WIE IS SATAN, KAN HY ONS GEDAGTES LEES EN BESTAAN HY WERKLIK?
DEEL 1
Sakkie Parsons
Een van my mense, soos ek julle almal in my hart noem aan wie ek die eer het om pos te stuur, skryf eendag aan my; en noem onder andere dat; sy wonder of satan soms kan weet wat ons dink.
‘n Ruk voor hierdie e-pos gesprek tussen my en die dame wat van my pos ontvang, het iemand my die kop gewas omdat ek verkondig, soos hy dit gestel het, dat ons liefdevolle God sal toelaat dat mense in die hel beland.
Ek het toe ook onthou dat een van die groot Christen denominasies se sinode blykbaar, so het ek gehoor, ook wil ondersoek instel of satan werklik bestaan. Ek noem maar nie hierdie denominasie se naam nie want ek was nie in hulle vergadering nie en self kan ek my net eenvoudig nie indink dat, met alles wat Jesus en die Woord oor satan sê, daar werklik regdenkende Christene kan wees wat eens amper, in daardie rigting dink nie.
Ek het toe besluit om hierdie onderwerpe met my mense te deel.
Eers net ter inleiding –
Een van my groot leermeesters het eendag vir my gesê: “Sakkie, as jy nie op wit en swart uit die Woord kan staaf wat jy sê nie; maar ‘n afleiding maak uit dit wat jy sien in die Woord, sê baie duidelik aan dié met wie jy dit deel, dat jy dit nie so op wit en swart in die Woord sien nie; maar dit is jou siening.”
So, ek wil dit dan nou duidelik stel – die gedeeltes wat ek nou uit die Woord gaan kwoteer en op satan van toepassing maak – is eintlik oorspronklik in Jesaja 14:12-13, op die koning van Babel van toepassing en in die geval van Esegiël 28:13-15, is dit oorspronklik op die koning van Tirus van toepassing.
Ek, soos baie ander, is egter van mening, dat dieselfde soort simboliek hier gebruik kan word, as wat ons in Matteus 2:14-15 sien wat verwys na Hosea 11:1. Ons lees in Matteus 2:14-15 die volgende:
MAT 2:14 “Josef het toe opgestaan en nog daardie selfde nag met die Kindjie en sy ma na Egipte toe vertrek.
MAT 2:15 En hulle het daar gebly tot Herodes se dood. So is wat die Here deur die profeet gesê het, vervul: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.””
Ons lees in Hosea 11:1:
HOS 11:1 “Ek het Israel liefgehad toe hy nog ‘n kind was. Ek het my seun uit Egipte geroep.”
In Hosea 11:1 lees ons van die balhorige onvolmaakte kind en in Matteus 2:15 lees ons van die gehoorsame volmaakte kind.
Terug by ons onderwerp oor ‘Wie is satan, kan hy ons gedagtes lees en bestaan hy werklik’.
Eers dan – Wie is satan?
Die satan – soos ek dit uit die Woord verstaan – was geskep as ‘n gerub. Gerubs is ook, soos ek dit uit die Woord verstaan, van die hoogste soort engele, of dan as jy wil, hoogste soort Hemelse wesens onder die engele in die Hemel maar dit het toe na sy kop gegaan en toe word hy uit die Hemel gegooi.
Ek deel graag met jou in hierdie verband, die volgende uit die Woord:
JES 14:12-14
12 “Hoe het jy uit die hemel geval, blink ster, seun van die môre! Jy is op die aarde neergegooi, jy wat die nasies van die wêreld verpletter het.
13 Jy het mos vir jouself gesê: ‘Ek sal na die hemel toe opklim en my troon bo God se sterre neersit. Ek sal regeer op die godeberg ver in die noorde.
14 Ek sal opklim tot in die hoogste hemele. Soos die Allerhoogste sal ek word.’”
ESE 28:13-15
13 “Jy was in Eden, die tuin van God.
Jou klere was versier met kosbare stene:
robyn, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois, en smarag.
Hulle was almal in goud geset. Jy het dit gekry die dag toe jy gemaak is.
14 Jy is aangestel as die gerub wat alles oppas. Ek het dit so bepaal. Jy was op die heilige berg van God. Tussen glinsterende edelstene het jy rondgestap.
15 Jy was onbesproke in alles wat jy gedoen het, vanaf die dag dat jy geskep is tot op die dag toe boosheid in jou gevind is.”
Toe word satan, die god/owerste van hierdie wêreld – vir almal wat nié Jesus aanneem as hul Verlosser en Saligmaker nie. As jy die twee voorbeelde nou lees wat ek jou voorhou om te staaf wat ek sê, let ook sommer weer op waar jy en ek was, voordat ons geantwoord het op ons Here se klop aan ons harte:
2KOR 4:4 “Dit is die god van hierdie bedeling wat die gedagtes van die ongelowiges (diegene wat nie in Jesus Christus glo nie) verblind sodat hulle die lig van die Goeie Nuus nie kan sien nie.”
In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte so:
2KOR 4:4 “… naamlik die ongelowiges in wie die god (kleinletter) van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
EFE 2:2 “Julle leefstyl destyds is bepaal deur hierdie bose wêreld, ja, deur die regeerder van die mag wat in die lug is. Dit is die gees wat nou nog werk in almal wat aan God ongehoorsaam is.
EFE 2:3 Ons almal het vroeër so gelewe. Ons gedrag is bepaal deur ons sondige begeertes. Elke sondige wens wat in ons gedagtes opgekom het, het ons sommer net gedoen. Soos die ander mense was ons vanselfsprekend vir God se vreeslike straf bestem.” (Dit is voordat ons vir Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker.)
In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte so:
EFE 2:2 “…waarin julle tevore gewandel het (voordat julle Jesus aangeneem het) volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,
EFE 2:3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.”
Die satan word in die Woord ook by ‘n hele paar ander name genoem, maar as jy dit alles afsny tot op die been dan, na my mening, is hy soos ek jou gewys het, die god, die owerste van hierdie ongelowige wêreld.
Nou weet ons dat satan ‘n gerub met buitengewone skoonheid was, maar volgens die getuienis uit die Woord, moet hy ook ‘n geweldige groot oortuigingsvermoë besit. Ek meen, hy het dit dan reggekry om ‘n groot gedeelte van die engele wat by ons Here in die Hemel was, oor te haal, om saam met hom teen ons Here op te staan:
OPG 12:7-9
7 “Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak. Die draak en die engele onder sy beheer het aan die oorlog deelgeneem,
8 maar hy is verslaan. In die hemel was daar geen plek meer vir die draak en die engele onder sy beheer te vind nie.
9 Die reuse draak is uitgegooi, dit is die slang van die oertyd wat ook die duiwel en satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei. Hy is op die aarde neergegooi, asook sy bose engele saam met hom.”
As jy fisiese bewyse soek van sy oortuigingsvermoë, hoef jy maar net om jou te kyk en die koerante oop te maak of na gebeure op die TV te kyk, asook wat jyself soms doen, wat jy nié wou doen nie.
Paulus waarsku ons dat satan hom voordoen as ‘n engel om mense te mislei:
2KOR 13-14
13 Want sulke mense is vals apostels; hulle is bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is.
14 Geen wonder nie! Satan self gee immers voor dat hy ’n engel van die lig is.
Jesus sê dat hy ‘n mensemoordenaar en die vader van alle leuens is:
JOH 8:44 “… Hy (satan) was van die begin af ‘n mensemoordenaar. En hy staan nie in ‘n verhouding met die waarheid nie omdat die waarheid nie in ‘n verhouding met hom staan nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ‘n leuenaar en ook die vader daarvan is.
Luister – Hier is die werklikheid soos ek dit uit die Woord verstaan:
As jy nie die Heilige Gees van Jesus Christus inwonend in jou het nie, het jy, as ek nou maar van ‘n soort anglisisme gebruik mag maak, dieselfde kans om geestelik te oorlewe, “as wat ‘n sneeuvlokkie het om in die hel se vuur te bly bestaan.”
Moet nou nie dink ek dreig jou nie. Ek deel jou die werklikheid mee soos wat dit is.
As jy nie vir Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie en jy tree hierdie wêreld uit, – wag vir jou presies dieselfde toekoms wat vir satan en sy engele wag.
MAT 25:41 “Dan sal die Koning vir dié aan Sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek! Gaan na die ewige vuur wat gereed gemaak is vir die duiwel en sy bose engele!”
Lees hier wat sê Jesus van Sy volgelinge wat in Sy weë wandel:
JOH 5:24 “Dit verseker Ek (Jesus Christus) julle, wie My woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.”
Wanneer ons Jesus Christus aanneem as ons Verlosser en Saligmaker, dan is ons nie meer onder die mag van satan nie, want:
KOL 1:13 Hy (Jesus Christus) het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun.
HAN 26:18 Jou bediening moet hulle oë oopmaak sodat hulle ’n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig, en weg van die mag van Satan na God. Deur in My te glo, ontvang hulle vergifnis van hulle sondes en word hulle deur die geloof deel van mý mense.”
1 JOH 5:18-20 Geloof in die Seun van God oorwin die wêreld
(Die onderskeid tussen die ongelowige wêreld en die kinders van God)
18 Ons leef egter met die wete dat elkeen wat deur God verwek is, nie aanhou sonde doen nie. God bewaar dié een wat uit Hom gebore is en die bose kry nie vatplek aan hom nie.
19 Ons weet dat ons van God afkomstig is en dat die hele wêreld in die mag van die bose vasgevang lê.
20 Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe.”
In my volgende skrywe, deel 2 in hierdie reeks, deel ek met jou of satan ons gedagtes kan lees.
Groete,
Sakkie