WIE IS GOD WERKLIK IN JOU LEWE?

WIE IS GOD WERKLIK IN JOU LEWE?

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra aan my as volg:

“Wie is God werklik?”

Ek persoonlik vind dit, kom ons noem dit, so effe vreemd, as ek hoor iemand vra ‘n vraag in hierdie trant.
Want alles wat ek in hierdie lewe hoef te weet en verstaan wat my God aanbetref, vind ek in Sy Woord en in Sy skepping in en om my.

Vir myself is dit net te wonderlik om te weet dat God die Almagtige, die Skepper van die heelal Homself aan my in my hart kom voorstel het en my die liefdevolle genade gegee het, om Hom aan te neem en Hy nou in my woon en ek Sy kind mag wees.

Dit is egter nie die eerste keer dat iemand ‘n soortgelyke vraag selfs aan God self gevra het nie.
Dieselfde vraag is aan God self baie jare terug in die geskiedenis van Israel gevra maar dit was net effe anders gestel:

EXO 3:13-15 
13 Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord?
14  En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: (want hulle het nog nie die Heilige Gees inwonend in hulle gehad nie) EK IS het my na julle gestuur.
15  Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam (EK IS) van geslag tot geslag.

Dit wat jy nou gelees het en wat die mens om en ja ook, in homself kon waarneem en sien is, volgens wat ek die Woord verstaan, was al wat die mens met sy klein beperkte verstandjie destyds nodig gehad het .  Dit en die Skepping om en in hulleself

ROM 1:19  omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.
ROM 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Ja, dit was al wat hulle nodig gehad het, om in ‘n wáre verhouding met God te lewe in afwagting van die volheid van die tyd wat sou aanbreek.
Hulle, die wat in ‘n ware verhouding met God geleef het, was self ook deel van die aanloop tot die volheid van die tyd wat sou aanbreek.
Toe breek die volheid van die tyd aan:

GAL 4:4-7 
4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,
5  om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
6  En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!
7  Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.

Ja, toe kom daar ‘n dag, toe die volheid van die tyd aangebreek het, dat die engele skare dit uit gejubel het:

LUK 2:10-14 
10 En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,
11  dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.
12  En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.
13  En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:
14  Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

Van toe af, prys die Naam van ons Here, kan die mens met ‘n groot heerike blydskap dit uitjubel:

JES 9:5  Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—
JES 9:6  tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen. (En het dit ook gedoen)

So, wie is God werklik?

JHN 1:1-5 
1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2  Hy was in die begin by God.
3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

By geleentheid staan God wie vlees geword het; naamlik Jesus Christus en die volgende gesprek vind tussen Hom en Sy vyande plaas, waar God vir jou en vir my by herhaling wys “Wie God werklik is”:

JHN 8:56-58 
56 Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.
57  Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?
58  Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. (die groot EK IS)

Dan kom Jesus by ‘n volgende geleentheid en in daardie gesprek, onderstreep Jesus wat Hy hierbo gesê het:

JHN 14:8  Filippus sê vir Hom: (dit is vir Jesus) Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.
JHN 14:9  Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?

Daarom ook kon Thomas later onthou en toe hy Jesus herken, uitroep:

JHN 20:28  En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!

En in Jesus se reaksie op Thomas se woorde lê daar groot heerlike troos en bemoediging vir jou en vir my – Ons wie Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker en vir wie ons met ons héle hart lief is:

JHN 20:29  Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.

Daar is baie gode vandag in die wêreld.
So eintlik is die vraag nie:  “Wie is God regtig?” nie.
Vir my is die vraag vandag vir jou wie hier lees:
Wie is God vir jou?
Dan wil ek, terwyl jy jou antwoord oorweeg, vir jou graag sê wie God vir my is.

Ek lees by alles wat jy nou reeds gelees het oor wie God vir my is die volgende in ons Here se kosbare Woord:

KOL 2:8  Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.
KOL 2:9  Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;

So.
Wil jy weet wie God werklik is?
Prys die Naam van die Here!
Kyk na Jesus Christus!
Begin dan ‘n liefdesverhouding met Hom.

En as jy wil weet watter naam God graag wil hê jy Hom moet noem, van al die name van God wat jy al gehoor of van gelees het, lees wat sê die Woord, van watter naam Vir God belangrik is:

FIL 2:9-11 
9  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, (bo elke ander naam wat jy al van gehoor of gelees het)
10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Daarom kan ek ook in geen ander naam na iemand gaan en met haar/hom oor God praat nie en kan ek ook geen ander naam gebruik as ekself my God by Sy Naam wil noem nie:

HAN 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, (Jesus Christus alleenlik) want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, naamlik waardeur ons gered moet word nie.

Ek sluit dan my skrywe aan jou wie tot hier gelees het af met die volgende vraag:

Wie is Jesus Christus, God wie mens geword het, werklik vir jou?

Groete,
Sakkie