WIE ‘N OOR HET LAAT HOM HOOR

WIE ‘N OOR HET, LAAT HOM HOOR

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

Ons het n bespreking by die selgroep gehad en die vraag het opgekom: "Sal God ooit Sy rug op iemand draai, Sal Hy iemand ooit verwerp?"
Wat is jou opinie?

In hierdie skrywe deel ek net met mense wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, omdat dit ‘n kind van God was wat my die vraag gevra het, anders gaan hierdie lang skrywe heeltemal te lank wees.

Hier is dan hoe ek hierdie saak uit die Woord verstaan en ek moet dadelik sê dat daar baie is wat met my en die wat soos ek glo verskil maar iemand het my, my opinie gevra en dit is hoe ek glo en waarvolgens ek lewe.

Ek wil dan onmiddelik begin deur te sê, dat ons Here nooit Sy rug op iemand sal draai, of iemand sal verwerp, as die persoon Hom aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie.  Nie eens, as ‘n persoon sy rug op ons Here draai, sal ons Here Sy rug op daardie persoon draai, of die persoon verwerp nie.
Dink maar aan die gelykenis van die verlore seun.
Dit gesê, moet ek dadelik ook sê, dat ek verseker nie soos ek die Woord verstaan, glo dat daar so iets is soos: “eenmaal gered,  outomaties altyd gered” nie.

Laat ek verduidelik:
Die mens is na die beeld van God geskape.

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Omdat ons na die beeld van ons Here geskape is, is daar ‘n paar eienskappe wat ons het, wat ons onderskei van alle ander lewe op aarde.
Twee van daardie eienskappe wat ek met jou wil deel, is die volgende:

Die eerste is, dat ons onsterflik is.

Ons Here is onsterflik en ons, omdat ons na Sy beeld geskape is, is ook onsterflik.
Elke mens wat ooit gebore was, gebore is en gebore sal word, sal een of ander tyd hierdie aardse liggaam verlaat en die ewigheid of in die Hemel vir ewig saam met ons Here deurbring, of hy/sy sal die ewigheid in die hel gaan deurbring en daar vir ewig besig wees om, om dit so te stel,  die verskriklikste dood te sterf en tog in der ewigheid nooit sterf nie.
Een ding wat tot in der ewigheid nooit na bevrugting in die moederskoot met ‘n mens kan gebeur nie, is dat daardie persoon dood kan gaan.
Net jou liggaam gaan dood en tot niet.

Die tweede eienskap wat ons van ons Here het, omdat ons na Sy Beeld geskape is en dit is dan ook hierdie eienskap wat in hierdie skrywe aan jou ter sprake is.  Dit  is, dat jy en ek, soos ons Here, ‘n wil van ons eie het en ons Here respekteer ons wil, soos Hy ook wil dat ons Sy wil respekteer.

Byvoorbeeld:
Ons Here wil dat die hele wêreld se mense gered word.

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, (die hele wêreld se mense) dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, (elke mens in die hele wêreld) nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word (elke mens in die hele wêreld).

Tog, omdat Hy ons Wil respekteer en nie ons as marionette geskape het nie, sê Jesus terwyl hy op reis na Golgota is om dit vir die hele wêreld moontlik te maak om gered te word –
Ja, omdat Hy geweet het, dat die meeste mense nie van Sy groot offer gebruik gaan maak nie, sê Hy:

MAT 7:13  Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.

MAT 7:14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

By ‘n ander geleentheid vra Jesus twee vrae en wat myself aanbetref, is die tweede vraag so ‘n diep hartseer vraag, veral as jy onthou, dat Jesus Golgota toe gestap het, om soos die Woord dit stel, as ons Paaslam geslag te word, juis om dit moontlik te maak dat die hele wêreld gered en sodoende gelowig kan word:

LUK 18:7  Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?

LUK 18:8  Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

Ek kon nou baie gedeeltes uit die Woord geneem het om te wys waarom ek nie glo in, “eenmaal gered, outomaties altyd gered” nie maar ek volstaan met die volgende om te wys dat die mens wel na sy bekering, homself van ons Here kan losmaak en dat dit soms permanent kan wees.

Onthou nou as jy die gedeeltes lees wat ek met jou deel, dat Jesus hier nie met, om dit so te stel, buitestanders praat nie, Hy praat met Sy volgelinge en daarom ook met jou en my.

MAT 24:12  En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.

As Jesus praat van liefde wat sal verkoel, sê dit tog, dat daar eens by die persoon liefde gewees het, wat warm vir ons Here in volle blom gewees het.

MAT 24:13  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

As die wat volhard tot die einde toe gered sal word, sê dit tog dat ons Here weet dat daar mense gaan wees wat begin volhard het maar dit nie tot die einde volgehou het nie en daarom nie gered gaan word nie.
Hulle moes dan tog die een of ander tyd besluit het, dat hulle nie met hierdie pad wil volhard nie.

MAT 24:42  Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.

As ons moet waak, sê dit tog, dat as jy nie waak nie, gaan daar vir jou, om dit
lig uit te druk, onaangename gevolge wees en soos ek die Woord verstaan is daardie
onaangename gevolge katastrofies vir die een wat nie waak en al die tyd gereed is nie.

Dink maar aan die 5 dwase maagde.

MAT 24:43  Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.

MAT 24:44  Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n
uur dat julle dit nie verwag nie.

As ons gereed moet wees, sê dit tog, dat as jy nie Jesus se raad volg nie,  jy dalk nie gereed gaan wees nie.
Met ander woorde daar is mense wat gereed behoort te wees en dalk soos die 5 dwase maagde, êrens in die verlede wel gereed gewees het maar dit nie nou meer is nie.

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

As ons nugter en waaksaam moet wees, omdat satan ons kan verslind, as ons nie nugter en waaksaam is nie, sê dit tog dat dit kan gebeur dat ek as kind van God, omdat ek nie nugter en waaksaam is nie, deur satan geestelik verskeur en verslind kan word.

Onthou nou, dat die Woord in my voorbeelde wat ek jou voorhou, nie met ongeredde mense praat nie.  Die Woord praat met Jesus se volgelinge.  Mense wat ‘n besluit geneem het om Jesus te volg.  Mense soos jy en ek.

Luister mooi –
Daar kom ‘n tyd, dat as ek aanhou wegbeweeg van Christus af, dat ek “past the point of no return” gaan en ek dan nie meer kan terugkeer nie, gewoon omdat ek dan nie
meer sal wil terug keer nie.

HEB 6:4-6 
4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Die Woord sê tog baie duidelik, by alles wat jy nou gelees het, dat dit onmoontlik is
vir iemand wat selfs die Heilige Gees deelagtig geword het en toe afvallig geword het –
om so ‘n mens weer tot bekering te bring.
Dit sê tog baie duidelik, dat ‘n kind van God, sy/haar eie wil kan gebruik om homself/haarself uit die arms van God los te maak.

Ek meen – Jy kan tog nie Ons Here se Heilige Gees deelagtig word en nié ‘n kind van ons Here wees nie.

HEB 6:4  Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,

HEB 6:6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Daar kom ‘n dag, as ek nié volhard en waak op my reis Hemel toe nie, dat ek so ver van ons Here af gaan beweeg, dat ek nie meer die stem van ons Here se Heilige Gees gaan hoor nie en dat dit dan my ook nie ‘n bloue duit gaan skeel nie.  Tot op daardie dag, dat ek soos die ryk man in die verhaal van Lasarus en die ryk man, my oë in die hel oopmaak  maar dan soos ook met daardie ryk man, gaan dit, hoe verskriklik, vir ewig te laat wees!

So, kind van God –
Laat jy en ek ons Wil wat ons het, omdat ons na die beeld van ons Here geskape is, om dit so te stel, reg gebruik.
Luister wat sê Jesus:

MRK 13:35-37 
35 Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;
36  dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.
37  En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!

Onthou wat met die 5 dwase maagde gebeur het, wat onverhoeds verras was.
As jy nou hierdie gedagte uit die Woord lees en jy wonder – of is nog beter, bekommerd dat jy afgedwaal het –
Wees baie, baie bly.
Jy is nog nie buite hoorafstand van ons Here wat jou terug roep nie.
Daar was ‘n tyd toe ons Here na jou gekom het, deur iemand of op die een of ander
wyse.
Jy het Jesus toe aangeneem.
Toe het jy op ‘n dag die fatale stap geneem om jou uit Sy arms los te maak en weg te
stap en ek sê weer.
Jy is nog nie “past the point of no return” nie.
Jy is nog nie buite hoorafstand van ons Here se roep agter jou aan nie.  Daarom gaan deur jou gedagtes wat nou deur jou gedagtes gaan en wonder jy of jy nie al amper te ver is nie.

Vir jou sê ons Here vandag deur hierdie skrywe:

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
JAK 4:8  Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. …

Vir jou wat nog volhard en waak, laat ek met hierdie gedeeltes uit die Woord, wat ons Here op my hart vir jou gelê het:

1THS 5:5  Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
1THS 5:6  Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.

Terwyl jy onthou:

OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
OPG 3:22  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Ek het ook ‘n reeks oor Judas Iskáriot geskryf wat jou dalk met nog meer lig op hierdie onderwerp sal help.
Ek stuur dit met liefde op aanvraag aan jou.
Die reeks se naam is: “Is Judas Iskáriot Hemel toe?”
                 

Groete,
Sakkie