WIE IS SATAN, KAN HY ONS GEDAGTES LEES EN BESTAAN HY WERKLIK? DEEL 2 VAN 3

WIE IS SATAN, KAN HY ONS GEDAGTES LEES EN BESTAAN HY WERKLIK?

 DEEL 2

Sakkie Parsons

In hierdie die tweede skrywe aan jou oor – Wie is satan, kan hy ons gedagtes lees en bestaan hy werklik, wil ek met jou deel oor:

Kan satan, om dit so te stel, ons gedagtes lees?

Die Woord gee ons nie ‘n direkte antwoord nie, maar ek glo tog dat ons uit die Woord ‘n antwoord op hierdie vraag kry.

Jy sal onthou, soos ek jou in die vorige skrywe gewys het, was satan ‘n gerub.

ESE 28:14 “Jy is aangestel as die gerub wat alles oppas. Ek het dit so bepaal. …”

Die satan was ‘n gerub en buiten dat satan vol boosheid is en uit die Hemel gegooi is, het hy nie, om dit so te stel, verander nie.

Ons Here is Almagtig, Alwetend en Alom-teenwoordig. Hy weet presies wat in en om jou nou aan die gang is terwyl jy hierdie skrywe lees en Hy weet presies wat nou op hierdie oomblik in en om my en elke ander lewende wese aan die gang is.

Dit is omdat ons Here die Almagtige, Alwetende en Alom-teenwoordige GOD is. Die satan wat as ‘n gerub deur ons Here geskep is, is vanweë sy oorspronklik gerub status nie almagtig, alwetend en verseker selfs nie alom-teenwoordig nie.

As hy byvoorbeeld almagtig sou wees, en hoe belaglik klink dit, net om dit te noem, sou hy gelyk aan ons Here gewees het.

As hy alwetend sou wees, sou hy nie so ‘n futiele en vrugtelose onderneming aangepak het, as om te probeer om ons Here se plek in die Hemel oor te neem nie. So beperk is hy in sy denke, dat hy toe, om ‘n uitdrukking van een van my tannies te gebruik: “Kan jy dit oorvertel!”, nie uit sy ongelooflike flater geleer het nie en toe, kan jy dit oorvertel,  wraggies eendag gedink het dat dit moontlik is om God, wat mens geword het, te verlei.

Jy kan dit gaan lees in Matteus 4:1-11.

Ek sê in my volgende skrywe in hierdie reeks meer oor die gebeure in Matteus 4:1-11.

Ek het gesê hy is ook nie alom-teenwoordig nie, maar ongelukkig het satan tot sy beskikking ‘n, om dit so te stel,  ontelbare getal demone, wat hy kan gebruik soos hy wil.

Omdat hy nie almagtig, alwetend en alom-teenwoordig is nie, kan hy nie in jou en my gedagtes sien wat ons dink nie maar hy en sy demone, het na duisende jare se bestudering van die mens, ‘n baie, baie goeie kennis van wat om af te lei van ons liggaamstaal en dit wat ons sê, en hoe ons dit sê, ens.

Dit is baie jammer om dit te moet sê, maar die satan, om dit so te stel, lees die meeste van ons soos ‘n boek. Hier is hoe dit werk:

Die satan en sy demone weet watter bose pyle hulle op ons afskiet maar hulle weet nie watter pyle getref het en of die pyl getref het, voordat ons deur woord of daad vir hulle toon of hulle getref het of nie.

Daarom is deel van die wapenrusting wat ons Here ons gee om teen die bose te staan dan ook:

EFE 6:16 “Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof.  Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.”

Ons lees:

EFE 6:10-18 

10 Ten slotte:  Vind krag in julle verhouding met die Here, ja, in die krag van Sy sterkte!

11 Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek.

12 Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen

die bose geeste in die hemelruimtes.

13 Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek.  Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.

14 Staan dus vas deur waarheid as ‘n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.

15 Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete.

16 Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof.  Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.

17 Gebruik God se verlossing as ‘n helm om julle koppe te beskerm, en, as swaard, die Gees, dit is God se Woord.

18 Doen alles deur gebed en smeking.  Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei.  Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan

God behoort.”

In my volgende en laaste skrywe in hierdie kort reeks, deel ek met jou oor hierdie verstommende tendens, dat daar nou al mense is wat beweer dat hulle volgelinge van Jesus is, wat wonder of daar ‘n satan is, en wys ek jou hoekom ek sê dat dit vir my Godslastering is om te wil beweer, dat daar nie ‘n satan is nie.

Vir nou deel ek weer met jou die raad wat die Woord ons gee om teen satan staande te bly:

EFE 6:13  “ Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek.  Dan, wanneer die bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.”

In my volgende skrywe, deel 3 in hierdie reeks, deel ek met jou oor die bestaan van satan.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.