wat die opstanding van die dode betref — het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie:
32  Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.”

Om dan op te som hoe ek met my menslike verstand hierdie saak sien:

Dié wat in die Hemel is, is te betrokke by ons Here en al die heerlikheid wat daarmee gepaard gaan en het dus nie ‘n gedagte aan die aardse dinge nie:

OPG 7:15  “Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in Sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal Sy tent oor hulle oopspan.
OPG 7:16  Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie;”

Deel van die mense in die hel se hel is juis die gedagte aan hulle verspeelde
kanse op aarde en die feit dat hulle weet van ander geliefdes van
hulle wat dieselfde pad loop:

LUK 16:27  “En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur —
LUK 16:28  want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.”

Vir dié wat wil glo dat mense in die hiernamaals die wêreld vol loop en hulle bekommer oor mense hier op aarde, kan ek maar net sê: Soos ek ons Here geleer ken het, doen Hy net eenvoudig nie nuttelose, sinnelose dinge nie en Hyself sê, in die voorbeeld oor hierdie saak wat Hyself aan ons voorhou:

LUK 16:30  “Maar hy antwoord: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.’
LUK 16:31  Maar hy sê vir hom: ‘As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”

                 

Groete,
Sakkie