WIE MAG NAGMAAL BEDIEN?

WIE MAG NAGMAAL BEDIEN?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Kan Oom my dalk help met die volgende:
Ek is n Christengroep-leier. Mag ek my mense bedien met Nagmaal en indien wel, waar kan ek dit vind in die Woord dat ek dit wel mag doen?”

Omtrent jou vraag:

Nêrens in die Woord sien ek, dat jy ‘n sekere amp of geleerdheid of opleiding of so iets moet hê nie.
Ek weet daar is ook baie mense wat dink en dit ook so verkondig; dat jy Nagmaal net in spesiale plekke mag bedien, soos in ‘n kerkgebou.

Wie mag iemand met nagmaal bedien?

Enige dissipel van Jesus, of dan ware Christen van ons Here wat werklik verstaan waaroor dit gaan kan iemand anders of mense met die Nagmaal bedien en ek is ook nie beperk van hoeveel keer, sê in ‘n week, of op ‘n dag, ek dit mag doen nie.

Lees die volgende gedeelte, want ek wil na aanleiding van jou vraag jou ‘n paar dinge wys:

1KOR 11:23-29
23 Dít is wat die Here self gesê het en wat ek destyds aan julle oorgedra het net soos ek dit ontvang het. In die nag waarin Jesus verraai is, het Hy brood geneem
24  en nadat Hy God gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir júlle. Gebruik dit ter herinnering aan My.”
25  Net so het Hy die wynbeker ná die maaltyd geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat verseël is deur my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, ter herinnering aan My.”
26  Want elke keer as julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die Here se dood totdat Hy terugkom.
27 As enigiemand dan op ’n onwaardige manier van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal daardie persoon skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here.
28 Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink.
29 Want as julle van die brood eet en uit die beker drink, eet en drink julle ’n oordeel oor julleself as julle nie die nodige respek teenoor Christus se liggaam betoon nie.

Onthou, dat ek nou met iemand deel wat die Nagmaal wil bedien.

1KOR 11:27  As enigiemand dan op ’n onwaardige manier van die brood eet of uit die beker van die Here drink, (of ook dit in sy hart ook so bedien) sal daardie persoon skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here.

Voor ek iemand die Nagmaal bedien, moet ek eers baie deeglik ondersoek hoe my eie gesindheid is wat die bediening van hierdie, wat so ‘n heilige sakrament is:

1KOR 11:28-29
28  Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink (en veral, as ek dit bedien)
29 Want as julle van die brood eet en uit die beker drink, (ook as ek dit bedien) eet en drink julle ’n oordeel oor julleself as julle nie die nodige respek teenoor Christus se liggaam betoon nie.

Hoekom beklemtoon en lig ek die een uit wat die Nagmaal bedien?
Want jy neem nou die leiding – en hy wie voor loop moet ekstra mooi kyk hoe en waar hy trap, terwille van hulle wat hom volg.

1KOR 11:31  As ons onsself egter vooraf ondersoek, sal ons nie onder God se oordeel kom nie.

Ek en my gewese vrou wie nou by Jesus is byvoorbeeld, het vir mekaar saam Nagmaal bedien.
EK sluit dan af met die volgende soos ek dit verstaan en in my eie lewe probeer lewe:

1KOR 11:25-26
25  Net so het Hy die wynbeker ná die maaltyd geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat verseël is deur my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, (of mekaar daarmee bedien) ter herinnering aan My.”
26  Want elke keer as julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, (of die een dit aan die ander bedien) verkondig julle die Here se dood totdat Hy terugkom.

1KOR 11:31  As ons onsself egter vooraf ondersoek, (voordat ons nagmaal gebruik of aan iemand bedien) sal ons nie onder God se oordeel kom nie.

Groete,
Sakkie